
Spesialisopleiding bevorder gesondheidsorg in Afrika
Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tygerberg-hospitaal het ʼn uitstekende reputasie in die opleiding van botallige kliniese assistente. Met hierdie inisiatief word spesialisopleiding toeganklik gemaak aan klinici van ander ontwikkelende lande in Afrika, en daardeur word die beskikbaarheid van spesialisgesondheidsorg in Afrika bevorder.
Dr Doris Kayambo, ʼn botallige kliniese assistent aan die Departement Verloskunde en Ginekologie by die FGGW wat vanjaar die Genootskapseksamen suksesvol afgelê het en beplan om volgende jaar haar tesis in te dien, het met lof gepraat van die opleiding wat sy ontvang het.
“Die gestruktureerde program het verseker dat ek aan rotasies in al die subspesialisomgewings blootgestel is en die persoonlike opleiding deur die konsultante het my in staat gestel om presteer,” het sy gesê.
“My kollegas by die FGGW en Tygerberg-hospitaal, veral proff Hennie Botha en Gerhard Theron, was baie ondersteunend,” het Kayambo gesê.
Kayambo, wat van Malawi afkomstig is, is gretig om na haar land terug te keer om die kennis wat sy tydens haar opleiding as botallige kliniese assistent opgedoen het, toe te pas. “Ek wil ʼn klinikus wees en terselfdertyd waarde toevoeg tot die gesondheidsorg-scenario in Malawi. Omdat ons ook ʼn ontwikkelende land is, is daar steeds tekortkominge in sekere gesondheidsorggebiede, soos die infrastruktuur, beleid en programme.”
Sy verduidelik dat ʼn groot deel van Malawi se siektelas met toestande in verloskunde en ginekologie verband hou. “Baie gevalle van servikale kanker word nie vroeg gediagnoseer nie en fasiliteite vir bestralingsbehandeling is byvoorbeeld nog nie in Malawi beskikbaar nie. Dit lei tot ʼn hoë sterftesyfer onder vroue, wat met die uitbreiding van gespesialiseerde ginekologiese dienste aangespreek kan word.”
Dr Kayambo het aan die Universiteit van Malawi se Kollege van Geneeskunde studeer, waarna sy drie jaar lank in distrikshospitale gewerk het. Sy was vir twee van die drie jaar ʼn distriksgesondheidsbeampte.
“Dit is nie maklik om jou familie en vriende agter te laat en vir vier jaar in ʼn vreemde land te woon nie,” sê Kayambo. Sy kon egter in ʼn kritiese tyd met behulp van die Margaret Macnamara Memorial Fund en die ondersteuningsdienste by die FMHS daarin slaag om sukses te behaal.