
Covid-19 onder soeklig by geskiedkundige FGGW navorsingsdag
ʼn Geskiedkundige geleentheid het onlangs by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) plaasgevind toe die 64ste Akademiese Jaardag (AJD) – wat nog elke jaar sedert die fakulteit in 1956 tot stand gekom het gehou is – vir die eerste keer aanlyn gehou is weens die aangaande Covid-19-pandemie.

"Die AJD is ʼn tentoonstelling van ons navorsing en die fakulteit se wêreldklas-pogings om vrae en probleme in die gesondheidswetenskappe aan te spreek," het die gasheer, professor Nico Gey van Pittius, FGGW Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisering, gesê. "In plaas daarvan om die geleentheid te kanselleer, het ons besluit om ʼn nuwe formaat aan te neem vir die dag – ʼn virtuele platform, wat ʼn unieke aanlyn vergaderlokaal bied waar deelnemers kan netwerk, saamwerk en geïnspireer word deur die uitstekende navorsing wat by die FGGW gedoen word."
Volgens Gey van Pittius het die pandemie nie die personeel en studente se entoesiasme vir die geleentheid gedemp nie, en die bywoning het met 75% toegeneem sedert verlede jaar. Vanjaar se program het 'n toespraak deur die FGGW-dekaan, professor Jimmy Volmink ingesluit, asook ʼn prikkelende praatjie deur die gasspreker professor Madhukar Pai, ses spiespunt-voorleggings, en meer as 200 plakkaataanbiedings. Die tema vir die spiespunt-voorleggings en gasspreker het op die Covid-19-pandemie gefokus. “Ons hoop dat hierdie sessies sal help dat navorsers van oor dissiplinêre grense byeenkom om belangrike kwessies te bespreek rondom ʼn sentrale gesondheidsvraagstuk wat van uiterse belang is vir Suid-Afrika en die res van die wêreld," het Gey van Pittius gesê.
In sy dekaansrede het Volmink erkenning gegee aan die fisiese en geestelike uitdagings en lyding wat deur die Covid-19-pandemie teweeggebring is, en mense aangemoedig om goed vir hulleself te sorg in hierdie tyd. Hy het die buitengewone pogings en opoffering van gesondheidsorgwerkers uitgelig, wat “letterlik hulle lewens op die spel plaas om ander te help", asook die van vroue, wat die grootste las van die pandemie dra.
Volmink het ʼn beroep op mense gedoen om barmhartig te wees en sosiale kohesie toe te pas. “As daar ooit ʼn tyd was vir ons as Suid-Afrikaners om ons persoonlike belange opsy te sit, is dit nou. Hierdie is ʼn tyd vir ons om vir mekaar uit te kyk, om saam te staan. Dit is ʼn tyd vir liefdadigheid en vrygewigheid. Dit is nie genoeg om empatie te voel teenoor iemand wat minder bevoorreg is as jy nie, ons moet met mededoë optree," het hy gesê.
“Dit is nie genoeg om vir gelykheid te staan nie, ons moet optree om ongelykheid te verminder en uit te wis. As ʼn fakulteit moet ons ons pogings verdubbel om ʼn gesondheidstelsel te bou wat gehalte gesondheidsorg aan almal verskaf – nie net aan ʼn paar nie. Kom ons verdedig die integriteit van die wetenskap, genereer nuwe kennis, en bevorder bewysgebaseerde besluitneming.
“Dit is ʼn tyd vir ons om op ons gemeenskaplike menswees te fokus, om Ubuntu te bou," het Volmink gesê.
“In sy praatjie het die gasspreker, prof Madhukar Pai, die risiko's bespreek van wat hy die “Covidization" van navorsing noem. Pai, ʼn internasionaal-erkende epidemioloog en Globale Gesondheidskenner aan die McGill Universiteit in Kanada, het die effek wat die Covid-19-krisis op wetenskaplike navorsing het uiteengesit.
Hy het aangevoer dat daar nieteenstaande voordele daaraan is om navorsing te doen wat met Covid-19 verband hou, maar dat die enorme toevloei van belangstelling in die veld, fondse en wetenskaplike fokus van ander navorsingsprioriteite wegneem, wat “baie vermorsing en oortolligheid in die wetenskap" teweeg bring.
Hy het ook gewaarsku dat die gehaasde en slordige navorsing kan lei tot die verlaging van wetenskaplike standaarde en vertroue in die wetenskap kan verweer.
“Alle gesondheidsnavorsing kan nie oor ʼn pandemie of aansteeklike bedreigings wees nie, en alle infeksiesiektes navorsings kan nie oor Covid-19 wees nie," het Pai gesê.
“Diversiteit in navorsing is krities vir enige samelewing, en dit sal ons help om beter voorbereid te wees vir die volgende krisis."
Die plakkaataanbiedings deur personeel, nadoktorale genote en studente was belyn met die sewe tradisionele multidissiplinêre bane, naamlik: 1) infeksiesiektes; 2) nie-oordraagbare siektes; 3) geestesgesondheid en neurowetenskappe; 4) geweld, beserings, trauma en rehabilitasie; 5) moeder- en kindergesondheid; 6) die versterking van gesondheidstelsels en primêre gesondheid; en 7) perioperatiewe wetenskappe.