Skip to main content
Is daar rede tot kommer oor hepatitis E?

Is daar rede tot kommer oor hepatitis E?

Olivia Rose-Innes
28 Julie 2017

​Hepatitis E geniet baie min publisiteit vergeleke met sy meer bekende familielede, hepatitits A, B en C, maar volgens viroloë van die Universiteit Stellenbosch (US) moet ons wakker skrik wat betref die verandering in die oordrag van hierdie virus. Wêreld Hepatitis-dag word op 28 Julie herdenk.

Infeksie met die hepatitis E-virus (HEV) is wêreldwyd die algemeenste oorsaak van akute virale hepatitis. Die infeksie klaar gewoonlik binne weke op, maar soms veroorsaak dit akute lewerversaking, wat dodelik kan wees. Dit word meestal via die fekaal-orale roete versprei en is tot onlangs beskou as ʼn infeksie wat primêr mense in onderontwikkelde gebiede sonder toegang tot skoon water en goeie sanitasie raak.

Maar daardie prentjie is aan die verander. Wetenskaplikes het opgemerk dat hepatitis E nie meer net onder arm mense voorkom nie, maar ook welgestelde mense in ontwikkelde lande kan raak. Dit lyk of die oordragmeganisme aan die verander is: HEV kom nou as ʼn soönotiese virus voor. Dokters in ontwikkelde lande het HEV voorheen waargeneem in reisigers wat teruggekeer het van gebiede waar dit endemies is. Maar vandag kry mense in lande soos die Verenigde Koninkryk en Frankryk die infeksie van varke en varkprodukte (deur die vleis te eet of deur fekale kontaminasie).

Dr Tongai Maponga, ʼn nadoktorale genoot in die Afdeling Mediese Virologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die US, het ʼn besondere belangstelling in virale hepatitis. Hy is een van ʼn groep US-navorsers wat die eerste geval van HEV-infeksie in ʼn MIV-besmette pasiënt in Suid-Afrika beskryf het.

Volgens Maponga het HEV-infeksie die potensiaal om ʼn chroniese infeksie te word, veral by pasiënte met immuunonderdrukking. In Suid-Afrika met sy talle MIV-besmette pasiënte hou dít ʼn risiko in.

“Ons het die eerste MIV-pasiënt met chroniese HEV-infeksie in 2012 beskryf. Nadat met antiretrovirale behandeling begin is, het sy lewerensieme verhoog (ʼn aanduiding van lewersiekte). Ons het meer voor-die-hand-liggende oorsake oorweeg en eers ʼn jaar later daaraan gedink om vir HEV te toets.

“Ook interessant was die HEV-genotipe (genetiese variasie) wat teenwoordig was. As ʼn siekte wat onder arm mense voorkom, word hepatitis E gewoonlik met genotipes 1 en 2 geassosieer, maar hierdie pasiënt was met genotipe 3 besmet. Dit is ook die genotipe wat onder varke sirkuleer en is dus ʼn aanduiding van soönotiese oordrag.

“Ons het sedertdien nog so vier gevalle van HEV-infeksie gesien. Dit klink dalk na min, maar dit kan beteken die probleem kom meer algemeen in die groter samelewing voor."

Oorplantingspasiënte loop ook die gevaar van chroniese infeksie omdat hulle immuunonderdrukkende behandeling ontvang om orgaanverwerping te voorkom. Die SU-navorsers het in 2015 die eerste geval van HEV-infeksie met genotipe 3 by ʼn nieroorplantingspasiënt beskryf ʼn paar maande nadat die oorplanting plaasgevind het.

Volgens Maponga word pasiënte voor oorplantingsoperasies vir die voor-die-hand-liggende hepatitisvirusse soos B en C ondersoek, maar is daar ʼn geneigdheid om HEV nie te oorweeg nie. “Dit kan derhalwe ongediagnoseerd en onopgemerk bly. Etlike ander gevalle is nou in die literatuur beskryf. In een studie in Asië is bevind ʼn leweroorplantingspasiënt met volgehoue verhoogde lewerensieme het HEV-infeksie by ʼn kameel opgedoen."

In ʼn ander studie wat begin 2017 gepubliseer is, is HEV-infeksie onder bloedskenkers in die Wes-Kaap ondersoek. “Ons het teenliggame gevind wat getoon het sommige skenkers was aan HEV blootgestel, maar gelukkig het ons nie die werklike virale nukleïensure of die antigeen gesien wat daarop sou dui dat hulle besmet is nie."

Hierdie studie het ʼn verskil getoon tussen die seroprevalensie van hepatitis A en HEV. Hepatitis A word via die fekaal-orale roete versprei en as HEV oorwegend deur dieselfde meganisme versprei word, sou hul prevalensies na verwagting soortgelyk gewees het. Dit was egter nie die geval nie – die HEV-prevalensie was laer. Die HEV-seroprevalensie het ook ooreenkomstig rasgroepe verskil: dit was die hoogste onder skenkers van gemengde rasse en die laagste onder swart skenkers. Dit kan ʼn aanduiding wees dat ʼn groter HEV-prevalensie onder groepe met ʼn hoër sosio-ekonomiese status en vleisverbruiksvlakke voorkom.

In gesamentlike navorsing met die Universiteit van Kaapstad, wat die toetsing van 16 kommersiële varktroppe behels het wat varklvleis aan Kaapstad lewer, is bewyse gevind dat die diere op al hierdie plase aan HEV blootgestel of daarmee besmet is.

“As sommige van ons varke HEV-infeksie het, is daar ʼn risiko dat verbruikers van varkvleis besmet kan word. Ons sê nie mense moenie varkvleis eet nie, maar boere moet na hul varke omsien en seker maak hierdie virusse beland nie in die voedselvoorraad nie. Hulle moet voorts omgewingsbesmetting voorkom en nie toelaat dat rioolafvloei van varkboerderye in waterbronne beland nie. Dit sal veral in armer gebiede ʼn bron van kommer wees, omdat mense daar dalk hul drinkwater uit riviere bekom."

Wat die prentjie verder kompliseer, is die feit dat varke nie die enigste gasheer van HEV is nie. Vleis van wildevarke en ander wild, asook seekos, kan ook met die virus besmet wees. Maar die verskeidenheid van moontlike gashere is nog nie ten volle beskryf nie en hul identifisering is ʼn belangrike onderwerp van voortgesette HEV-navorsing, verduidelik Maponga.

Onderskrif: Dr Tongai Maponga