Skip to main content
​ Matie-landboustudent Kobus van Dyk aangewys as mees belowende WP-voorspeler

​ Matie-landboustudent Kobus van Dyk aangewys as mees belowende WP-voorspeler

Engela Duvenage
13 Oktober 2016

Kobus van Dyk, 'n BScAgric-student aan die Universiteit Stellenbosch, is aangewys as die mees belowende voorspeler in die 2016 Westelike Provinsie rugbyspan. Hy het die toekenning ontvang tydens die Westelike Provinsie Rugby Voetbalunie se jaarlikse prysuitdelingsfunksie verlede week.

Dié losvoorspeler, wat 1.96 meter in sy sokkies staan, het vroeër vanjaar sy WP-debuut gemaak, en het ook een wedstryd vir die Stormers gespeel.

Van Dyk is tans die enigste voltydse Matie-student in die senior WP-rugbyspan. Hy is 'n finalejaarstudent en volg die program BScAgric met Landbou-ekonomie en Agronomie as hoofvakke.

Dié agsteman het nie op hoërskool provinsiale rugby gespeel nie, maar sy sportloopbaan het op universiteit behoorlik momentum gekry. Hy was die afgelope twee seisoene een van die Maties se voorste driedrukkers in die Varsitybekerreeks. Hy het ook die WP se o/21-span verteenwoordig.

Studies

Volgens Van Dyk was dit vir hom nog altyd 'n uitgemaakte saak dat hy na afloop van sy rugbyloopbaan wil gaan boer. Daarom het hy gekies om 'n landbougerigte studieprogram te volg.

"Ek het al van kleintyd af saam met my pa op die plaas rondgery en gehelp waar ek kan," vertel die oudste van drie seuns wat op die graanplaas Anyskop naby Caledon grootgeword het.

Hy erken dit verg die afgelope paar maande baie fyn beplanning om sy studies én sportbedrywighede te kombineer, maar weet dat sy harde werk saam help vorm aan sy toekomsdrome.  

"Op die oomblik het ek nie baie aftyd nie, want as ek van oefening af kom moet ek begin leer of take doen," vertel Van Dyk, wat dankbaar is vir die wyse waarop sy dosente hom tegemoet kom.

"Ek probeer om nie my studies af te skeep nie, want hoe vinniger ek dit kan klaarkry hoe meer tyd gaan ek hê om op my rugby te spandeer," is sy heel realistiese ingesteldheid tot sy studies.

Rugbydrome

Benewens graad vang aan die einde van die jaar is sy visier daarop ingestel om 'n kontrak by die 2017 Stormers-groep te kry, en soveel moontlik speelkans in Kaapse spanne te kry.

"Nadat ek hierdie jaar al die gevoel van Super Rugby in een wedstryd gekry het, kan ek nie wag om nog te speel nie," vertel hierdie oudleerder van Hoërskool Overberg in Caledon en Rȗens Kollege by Klipdale. "Ek gaan dus baie hard werk om daardie doel te bereik."