Skip to main content
Cape Union Mart-baas deel sy sakewysheid by USB-Direkteurstafel

Cape Union Mart-baas deel sy sakewysheid by USB-Direkteurstafel

Heindrich Wyngaard
05 April 2016

​Prof Piet Naudé, direkteur van die USB, het onlangs die uitvoerende voorsitter van die Cape Union Mart Groep, Philip Krawitz, as gasspreker by 'n USB-Direkteurstafel* onthaal.

In sy toespraak het Krawitz 'n wye verskeidenheid onderwerpe aangehaal, soos hoe die onderneming begin is, die soort boeke wat hy lees, die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar en hoe hy reken dit opgelos kan word, sowel as wat hy met die ontslape innoveerder Steve Jobs in gemeen het: "Ons het albei opgeskop op universiteit."

Gaste het ingesluit Bulelwa Makalima-Ngewana, uitvoerende hoof van die Cape Town Partnership, Lizé Lambrechts, Santam se uitvoerende hoof, en Vernon de Vries, direkteur: Korporatiewe Aangeleenthede by Distell.

Krawitz het beklemtoon hoe belangrik dit is om in Suid-Afrika te glo.

"Solank as wat ons in hierdie land woon, moet ons help sy potensiaal te verwesenlik. Ons het vir te lank die ware rykdom van Suid-Afrika geïgnoreer, naamlik dit wat in die gehalte van die mense gesetel is," het hy gesê.

Oor die aanstelling van 'n opvolger as uitvoerende hoof, het hy gesê dit is belangrik dat sodanige persoon beter as hy is ten einde groei te verseker. Krawitz het gesê hy en sy uitvoerende hoof, Andre Labuschagne, wat ook die Direkteurstafel bygewoon het, "het 'n verhouding wat absoluut op wedersydse vertroue en respek vir mekaar gebaseer is".

* Die USB-Direkteurstafel- reeks geleenthede is in 2015 deur USB se Belangegroepverhoudinge-afdeling geïnisieer en vind kwartaalliks plaas.