
Die USB se SBA-ontwikkelingsprogram in die Oos-Kaap bekend gestel
Klein ondernemings wat in die Oos-Kaap in bedryf is, sal by 'n nuwe ontwikkelingsprogram baat vind. Dié is 'n gesamentlike onderneming tussen die Kleinsake-akademie (SBA) van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (USB) en die Joe Gqabi Economic Development Agency (JoGEDA). Die doel met die program, wat op 7 November in werking gestel gaan word, is om kleinsake in die Joe Gqabi-distriksmunisipaliteit te help om te groei.
Danksy die ontwikkelingsprogram wat in finansieel benadeelde gebiede in die Oos-Kaap aangebied word – die eerste van dié aard in die streek – sal 26 kleinsake van Aliwal-Noord, Sterkspruit, Lady Grey, Ugie en Maclear oor 'n tydperk van nege maande sakeklasse en mentorskapsteun van akademiese personeel en alumni van die USB kry, geborg deur JoGEDA. Die kursus strek van opleiding in algemene bestuur, finansies, bemarking, rekenaarvaardighede, en die ontwikkeling van sakeplanne tot persoonlike ontwikkeling, mentorskap en praktiese werkswinkels.
Werkloosheid in die gebied beloop meer as 35%, sê mnr. Ayanda Gqoboka, JoGEDA se Uitvoerende Hoof. Hierdie vennootskap sal groot verandering in die gebied meebring. "Die grootste uitdaging vir die KMMO-sektor in die Joe Gqabi-distrik is hoofsaaklik 'n gebrek aan inligting en formele sake-opleiding. Feitlik alle histories benadeelde ondernemers in die gebied is oorlewingsondernemings. Hulle weet nie hoe om hul ondernemings te laat groei, of hoe om hulpbronne in te span om na 'n hoër vlak te beweeg nie. Dié platform is die eerste van sy aard in die streek, en sal ondernemers sterk steun en aanmoedig om hul ondernemings te versterk."
Dr. Marietjie Theron-Wepener, die hoof van die SBA, sê steun vir minder bevoorregte gemeenskappe om sakevaardighede te ontwikkel, maak 'n sleuteldeel van die USB se filosofie en strategie uit. "Ons het die Kleinsake-akademie in 2012 geloods om betekenisvol met die samelewing in wisselwerking te tree deur eienaars van klein ondernemings in gemeenskappe met 'n lae inkomste deur middel van sake-opvoeding en mentorskap te bemagtig.
"Die welslae van eienaars van klein ondernemings wat die afgelope vier jaar in die Wes-Kaap aan die SBA-ontwikkelingsprogram deelgeneem het, was verstommend. Dit het ons aangespoor om na die Oos-Kaap te gaan, waar sulke steun 'n verskil in die lewens en ondernemings van deelnemers aan die program kan maak, en ook in die breë ekonomie van die gebied. Ons het gevind dat die mentorskap-element van die program die grootste sukses verseker. Ons is opgewonde oor die nuwe program in die Oos-Kaap, en hoop dat ons program 'n beduidende uitwerking sal hê."
Die eerste groep deelnemers aan die SBA-ontwikkelingsprogram, wat deur JoGEDA geborg word, is ná 'n streng keuringsproses toegelaat wat ook 'n aanlegtoets en onderhoud ingesluit. Hulle sal hul kursus in Junie 2017 voltooi, en 'n sertifikaat van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool ontvang. Die deelnemers se ondernemings wissel van media, mode-ontwerp, landbou en spyseniering tot bouery.