Skip to main content
Departement Musiek verower toekenning vir beste bydrae tot die openbare kunste

Departement Musiek verower toekenning vir beste bydrae tot die openbare kunste

Lynne Rippenaar-Moses
20 Maart 2018

Die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Musiek aangebied word, het 'n toekenning vir die Beste Bydrae tot die Visuele Kunste (ingesluit die Openbare Kunste) by die Kultuursake-toekenningseremonie van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKSS) in Maart verower.

Die Departement Musiek is een van 18 departemente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.

Elke jaar nooi die DKSS die publiek om “individue (woonagtig in die Wes-Kaap) wat uitgeblink het en 'n verskil gemaak het in een van die kulturelesake-kategorieë of meer, en in die proses 'n beduidende bydrae tot die Wes-Kaapse regering se bereiking van sy strategiese doelwitte gelewer het," te nomineer. 'n Paneel van kundiges kies daarna die wenners uit die genomineerde persone.

“Die SIKMF is in twee kategorieë genomineer: beste bydrae tot die openbare kunste en beste bydrae tot die uitvoerende kunste. Ons het 'n toekenning vir die beste bydrae tot die openbare kunste by 'n geleentheid van die Wes-Kaapse Minister van Kulturele Sake en Sport, me Anroux Marais, ontvang," sê dr Pieter Grobler, Voorsitter van die Departement Musiek.

“Dit is 'n groot prestasie, nie alleen vir die aansien wat dit vir die Universiteit Stellenbosch (US) inhou nie, maar ook vir die erkenning van die werk wat die Departement Musiek en die SIKMF op die gebied van sosiale verantwoordelikheid verrig."

Grobler sê hy het langs Denis Goldberg gesit – 'n prominente anti-apartheidsaktiviste en die enigste wit gevonnisde in die Rivonia-verhoor, wat tot Nelson Mandela se gevangeskap van 27 jaar gelei het – toe die aankondiging die aand van die toekenningseremonie gemaak is.

Goldberg wat goed met die SIKMF vertroud is, was verheug dat die fees erkenning ontvang en het later die hele Departement Musiek uitgenooi na sy 85ste verjaarsdagviering wat in April by die Hugo Lampbrechts-musieksentrum aangebied word.

Goldberg het as verteller opgetree vir die opdragwerk, Moments in a Life, wat tydens die 2016-SIKMF uitgevoer is. Die musiek is geskryf deur die plaaslike komponis Matthijs van Dijk en is knap verwerk om tekste wat uit Goldberg se outobiografie geneem is, aan te vul.

Die US Museum het ook 'n toekenning ontvang vir die Beste Museum wat Sosiale Insluiting Bevorder, tesame met die Lwandle Migrant Labour Museum.

​​Foto: Dr Pieter Grobler het die toekenning wat deur die Direkteur van Kuns, Kultuur en Taal van die Westelike Provinsie, me Jane Moleleki, oorhandig is, namens die SIKMF ontvang.