Skip to main content
Aanlyn-leer by Maties: goue geleentheid vir nuwe era

Aanlyn-leer by Maties: goue geleentheid vir nuwe era

Prof Arnold Schoonwinkel Vice-Rector: Learning and Teaching
24 Julie 2020

​* Hierdie meningsartikel het op 21 Julie op Netwerk24 en op 22 Julie in Die Burger verskyn. 

Op grond van wat die Universiteit Stellenbosch vanjaar geleer het, sien hy besondere geleenthee vir 'n optimale kombinasie van klaskamer- en aanlyn leer vir sy toekomstige studente, skryf Arnold Schoonwinkel.

Op Dinsdag 17 Maart 2020 het die Universiteit Stellenbosch (US) se akademiese jaar 'n drastiese wending geneem.

Met slegs drie dae oor voor die einde van die eerste kwartaal het die US sy studente aangemoedig om huis toe te gaan toe dit duidelik word dat die toename in Covid 19-infeksies 'n risiko inhou vir studente en personeel wat grootliks van kontakonderrig gebruik maak.

Die volgende Maandag het pres. Cyril Ramaphosa 'n nasionale grendelstaat afgekondig wat onder meer kontakonderrig by alle universiteite verbied.

Om die akademiese jaar vir studente te red was nou die universiteitsbestuur se hoogste prioriteit want sowat 9 000 studente hoop immers om vanjaar te gradueer en duisende ander kan nie 'n ekstra studiejaar bekostig nie.

Die Maart-reses is met drie weke verleng, ons het voorberei om vanaf 20 April met noodafstandsonderrig te begin en die jaarkalender is aangepas om steeds op 18 Desember af te sluit.

Funksioneer in aanlyn modus

Natuurlik het studente en personeel onseker en kwesbaar gevoel weens die onbekendheid van aanlyn leer en kommer oor of dit dieselfde gehalte as tydens kontakonderrig sou kon lewer.

Aanlyn leer bied nie naastenby dieselfde ryke ervaring as om op kampus te wees nie. Tog was dit die enigste opsie en moes ons vinnig in aanlyn leermodus funksioneer.

Met 'n aangepaste pedagogie en 'n vroeëre belegging in leer-en-onderrigtegnologie het ons die uitdaging in 'n geleentheid omskep. Dit het groot aanpassings en harde werk van personeel en studente geverg.

Voor die aanvang van die tweede kwartaal is dosente deur aanlyn seminare in aanlyn leer- en assesseringsmetodologieë opgelei.

Waardevolle goeie praktyk-hulpbronne is op die US webtuiste gepubliseer en word deurlopend aangevul namate ons nuwe lesse leer.

Steunpersoneel en akademici het nouer as ooit saamgespan om elke struikelblok te bowe te kom. En buiten om in 'n gans nuwe modus te werk, moes ons personeel ook hul eie kinders tuis versorg en onderrig.

Studente is eweneens so goed moontlik voorberei vir die nuwe leermodus wat nou selfs strenger selfdissipline vereis.

Weens die onsekerhede wat hiermee gepaardgaan, het ons ook die US se aanbod vir steundienste, waaronder sielkundige ondersteuning, by die digitale wêreld aangepas. Dosente het opnuut besef dat studente se huislike omstandighede verskil en het bykomende steun begin bied deur aanlyn gespreksforums te skep en 'n ekstra stroom e-posnavrae te beantwoord.

Die US het meer as 1 700 skootrekenaars op 'n leengrondslag by behoeftige studente se huise landswyd laat aflewer. Die uitgangspunt is dat geen student weens die nuwe onderrigmodus agtergelaat sal word nie. Elke student wat daarvoor registreer, ontvang ook maandeliks 30 MG-data om vanaf hul selfoon toegang tot die aanlyn leermateriaal te kry.

Daarbenewens het ons met selfoonnetwerkverskaffers gereël dat studente gratis toegang tot sekere US-webwerwe ontvang.

'n Kragtige nuwe rekenaarbediener is ook vroeg in die tweede kwartaal in gebruik geneem en programmatuuraanpassings is gemaak om die drastiese toename in daaglikse netwerkverkeer van bykans 30 000 studente op die leerbestuurstelsel te hanteer.

Waar daar wel aan die US se kant enkele IT-probleme of prosesfoute voorgekom het, is studente alternatiewe gebied om hul werk gedoen te kry en akademiese uitsette aanlyn in te dien.

Verskeie metodes is ontwikkel om aanlyn leer prakties en toeganklik te maak.

Lesings wat dosente tuis opneem word op die leerbestuurstelsel geargiveer sodat studente dit in enige stadium kan bestudeer. Dít skakel die risiko van netwerkverbindingsprobleme uit en studente kan ook later maklik na die leermateriaal terugkeer.

Soos te wagte het 'n algeheel nuwe werkswyse sekere probleme buite die US en studente se beheer veroorsaak, wat sommige studente se akademiese sukses gestrem het.

Gevolglik sal die US in Januarie 2021 'n ekstra stel eksamens aanbied vir studente wat modules in die eerste semester gedruip het.

Nadat die Junie-antwoordstelle nagesien is, is die bemoedigende terugvoering dat die gemiddelde slaagsyfer vir vanjaar nie beduidend van verlede jaar s'n verskil nie.

Uitdagings en motiverings

Dosente beklemtoon in hul terugvoering die uitdagings van aanlyn leer, maar ook hoe hulle dit deur oop en gereelde kommunikasie met studente te bowe gekom het.

Die geleentheid vir leer deur middel van aanlyn seminare het dosente die moed gegee om iets nuuts op die proef te stel, gerus in die wete dat koördineerders, adviseurs en kollegas hulle sal bystaan.

Akademici is genoodsaak om programvernuwing te onderneem en opnuut oor kurrikuluminhoud, leeruitkomste en assessermgsmetodes te besin. Studentetutors moes verdere opleiding ondergaan.

Wat dosente verder gemotiveer het, is studente se positiewe terugvoering. Ja, sommige studente het gekla dat aanlyn leer heelwat meer werk vereis en dat hul tegnologie tuis veral gedurende assesserings groot stres veroorsaak.

Die oorgrote meerderheid van studente het egter waardering vir die ekstra moeite wat dosente doen om die beste leerervaring in die omstandighede te skep, en veral ook vir dosente se persoonlike ondersteuning.

Studente is ook beïndruk met die mate waarin dosente se aanlyn onderrigvaardighede binne slegs een kwartaal ontwikkel het.

Ouers vertel op hul beurt dat hulle nou eers besef hoe hard hul kinders werk – sommige skryf dit toe aan minder aandagafleiding as op kampus!

Die toekoms

Die US is tans druk besig met voorbereidings vir die tweede semester.

Nadat aangekondig is dat tot 33% van studente ingevolge vlak 3 na kampusse kan terugkeer, is bykans 10 000 studente genooi om noodsaaklike akademiese werk op ons kampusse te kom verrig.

Dít sluit in studente wat kliniese werk op die Tygerberg-kampus moet doen, studente wat praktiese werk moet voltooi om vanjaar te kan gradueer en nagraadse studente wat toegang tot gespesialiseerde laboratoriumtoerusting vereis.

'n Komitee het verdere aansoeke oorweeg van studente wat na die kampus en die koshuis wil terugkeer omdat hul huislike omstandighede studie bemoeilik.

Planne vir veilige omgewings word geïmplementeer en die US doen alles moontlik om die risiko van infeksies te beperk.

Die regulasie wat die getal mense in 'n lokaal tot 50 beperk maak dit moeilik om gewoonweg klas te gee.

Dosente se huidige omvangryke pligte en beperkte getal roostergleuwe in 'n dag, maak dit onmoontlik om groot klasgroepe te onderverdeel en lesings te herhaal.

Baie van die lesings sal dus vir die res van 2020 in aanlyn modus moet geskied. Dit hou darem ook voordele in vir ons internasionale studente wat nie tans na Suid Afrika mag reis nie.

Ons voorsien dat daar medium- en langtermyngeleenthede uit vanjaar se ondervinding sal spruit.

Die universiteit is hierdie jaar gedwing om heelwat leermateriaal aanlyn te argiveer. Dosente en studente sal dus in die toekoms daarvan kan gebruik maak wat minder herhaling van basiese lesingmateriaal impliseer.

Dít bied op sy beurt geleenthede om in klaskontaktyd sterker op die ontwikkeling van insig en die toepassing van kennis te konsentreer.

Die US wil ook sy kennisaanbod uitbrei na studente vir wie voltydse studie onmoontlik is. Vir daardie mark word sogenaamde hibriede leerprogramme tans ontwikkel wat kort kontakperiodes in die klas (of op aanlyn platforms )met beduidende aanlyn leer die res van die jaar kombineer.

Die US berei reeds voor vir die inname van nuwelingstudente in 2021 en die aanvraag is reeds hoër as verlede jaar. Ons is vasberade om ons bestaande aanbod van gehalte voort te sit. Op grond van wat ons in 2020 geleer het sien ons egter ook besondere geleenthede vir 'n optimale kombinasie van klaskamer- en aanlyn leer vir die US se toekomstige studente.