
Boek ondersoek armoede en ongelykheid
'n Boek waarvan die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Ingrid Woolard, die mederedakteur is, is op Dinsdag, 23 Julie 2019 by die Universiteit Stellenbosch bekend gestel. Die boek ondersoek belangrike en ingewikkelde vraagstukke rakende armoede en ongelykheid in Suid-Afrika.
Poverty & Inequality: Diagnosis, Prognosis, Responses, is deel van die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se reeks met die titel State of the Nation.
Die ander redakteurs is proff Crain Soudien, uitvoerende hoof van die RGN en Vasu Reddy, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by die Universiteit van Pretoria. 'n Verskeidenheid akademici en kundiges het ook bydraes gelewer.
Die boekbekendstelling is deur prof Servaas van der Berg, leier van die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid in die Departement Ekonomie, aangebied. Prof Sandra Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte by US se Regsfakulteit, en prof Usuf Chikte, hoof van die Departement Globale Gesondheid by US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het kort besprekings gelewer.
In sy inleiding het Soudien gesê die doel van die boek is om sin te maak van die vraag: Is daar 'n eiesoortigheid aan die aard van armoede en ongelykheid in Suid-Afrika wat ons onderskei van ander plekke in die wêreld?
“In wese is dit ˈn poging om die ekonomiese toestand te bespreek, asook ons gedagtes oor waarheen die ekonomiese diskoers ons moontlik kan lei,” het Soudien gesê.
Volgens Woolard verg die ingewikkelde vraagstukke oor armoede en ongelykheid in Suid-Afrika – en spesifiek die wyse waarop talryke onderliggende faktore bymekaarkom – van ons om te verduidelik waarom hierdie verskynsels so blywend en volhardend is.
Die verskeidenheid hoofstukke in die boek laat die kollig op 'n aantal armoede- en ongelykheidsdimensies val, en lei lesers na ˈn toekomstige moontlikheid waarin die leemtes wat ontstaan het uit voortgesette kringlope van armoede, uitsluiting en ongelykheid sal krimp, of selfs heeltemal uitgekakel word.
“Ons hoop dat die boek lesers sal oorreed om die breër konteks van diversiteit te probeer verstaan en om konteks, plek, geskiedenis, kultuur en die wet te ondersoek ten einde betekenisvolle antwoorde op die armoede- en ongelykheidskrisis te vind,” het Woolard verduidelik.
Die grootste pluspunt van die boek is die feit dat dit nie probeer om die ingewikkelde kwessies rondom sosiale en ekonomiese transformasie te vermy nie, het Liebenberg gesê.
“Die verskillende bydraes oorweeg die streeks- en internasionale konteks van Suid-Afrika se stryd teen armoede en ongelykheid, die lang skaduwee van Suid-Afrika se koloniale- en apartheidsgeskiedenis, en die sosiale verhoudings wat verskeie reaksies op materiële ontneming en uitsluiting beïnvloed het. Die boek wys wat bereik kan word met 'n multidissiplinêre navorsingsbenadering tot ingewikkelde sosiale en ekonomiese kwessies,” het sy bygevoeg.
In die voorwoord word benadruk dat die boek lesers daaraan wil herinner dat die werklikheid van armoede en ongelykheid steeds strukturele uitdagings onderweg na die vestiging en kwaliteit van 'n demokratiese staat is.
Liebenberg bevestig hierdie stelling. "Met Suid-Afrika wat gereeld met verwoestende staatskaping en onderlinge politieke twis te doen het, herinner die boek ons aan wat op die spel is indien ons nie die materiële lewensomstandighede van almal in Suid-Afrika verbeter nie. Die boek stel 'n aantal weë voor wat verken kan word om armoede en ongelykheid reg te stel. Sodoende help dit om die kollig opnuut op die brandende, onopgeloste vraagstuk van ekonomiese geregtigheid in Suid-Afrika te laat val."

- Hooffoto deur Anton Jordaan:V.l.n.r. is prof Sandra Liebenberg van US se Regsfakulteit; twee van die drie redakteurs, professors Crain Soudien van die RGN en Ingrid Woolard van US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; prof Usuf Chikte van die US Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe; en die gasheer van die geleentheid, prof Servaas van der Berg, wat die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid in die US Departement Ekonomie lei.