Skip to main content
Blokketting-tegnologie kan korrupsie in openbare verkryging keer

Blokketting-tegnologie kan korrupsie in openbare verkryging keer

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
26 Oktober 2018

Suid-Afrika verloor jaarlikse miljarde rande weens korrupsie in openbare verkrygings. Aangesien huidige maatreëls nie regtig werk nie, moet ons dalk na blokketting-tegnologie begin kyk as ʼn moontlike oplossing.

Só het prof Sope Williams-Elegbe van die Departement Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch in haar intreerede op Donderdag (25 Oktober 2018) gesê. Sy het gepraat oor Public procurement, corruption and blockchain technology: A preliminary (legal) inquiry.

Williams-Elegbe het gesê  openbare verkryging  ̶  die proses waardeur die regering die goedere, dienste en arbeid koop wat nodig is om sy funksies te vervul en openbare welsyn te bevorder  ̶  word  korrupsie gekenmerk en huidige maatreëls het min gedoen om dit te bekamp.

“Openbare verkryging is die hoofarea van staatsbesteding naas toelaes en maatskaplike programme. In Suid-Afrika is die jaarlikse verkrygingsbesteding R800 miljard, en daar word geraam dat ongeveer 50% hiervan weens korrupsie verlore gaan."

Intree regte 18-3-4.jpg

“In Suid-Afrika hou 50% van die klagtes wat by die Kantoor van die Openbare Beskermer ingedien word met probleme rondom die openbare verkrygingsproses verband. Die onlangse verslae van die ouditeur-generaal het grootskaalse toenames in bedrieglike uitgawes wat aan verkrygingsbesteding gekoppel is beklemtoon."

Williams-Elegbe het gesê blokketting-tegnologie kan help om hierdie probleme aan te spreek.

“Die fassinerende aan blokketting-tegnologie is dat dit 'n gedigitaliseerde en 'n gedesentraliseerde openbare register van transaksies is."

“Elke kopie van die rekord wat deur rekenaars op die netwerk gehou word, is identies. Dit beteken dat die rekord van inligting of transaksies nie deur enige deelnemende partye verander kan word nie, tensy dit deur almal verander word."

“ ʼn Blokketting-verkrygingsplatvorm kan die proses om potensiële bieërs te identifiseer en te verifieer verbeter, die registrasie van kontrakteurs vereenvoudig, 'n gedeelde inligtingsbewaarplek oor vorige prestasie van kontrakteurs se vorige prestasie verskaf en intydse verslagdoening moontlik maak."

Williams-Elegbe het bygevoeg dat “die uitvoering van openbare verkryging deur middel van 'n blokkettingsplatvorm nie die aard van verkrygingsregulering behoort te verander nie, maar verkryging meer doeltreffend en deursigtig kan maak en minder geskille tot gevolg kan hê."

Sy het genoem dat blokketting-tegnologie ter ondersteuning van die virtuele of digitale kriptogeldeenheid Bitcoin ontwikkel is. Sy het bygevoeg dat dit tans gebruik word om grondtitels in Indië, Honduras, Georgië, Swede, Brasilië, Rwanda en Ghana te registreer. Dubai beplan om alle regeringsdienste teen 2020 na 'n blokketing-platvorm te skuif.

Williams-Elegbe het gesê maatskappye soos Walmart, Nestle en Unilever maak reeds van 'n blokketting-stelsel gebruik om voedsel in hul voorsieningskettings na te spoor.

Sy het ook die aandag gevestig op die gebruik van sogenaamde slim kontrakte (smart contracts) as ʼn vorm van blokketting-tegnologie in openbare verkryging en gesê dit stel partye instaat om digitale bates van waarde direk oor te dra, sonder dat enige instelling as tussenganger vir die uitruil hiervan optree.

“ ʼn Slim kontrak is 'n kontrak wat gevorm en uitgevoer word (dikwels met behulp van kriptogeldeenheid) via die blokketting. Kontrakbepalings word in 'n rekenaarkode omskep, en hierdie kode word na die blokketting oorgedra en die stelsel funksioneer volgens die kode om uitvoering aan die kontrak te gee."

“Die gebruik van slim kontrakte bied baie verskillende eienskappe soos vertroue, onherroeplikheid, outonomie en desentralisasie wat nie eie is aan tradisionele kontrakte nie."

Williams-Elegbe het bygevoeg dat slim kontrakte die probleme van te veel tussengangers en die ongelykmatigheid van inligting kan help oplos.

“ʼn Blokketting-gebaseerde verkrygingskontrak is om verskeie redes aantreklik: Die ouditering en verifiering van transaksies is ongeëwenaard in vergelyking met papier- en elektroniese verkrygingsisteme waar bedrog en manipulasie aan die orde van die dag is. Die transaksierekord kan ook die data verskaf wat gebruik kan word om nie-mededingende praktyke in die verkrygingsproses te ontbloot, en die deursigtigheid wat eie is aan die blokketting voldoen aan die hoogste standaarde vir openbare verantwoordbaarheid."

Williams-Elegbe het gesê hoewel dit nog ʼn tydjie kan duur, sal blokketting-platvorms toenemend deur die openbare sektor gebruik word.

“Soos met die meeste nuwe idees, moet blokketting-tegnologie ook struikelblokke oorkom. Dit sluit in 'n afkeer van nuwe tegnologieë, die integrasie met ouer rekenaarstelsels, die koste van aanwending en belanghebbendes se onderstening."

  • Hooffoto: Met vergunning van Pexels.
  • Foto 1: Proff Eugene Cloete, Vise-rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Sope Williams-Elegbe, en Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerheid, by die intreerede. Fotograaf: Anton Jordaan.