Skip to main content
Dieetkundenavorsers kry erkenning van nasionale liggaam

Dieetkundenavorsers kry erkenning van nasionale liggaam

Liezel Engelbrecht
14 Desember 2016

Dr Lisanne du Plessis sê sy word al haar lewe lank voorberei vir wat sy vandag doen. "Ek onthou hoe ek as kind gekyk het hoe my ma, 'n verpleegster in haar jong dae, 'n vrou en haar seun TB-medisyne gee. Sy sou hulle eers soggens iets gee om te eet en hulle dan die medisyne gee wat sy by die mobiele kliniek gekry het.

"Sy het ook alle vroue aangemoedig om hulle babas te borsvoed. Sy het haar eie drie kinders geborsvoed in 'n tyd toe daar al sogenaamde 'geriefliker metodes' beskikbaar was."

Deesdae is Du Plessis 'n senior dosent in gemeenskapsvoeding by die Afdeling Menslike Voeding in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy is boonop een van die voorste kampvegters vir baba- en jongkindvoeding in Suid-Afrika en is onlangs deur die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika (VDSA) vir haar bydrae tot dié gebied vereer. Sy het die VDSA-prys vir uitnemendheid in navorsing en diens, die eerste in sy soort, by die Voedingskongres in September vanjaar ontvang. Dié geleentheid word elke twee jaar gesamentlik deur die Voedingsvereniging van Suid-Afrika en VDSA aangebied.

"Op 'n professionele vlak is ek baie trots daarop dat ek erkenning ontvang het van my portuur op die gebied waarvoor ek soveel passie het.

"Op 'n persoonlike vlak is dit vir my 'n 'wow'-oomblik wat my baie nederig maak! Ek het nog so baie om te doen en te leer. Ek het die erkenning gevier saam met wonderlike kollegas wat oor my pad gestuur is en my onvoorwaardelik ondersteun."

Du Plessis het al tot meer as 25 geakkrediteerde navorsingsartikels en talle voordragte by internasionale en nasionale kongresse bygedra. Sy glo daar is nog 'n leemte in navorsing oor die faktore wat gedragsverandering kan meebring by verskeie rolspelers om uiteindelik optimale baba- en jongkindvoeding te verseker. En sy deins geensins terug vir dié uitdaging nie. "Ek wil daardie navorsing aanpak!"

Haar wens is dat elke ma, pa, ouma, familielid, werkplek, onderneming, media-agentskap en staatsdepartement uiteindelik optimale baba- en jongkindvoeding sal ondersteun.

"Die onderwerp geniet tans aandag op wêreld-, nasionale en implementeringsvlak, en met reg. Leiers op die gebied van die wetenskap, ekonomie en openbare gesondheid is dit eens dat voeding in die eerste 1 000 dae van 'n kind se lewe een van die beste beleggings is wat ons kan maak om volgehoue ontwikkeling en gesondheid te verseker. Dis ongelooflik bemoedigend! Dit vuur sommer ook my passie verder aan om met trots op hierdie ongelooflike gebied te werk."

*Dr Du Plessis was voorsitter van die VDSA van 2002 tot 2004 en is sedert 2003 verbonde aan die US.