Skip to main content
CP vaar die beste in hortologie

CP vaar die beste in hortologie

Engela Duvenage
23 Junie 2017

CP van der Merwe is vanjaar die ontvanger van die HORTGRO Science/Daan Strydom-toekenning vir die beste student in Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch.

In 2015 het hy as derdejaarstudent ook die Ballie Wahl-toekenning as die beste student in sitrusstudies ontvang, en verlede jaar is sy harde werk met die US Fakulteit AgriWetenskappe se Peroldmedalje beloon.

Van der Merwe het op 'n plaas buite Piketberg grootgeword, en is sedert sy skooldae reeds 'n uitblinker. Hy was in matriek onder meer hoofseun en Dux-leerling van die Hoërskool Piketberg.

Hy vertel dat hy hortologie begin studeer het juis oor sy liefde vir die plaaslewe en sy nuuskierigheid oor hoe plante groei en hoe hulle gemanipuleer kan word om opbrengs te verbeter.

"Ek het hortologie as 'n loopbaanopsie gekies omdat daar 'n wye reeks uitdagings in die bedryf is, en ek baie selde 'nee' kan sê vir 'n uitdaging," noem hy.

Hy glo in die waarde van goeie mentors sodat hy soveel moontlik ervaring en kennis kan opdoen sodat hy homself as hortoloog kan vestig. 

Tans werk hy in die boerdery-afdeling van AnB Investments.

CP se raad aan toekomstige studente: * Kies 'n studieveld waarmee jy kan identifiseer, en wat jy kan geniet. * Doen moeite om vir 'n week of twee op 'n plaas te gaan werk om agter te kom of plante en die aktiwiteite rondom die hortologiebedryf vir jou interessant is of nie. * Gesels met dosente en mense in die bedryf om 'n beter prentjie te kry van wat die werk behels. * Besluit watter aspek van hortologie jou interesseer.

CP se raad aan huidige studente:                                                                   

  • Maak soveel moontlik moeite met jou studies.
  • Tap jou dosente se kennis en inligting, en maak gebruik van elke moontlike leerervaring.
  • Doen vakansiewerk of "job shadow" mense in die bedryf om 'n voet in die deur te kry.
  • Gesels met jou dosente oor toekomstige opsies.
  • Maak tyd vir ou en nuwe vriende – hulle raak jou toekomstige kontakte in die bedryf!

Hierdie persverklaring is namens die Fakulteit AgriWetenskappe van die Universiteit Stellenbosch geskryf en uitgestuur deur Engela Duvenage [email protected]