Skip to main content
Departementele beamptes ontvang sertifikate

Departementele beamptes ontvang sertifikate

Ronél Beukes
01 Julie 2019

Twee personeellede van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het hul studies as deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se PLUS-program suksesvol voltooi.

Mev Ursula Wanza, Assistent- Departementele Beampte by die Departement Ekonomie, en mnr Denver Anthony, Departementele Beampte by die Departement Ondernemingsbestuur, het hul sertifikate op Woensdag, 26 Junie 2019 ontvang.

Die program met die naam Professionele Leerderskappe Universiteit Stellenbosch (PLUS) maak van leerderskappe gebruik om die vaardigheidsvlakke van administratiewe, sekretariële en bestuurspersoneel te bevorder. As deel van hul loopbaanontwikkeling kan personeel formele kwalifikasies (van vlak 3 tot vlak 5 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk) bekom, wat hulle goed te pas kom in alle sektore van die ekonomie.

Prof Christo Boshoff, voositter van die Departement Ondernemingsbestuur en visedekaan: navorsing, het mnr Anthony en mev Wanza namens die fakulteit geluk gewens. “Hulle is nou beter toegerus vir hul onderskeie rolle – én hulle het bewys daarvan."   

Prof Andrie Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie, het gesê: "Hierdie kollegas van ons kan nou groter verantwoordelikheid aanvaar en leierskap toon."

Die PLUS-program, wat in 2006 van stapel gestuur is, het US-personeel die geleentheid gegee om hul vaardighede in onder meer sekretariële en administratiewe werk, spanleierskap, toesighouding, en bestuur op te skerp.

  • Hooffoto:Soete sukses: Saam met Alvira Albertus (heel links in voorste ry), Lorinda Nel (heel links in middelste ry) en Jan Knight (heel links in agterste ry) van US se PLUS-program is die personeel wat hul studies suksesvol voltooi het en hul sertifikate op 26 Junie ontvang het.EBW se Ursula Wanza staan langs Lorinda Nel in die middelste ry terwyl Denver Anthony breed glimlag uit die agterste ry (tweede van regs). Hulle is ook op die foto's hierbo.