
Chad en Cameron keer terug na Coetzenburg
Vir Suid-Afrika se swemheld Chad le Clos sal die terugwen van verlore eer hierdie naweek voorop in sy gedagte wees wanneer hy in Stellenbosch deelneem.
Hy sal die Swem Grand Prix wat van 24-26 Februarie by Coetzenburg gehou word as voorbereiding vir die SA Nasionale Akwatiese Kampioenskap in April gebruik.
Sy uiteindelike doel is om vir die 2017 FINA Wêreldkampioenskap in Hongarye te kwalifiseer en die 200 m-vlinderslagtitel terug te wen. Le Clos het die Olimpiese titel in hierdie item in 2012 en die wêreldkampioenskaptitel in 2013 gewen. By die 2015 FINA Wêreldkampioenskap is Le Clos in 'n tweede plek gedwing deur die Hongaar Laszlo Cseh en by die 2016 Olimpiese Spele in Rio moes Le Clos met die vierde plek tevrede wees toe Michael Phelps met goud weggestap het.
"Ek wil daardie 200 m-vlinderslagtitel terugwen," het Le Clos hierdie week gesê.
"Dit spook nou al by my van verlede jaar af. Ek het dit al vantevore gesê – dit was die slegste resies van my loopbaan. Ek sou baie graag wou hê Michael moet terugkeer, maar hy gaan vir seker nie. Die enigste manier om verlore eer terug te wen, sal wees om daardie goud in Hongarye te wen."
Hy het ook die 200 m-vryslag- en 100 m-vlinderslagtitel in sy visier.
Le Clos sal hierdie naweek in vier items in aksie wees: die 100 m- en 200 m-vryslag en die 100 m- en 200 m-vlinderslag.
"Dit voel goed om na Stellenbosch terug te keer – volgens my is dit een van die beste fasiliteite in die land en die byeenkoms het altyd 'n fantastiese atmosfeer."
Dit is die derde keer dat 'n Grand Prix-byeenkoms by Coetzenburg se ultramoderne Olimpiese standaard-swembad gehou sal word.
Le Clos het verlede jaar al vier items waaraan hy deelgeneem het, gewen terwyl Olimpiese silwermedaljewenner Cameron van der Burgh, wat vir die tweede keer terugkeer, die 50 m-borsslagitem gewen het.
Pierre de Roubaix, swem se hoofafrigter en sportbestuurder aan Universiteit Stellenbosch, het gesê dit is 'n eer om hierdie byeenkoms in samewerking met Wes-Kaap Akwaties en Swem Suid-Afrika aan te bied.
"Ons is baie in ons skik dat bekende swemmers soos Chad en Cameron keer op keer na hierdie byeenkoms terugkeer. Dit gee ook aan ons plaaslike swemmers 'n geleentheid om teen die beste in die land deel te neem."
Matieswemmer en SA 400 m-vryslagkampioen Caitlin Kat sal in die middelafstande in aksie wees. Emma Chelius, wat drie medaljes van die Durban-been van die Grand Prix-reeks huis toe gebring het, sal ook deelneem.
Maties Swem se SA Junior-deelnemer van Hoër Meisieskool Rhenish, Kiara Noades, wat twee goue medaljes in Durban gewen het, sal die geleentheid hê om voor haar tuisskare te swem.
Kaartjies vir die byeenkoms kan van Maandag 20 Februarie tot Donderdag 23 Februarie tussen 13:00 en 14:00 voor die Maties Gimnasium by Coetzenburg gekoop word. As daar beskikbaar is, sal dit ook by die hek verkoop word.
Navrae by 021 808 4925 (slegs oggende) of [email protected]
Program en kaartjiepryse:
24 Februarie 2017 – 17:00 uitdunne R50 per persoon 25 Februarie 2017 – 10:00 finale R100 per persoon 25 Februarie 2017 – 17:00 uitdunne R50 per persoon 26 Februarie 2017 – 10:00 finale R100 per persoon
Groeppakkette is ook op aanvraag beskikbaar.