Skip to main content
​ADA vier 'n dekade van doktorale opleiding

​ADA vier 'n dekade van doktorale opleiding

SU International
23 Januarie 2019

Die Afrika Doktorale Akademie (ADA) sit sy leidende rol voort om uitnemendheid in doktorale opvoeding op die Afrikavasteland te versterk. Ter viering van 'n dekade van doktorale opleiding het die ADA van 3 tot 18 Januarie 2019 meer as 200 voornemende, bestaande en nagraadse doktorale kandidate aan die Universiteit Stellenbosch (US) by die ADA-somerskool verwelkom. Afgevaardigdes uit 17 Afrika-lande het die program van twee weke bygewoon.

Die oogmerk met die ADA, wat in die Afrikasentrum vir Akademieskap by die Universiteit Stellenbosch Internasionaal gehuisves is, is om uitnemendheid in doktorale opleiding aan die US en oor die Afrikakontinent heen te koördineer en uit te brei. Sedert die stigting daarvan in 2009 bied die voorste kundiges kursusse aan vir doktorale kandidate oor onderwerpe wat van PhD-voorbereiding, sleutelkonsepte in metodologie en akademiese skryfvaardighede tot die gebruik van kwalitatiewe en kwantitatiewe instrumente (SPSS en ATLAS.ti) wissel. Doktorale kandidate kry die geleentheid om portuurgroepe by twee doktorale skole, wat in die eerste en tweede semester plaasvind, te ontmoet en met hul te netwerk. Die skole is oop vir PhD-kandidate, hul studieleiers en navorsers. Die hoofdoel met die doktorale skole is steun vir kennisproduksie in Afrika deur die aantal en die gehalte van doktorale gegradueerdes in Suid-Afrika en elders op die vasteland te verhoog.

Die ADA het vir die 10de doktorale skool 'n aantal beurse aan deelnemers van universiteite in Uganda, Nigerië, Ethiopië, Kenia, Malawi, Zambië, Senegal, Botswana en Suid-Afrika toegeken vir bywoning dié semester. Die suksesvolle kandidate verteenwoordig vennootuniversiteite binne die netwerk van die Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite, waarvan die US 'n lid is. Afgevaardigdes was afkomstig uit wyd uiteenlopende dissiplines soos Stedelike Bosbou, Chemiese Ingenieurswese, asook verpleegkunde en Verloskunde.

Deborah Oluwafunminiola Adeojo wat van Nigerië af gereis het om die somerskool by te woon, het ingeskryf vir die Produktiewe PhD-kursus wat prof Sebastian Kernbach van die Universiteit van St Gallen in Switserland aangebied het. In die tweede week het sy prof Tim Guetterman van die Universiteit van Michigan in Ann Arbor, Verenigde State, se werkswinkel oor Gemengde metodes in navorsingsontwerp bygewoon.

Deborah, wat 'n PhD in Genderstudie aan die Universiteit van Ibadan in Nigerië doen, sê die ADA-somerskool het haar perspektief op navorsing verbreed en haar met die nodige vaardighede toegerus om haar doktorale studie te voltooi.

Peji Lunyili, 'n linguistiekdosent aan die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië, sê daar is aan al haar verwagtinge voldoen en die ADA-kursusse het haar stel vaardighede uitgebrei. “Ek het nuwe kennis en vaardighede opgedoen oor hoe om 'n suksesvolle proefskrif te lewer en hoe om my loopbaan as navorser te ontwikkel."

​Benewens akademiese werkswinkels het afgevaardigdes ook die geleentheid gehad om 'n verskeidenheid buitekurrikulêre werkswinkels by te woon. Dit sluit in 'n uitstappie na die V&A Waterfront in Kaapstad, asook 'n braai by die Middelvlei Wynlandgoed om die Somerskool mee af te sluit.