Bewaringslandbou kan mielie-opbrengste hupstoot gee
Mielieboere wat geenbewerking of bewaringslandbou op hul plase wil toepas sal kan baat uit heelwat beter opbrengste tydens droër seisoene, omdat hierdie boerderymetodes hulle toelaat om aanplantings heelwat digter te doen.
So sê dr Stephano Haarhoff, wat pas sy doktorsgraad in agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Sy studieleiers was dr Pieter Swanepoel en prof Nick Kotzé van die US Departement Agronomie.
Hy het in sy navorsing gekyk na die invloed wat plantdigtheid en rywydte het op droëland-mielieproduksie in geenbewerkings- en bewaringslandboustelsels in Noordwes en Oos-Vrystaat. Hy reken egter dat besproeiingsboere van die beginsels wat uitgelig is sal kan oorweeg.
Bewaringslandbou is 'n omvattende benadering van grond- en gewasbestuur wat die langtermyn volhoubaarheid van boerderystelsels ten opsigte van winsgewendheid en die behoud van die omgewing voorstaan.
“Met bewaringslandbou word agronomiese beginsels toegepas soos geenbewerking, die diversifikasie van gewasse, die voortdurende onderhoud van 'n grondbedekking deur gewasse of oesreste, en die integrasie van lewende hawe in 'n plaassisteem," vertel dr Haarhoff, wat as kleingraannavorsings- en ontwikkelingslandboukundige in die Paarl werk. “Dit kan baie uitdagend wees, want soveel hang af van wisselende grond- en klimaatstoestande."
“Die sukses van bewaringslandbou en geenbewerking is slegs moontlik wanneer al hierdie agronomiese praktyke saam toegepas word," waarsku hy.
In Suid-Afrika word droëland-mielieproduksiestelsels gekenmerk deur intensiewe grondbewerking, en die uitsluitlike aanplanting van mielies jaar na jaar. Dit lei dikwels tot grootskaalse gronderosie, met hulpbronne soos water en voedingstowwe in die grond wat nie optimaal benut word nie.
“Boere volg nog dikwels agronomiese praktyke wat op verouderde navorsing gebasseer is," sê dr Haarhoff. “Nuwe mieliekultivars en verbeterde plantertegnologie maak dit deesdae vir hulle moontlik om anders te dink oor die langtermyn volhoubaarheid van hul boerderystelsels, deur byvoorbeeld bewaringsboerdery te oorweeg."
Sy navorsing wys dat grootskaalse erosie in veral produksiestreke met hoë reënval soos KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat bekamp kan word deur die gebruik van dekgewasse, gewasrotasie en die bestuur van genoegsame gewasoesreste.
“Dieselfde beginsels geld vir die droër westelike produksiestreek (byvoorbeeld Noordwes), maar daar is dit moeiliker om die beginsels toe te pas weens die laer reënval," verduidelik dr Haarhoff. “Aangesien water die beperkende faktor vir mielieproduksie regoor die grootste deel van Suid-Afrika is, moet boerderybeginsels die opgaar en behoud van grondwater bevorder. Die grootskaalse gronderosie wat tans plaasvind regoor ons land se mielieproduksiestreke moet bekamp word, aangesien dit 'n direkte impak het op grond se vrugbaarheid en waterstoorvermoë."
Hy reken die integrering van vee soos beeste en skape in hierdie boerderystelsels kan boere se kontantvloei deur die jaar verbeter.
“Deur dekgewasse en oesreste sinvol te benut word nog 'n bron van inkomste geskep," vertel dr Haarhoff.
Hy sê dit baat nie dat mielieboere wat bewaringslandbou toepas steeds hou by bestaande praktyke wanneer dit kom by plantdigtheid en rywydtes nie. Deur aanpassings te maak kan hul boerderystelsels heelwat meer produktief word en word opbrengstabiliteit oor die langtermyn bevorder.
In die droër westelike produksiestreek van die land word daar in konvensionele boerderystelsels, waar intensiewe bewerking aan die orde van die dag is, tussen 14 000 en 24 000 plante per hektaar geplant. Rye word tussen 1.2 meter en 2.1 meter uitmekaar geplant.
Dr Haarhoff se navorsing wys dat boere in hierdie streek wat geenbewerking of bewaringsboerdery toepas, gerus kan mik vir 35 000 tot 40 000 plante per hektaar, met rye wat 0.52 tot 0.76 meter uitmekaar geplant word. Hy het bevind dat die 0.76 meter rywydte in droë seisoene meer voordelig as die nouer rywydte is.
Die somme lyk ook anders vir oostelike produksiestreke van die Oos-Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal wat reënval van meer as 600 mm per jaar geniet. Hier word tans in konvensionele boerderystelsels tussen 35 000 en 45 000 plante per hektaar geplant, met rywydtes tussen 0.91 meter en 1.2 meter. Indien geenbewerking of bewaringslandbou in hierdie streke gevolg word, kan dit moontlik verander na 50 000 tot 60 000 plante per hektaar wat in rywydtes tussen 0.52 meter en 0.76 meter geplant word.
“Deur die plantdigtheid te verhoog en rywydte nouer te maak word sonlig en grondwater meer effektief benut, en word graanopbrengste verhoog," noem dr Haarhoff, wat van sy proewe in Ottosdal en Reitz gedoen het.
Dr Haarhoff het verder gevind dat plantdigtheid onder geenbewerking nie direk 'n impak het op wortelgroei nie. Gronddiepte en seisoenale reënval speel 'n groter rol.
“Onder geenbewerking en in lae reënvalstreke is mieliewortels hoofsaaklik in die dieperliggende grondlae gekonsentreer sodat die plant voldoende grondwater kan bekom tydens droë periodes," verduidelik hy.
Hy sê dis daarom belangrik dat boere enige gekompakteerde grondlae ophef voordat hulle oorskakel na geenbewerking.
Hy sê dat hy in een van sy proewe “baie belowende" volumes wortels op 'n gronddiepte van 65 cm na slegs 30 dae se groei waargeneem het. Die wortelnavorsing is in samewerking met dr Elmi Lötze van US Departement Hortologie gedoen.
“Baie boere glo optimale mieliewortelgroei is nie moontlik sonder grondbewerking nie, maar ons wortelnavorsing het gewys dis moontlik onder dié toestande," vertel dr Haarhoff.
Sy navorsing is onder meer ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gewasproduksie, die Mielietrust, Graan SA, AgriSETA en die Nasionale Navorsingstigting.
Dr Haarhoff gee die volgende raad aan mielieboere wat bewaringslandbou wil toepas:
* Maak seker die boerderypraktyke wat toegepas word ten opsigte van grond- of gewasbestuur is ekonomies en omgewings volhoubaar in die langtermyn en bied nie net korttermyn-oplossings nie.
ii) Deur die gebruik van die regte boerderypraktyke wat by jou eie boerdery se uitdagings en behoeftes pas kan die impak van klimaatstoestande soos wisselende reënval verminder word. Geen twee mielieboere se boerderystelsels stem ooreen nie. Fokus op die unieke faktore wat binne jou eie grensdrade teëgekom word.
iii) Hulpbronne, soos beskikbare grondwater en -voedingstowwe kan maksimaal benut word deur die korrekte boerderypraktyke te volg. Eksperimenteer op klein skaal op jou eie plaas met alternatiewe boerderymetodes en benaderings – ongeag wat die bure sê.
iv) Die meeste Suid-Afrikaanse mielieboere ondervind probleme omdat hulle nie grondbestuur optimaal toepas nie. 'n Goeie mielie-oes begin by die grond- en weersomstandighede, waar die boer slegs eersgenoemde kan bestuur. 'n Boer moet grondbestuur só benader dat dit die sukses van alternatiewe boerderypraktyke (soos die verhoging van plantdigtheid) kan bevorder, en terselfdertyd ook die negatiewe impak van wisselende weersomstandighede kan versag.