
Afrika se wiskundiges verdien meer erkenning
Wiskundiges in Afrika help om innovasie op die kontinent te dryf, maar kry nie altyd die erkenning wat hulle toekom nie.
Só het prof Oluwole Makinde van die Departement Wiskunde in die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch op Donderdag (23 Augustus 2018) gesê. Hy het sy intreerede getiteld Applied mathematics makes innovation feasible gelewer.
Makinde het gesê die werk van Afrika se wiskundiges, veral toegepaste wiskundiges, word nie genoegsaam erken nie. Toegepaste wiskunde fokus op wiskundige- en berekeningsinstrumente wat uitdagende en komplekse probleme in die wetenskap, ingenieurswese, besigheidswêreld en industrie kan oplos.
“Diskriminasie, xenofobie en rassistiese stereotipering het nie geëindig nie, selfs op die gebied van wiskunde en veral toegepaste wiskunde en die akademie in die algemeen. Inteendeel, dit word subtiel en heimlik voortgesit."

“Een van die maniere waarop dit gebeur, is die valse en neerhalende idee – nie noodwendig hardop gesê nie – dat Afrika se wiskundige wetenskaplikes nie goed genoeg is om erkenning te kry vir uitnemendheid in hul loopbane nie, of dat die hoog aangeskrewe navorsingsuitsette van Afrika se toegepaste wiskundiges nie voldoende is nie."
Makinde het gesê dit is noodsaaklik vir alle belanghebbendes om ʼn goeie grondslag vir toegepaste wiskunde en navorsing te lê ten einde Afrika vir 'n dinamiese en tegnologies gevorderde ekonomie in hierdie 21ste eeu te dryf.
“Elke persoon in Afrika wat suksesvol is in wiskundige wetenskappe, dra by tot die welstand van die samelewing," het hy bygevoeg.
Makinde het daarop gewys dat Afrika 'n lang geskiedenis van wiskunde het.
“Die geskiedenis wys ons dat Afrika vir tien duisende jare in die sentrum van die geskiedenis van wiskunde was. Uit die beskawings van Suidelike, Oos-, Sentraal-, Wes- en Noord-Afrika was daar bydraes wat beide die ou en moderne verstaan van die natuur deur die toepassing van wiskunde en wetenskap sou verryk."
Makinde het gesê die toekoms van wiskundige wetenskappe en toegepaste wiskunde in Afrika lyk rooskleurig, en die verlore glorie van die verlede sal herstel word.
Hy het wiskundige wetenskaplikes in Afrika aangemoedig om te volhard, hulsellf te laat geld, standvastig te wees, en hul stemme te laat hoor en hul innoverende werk bekend te maak.
- Hooffoto-krediet: Pixabay
- Foto 1: Proff Sam Tshehla, Dekaan van die Fakulteit Krygskunde, Oluwole Makinde, en Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, by die intreerede.