Skip to main content
Armoede ondermyn steeds vroue se waardigheid

Armoede ondermyn steeds vroue se waardigheid

Dr Zethu Mkhize
16 Augustus 2021

Die vroue-optog van 1956 was 'n waterskeidingsgeleentheid, aangesien vroue van alle rasse verenig het om 'n onderdrukkende stelsel uit te daag waaronder vroue uitgebuit en ontneem is van ekonomiese geleenthede, met geen aandeel in die land se welvaart nie.

Ons vier Vrouedag om bewustheid te skep van die onregverdighede teenoor vroue, ondersoek en raak betrokke by die huidige uitdagings waarvoor vroue te staan kom en identifiseer moontlike reaksies op die uitdagings. Armoede is een belangrike uitdaging wat steeds die waardigheid van vroue in Suid-Afrika ondermyn.

Die toestand om nie 'n voldoende inkomste vir 'n persoon se basiese behoeftes te hê nie, kan uitgeskakel word deur 'n behoorlike werk met behulp van 'n goeie opvoeding te bekom. Apartheid was 'n stelsel van rassesegregasie en ongelykheid, met die onderdruktes wat aan onderwysmarginalisering onderhewig was, wat gevolglik hulle kans op beter werksgeleenthede beperk het. Swart, bruin en Indiër-vroue is gemarginaliseer, wat beteken het dat hulle lae vlakke van onderwys gehad het, wat hulle vermoë beperk het om toegang tot behoorlike werk te kry. Die onderdrukkende apartheidswette het 'n ontstellende uitwerking op die ekonomiese welstand van swart vroue gehad. Die trekarbeiderstelsel het veral tot die armoede van die swart vrou bygedra.

Armoede kom wydverspreid regoor Suid-Afrika voor, maar nie alle vroue ervaar dit op dieselfde vlak nie. Armoede is meer algemeen onder die swart en bruin rassegroepe. Dit is ook meer algemeen onder landelike as onder stedelike vroue. Terwyl sommige vroue generasie-armoede ervaar, ervaar ander situasie-armoede. Die apartheidstelsel het die meeste gesinne in generasie-armoede gedompel. Dit is duidelik te sien in herhaalde siklusse van armoede in 'n huishouding waar meer as twee geslagte begunstigdes van maatskaplike toelaes is.

Die beste manier om voor 1994 aan armoede te ontsnap, was om 'n behoorlike opvoeding te kry wat 'n goed betaalde werk sou waarborg. Hoewel sommige vroue aan generasie-armoede kon ontsnap, is ander steeds in die siklus van armoede vasgevang. Die meeste vroue wat in armoede leef, het geen beroepsopleiding en geen toegang tot behoorlik betaalde werk nie.

Vroue regoor rassegroepe en kulture heen kan situasie-armoede ervaar wanneer hulle inkomste en steun as gevolg van 'n skielike gebeurtenis verminder word.

Dit kan byvoorbeeld die verlies van werk, egskeiding, die dood van 'n gade of versorger wees. Enkellopende vroue met kinders tel onder diegene wat finansieel die kwesbaarste is, aangesien hulle meestal laag besoldigde werk doen, maar ook primêr vir die fisiese en finansiële sorg van hulle kinders verantwoordelik is.

Talle vroue verval as gevolg van die uitwerking van die covid-19-pandemie in situasie-armoede. Die ekonomiese welstand van hierdie vroue word benadeel terwyl hulle sukkel om hulle gesinne te voed. Brandstofprysverhogings, buitensporige voedselpryse en reuse- munisipale rekeninge is konstante finansiële verpligtinge waarvoor enkellopende vroue te staan kom.

Hoewel die meeste vroue in hierdie kategorie gerus is dat hulle werksekerheid het, word hulle vermoë om ekonomiese keuses te maak, benadeel deur die feit dat hulle geneig is om onverstandige keuses te maak soos polisse te sedeer en voortydig uit beleggings te onttrek om na hulle gesinne om te sien. Vroue gaan skuld aan, wat hulle toekomstige finansiële sekuriteit in gevaar stel. 

Wat is bereik?

Suid-Afrika het die geweldige impak van armoede op vroue erken, vandaar die inisiatiewe wat op hulle ekonomiese bemagtiging gemik is. Vroue het toegang gekry tot sakegeleenthede en sakebefondsingskemas.

Die nasionale finansiële bystandskema vir studente (NSFAS) verskaf finansiële bystand aan voorgraadse studente om te help om die koste van hulle tersiêre onderrig te betaal nadat hulle met hoërskool klaargemaak het. Deur NSFAS kan vroue 'n behoorlike opvoeding kry en goeie werk verseker, en sodoende aan armoede ontsnap.

Wat is nie bereik nie? 

Die idee van die “verdienstelike armes" moet weer ondersoek word vir 'n breër en meer realistiese begrip daarvan. Dit sal help om te bepaal hoe ondersteuning vir vroue op verskillende vlakke van armoede verskaf kan word. Die huidige kortsigtige siening van die begrip skep die indruk dat sommige vroue meer verdienstelik is as ander, iets wat nie in die belang van gelykheid is nie.

Die betaalgaping tussen vroue en mans is steeds vir vroue 'n uitdaging. Dit druk vroue dieper in die skuldgat in namate die lewenskoste styg. Onderwysvlakke en werkservaring is 'n paar van die strukturele redes vir die geslagsbetaalgaping wat dringend uitgeskakel moet word. Wat moet gedoen word? Die regering moet die voortou neem in die stryd om armoede uit te skakel, en moet vroue na gelang van hulle ervaring van armoede ontbondel. Die regering moet voortgaan om hulp te verleen aan vroue wat in akute armoede leef, maar moet nie diegene afskeep wat in situasie-armoede leef en in akute armoede kan verval nie.

Terwyl staatstussenkoms ten opsigte van werklose vroue lof verdien, is daar 'n behoefte aan ernstige aandag wat gegee moet word aan werkende vroue wie se penarie deur die uitwerking van covid-19 vererger word.

Die idee om 'n sekere persentasie van hulle pensioen in kontant om te skakel, klink goed, maar 'n mens moet versigtig wees vir die implikasies daarvan vir die toekoms. Word daar aandag geskenk aan hoe hierdie onttrekking hierdie werknemers ná aftrede sal raak?

Armoede is grootliks 'n verdiensteprobleem. Dit sou vir werkende, belastingbetalende vroue meer betekenis hê om Vrouemaand te vier as hulle vir die maand van Augustus van die betaal van belasting kwytgeskeld kan word. Dit sou groot verligting bring vir vroue oor die algemeen en vir enkellopende vroue met kinders in die besonder. Deur die voorgestelde tussenkomste sal Suid-Afrika hopelik betekenisvolle geslagsgelykheid kan bewerkstellig.

Dr Zethu Mkhize

Hoof van Transformasie

Universiteit Stellenbosch