
Bertina Engelbrecht tot Raad van Universiteit Stellenbosch benoem
Me Bertina Engelbrecht, die hoof- uitvoerende beampte van die Clicks-groep, is as lid van die Universiteit Stellenbosch (US) Raad benoem*.
Engelbrecht sal van 1 September 2023 tot Augustus 2027 in die Raad dien.
Dr Nicky Newton-King, Voorsitter van die US Raad, sê dit “is voorreg dat iemand van Bertina se kaliber by die Raad van die Universiteit Stellenbosch aansluit. Ons sien uit na haar kundige bydraes oor kwessies wat onder meer wissel van menslike kapitaalontwikkeling tot bestuur, volhoubaarheid en belanghebberdeelname".
Sê Engelbrecht: “Ek is opgewonde oor die vooruitsig om by die Universiteit Stellenbosch se Raad aan te sluit en om saam met my mederaadslede te werk om 'n betekenisvolle bydrae tot die volgehoue sukses van die Universiteit te lewer."
Engelbrecht het aan die Universiteite van die Wes-Kaap en Kaapstad in die regte studeer en het 'n bestuursontwikkelingsprogram aan die Stellenbosch Bestuurskool voltooi. Sy is in 1989 as 'n prokureur van die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat. Sy het al verskeie senior bestuurs- en leierskapsposte in 'n verskeidenheid maatskappye beklee. Sy het eers as groepsdirekteur van onderskeidelik korporatiewe sake en menslike hulpbronne van die Clicks-groep gedien voordat sy in Januarie 2022 as HUB van die groep aangestel is. Sodoende het sy die eerste swart vrou in Suid-Afrika geword om 'n genoteerde kleinhandelgroep te lei.
* Twee raadslede word deur die US Raad self aangewys, terwyl die res verteenwoordigers van verskeie belanghebbergroepe van die Universiteit is waaronder die Konvokasie, Senaat, donateurs, aanstellings deur die minister van Hoër Onderwys en die Studenteraad.