
Buro vir Ekonomiese Ondersoek het 'n nuwe direkteur
Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) by die Universiteit Stellenbosch het 'n nuwe direkteur, professor Johann Kirsten. Hy is die Buro se sesde direkteur sedert dit in 1944 tot stand gekom het.
"Ons is verheug oor die aanstelling van prof Johann Kirsten," het prof Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, gesê. "Hy is 'n akademikus met internasionale aansien, 'n ervare akademiese leier en hy neem aan nasionale beleidsake op die hoogste vlak deel.
"Sy kennis van die sakewêreld, sowel as akademiese leierskap oor vele jare, sal van onskatbare waarde vir die BEO wees namate die BEO verder bou aan 'n uitstekende reputasie vir relevante navorsing van hoogstaande gehalte."
Volgens prof Kirsten sien hy uit na die interessante uitdaging om na 'n ander, maar verwante studieveld te beweeg. Hy het voorheen met die uitdagende en emosionele kwessies van landboubeleid en grondhervorming by die Universiteit van Pretoria gewerk.
"Ek hoop om 'n belangrike bydrae te lewer tot die behoud van die beeld en reputasie van die BEO wat waardevolle insigte oor die prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie lewer," het hy gesê.
"Namate die ekonomie worstel om in reële terme volhoubaar te groei, werk te skep en armoede en ongelykheid te verminder, is dit miskien ook tyd vir die BEO om meer spesifieke navorsing oor beleidsake te doen. Ek is oortuig daarvan dat die kundigheid, gerespekteerde data en inligting van die BEO Suid-Afrika met dié kritieke vraagstukke kan help."