
US musiekgraduatus se navorsing bring hoop vir seuns
“Ons het almal 'n verantwoordelikheid. Ek kan dalk nie die hele wêreld verander nie, maar as ek een mens se lewe deur musiek kan aanraak en verander, het ek my werk gedoen en kan ek maar hemel toe gaan."
Dít is die vurige hoop van Xander Kritzinger, wat Donderdag (4 April 2019) sy MMus-graad by die gradeplegtigheid van Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang het. Kritzinger het aan die Musiekdepartement by die US gestudeer en sy navorsing het gehandel oor stemopleiding tydens manlike puberteit, 'n onderwerp wat hom baie na aan die hart lê.
“Ek het in kore grootgeword en was ook 'n leerder by die Drakensberg Seunskoorskool. Gedurende daardie tydperk het my stem verander en het ek met die tegniese sy van sing gesukkel. Ek wou al lankal 'n meestersgraad oor die verandering in seunstemme doen. Ek het 'n begeerte gehad om meer te leer oor hoe om met hierdie jongelinge te werk, want die mense wat met my gewerk het, het nie baie van die onderwerp af geweet nie."
Kritzinger is van mening dat indien daar meer navorsing oor die verandering in seunstemme gedoen is gedurende die tyd wat hy as 'n jong seun in kore gesing het, sy stemopleiding en vordering baie daarby sou kon gebaat het. “Die hoofrede waarom ek met hierdie navorsing begin het, is omdat ek nie genoeg geweet het nie. Dit is vir my belangrik om met jong sangers, veral seuns wie se stemme besig is om te breek, te werk. Net soveel as wat ek my hart op die navorsingsproses verloor het, sal die kinders met wie ek werk, baat vind by my navorsing."
Kritzinger is al sedert 2004 aktief by koormusiek betrokke. Hy was gedurende sy grootwordjare in KwaZulu-Natal by verskeie kore betrokke en het begin dirigeer terwyl hy nog op hoër skool was. As die vierde geslag koordirigent in sy familie en met ouers wat musiekinstrumente bespeel en hul liefde vir musiek het hom gedeel het, was dit 'n natuurlike uitvloeisel vir Kritzinger om 'n beroep in die musiek te volg.
“My gekose medium is koormusiek. As ek 'n verhouding as mentor en onderwyser met 'n kind kan bou – 'n gesonde verhouding met grense – kan ek 'n groter invloed hê. Om 'n ruimte te skep waar 'n kind of 'n jongmens deur musiek kan ontwikkel en 'n glimlag kan wegstap – dit is hoekom ek dit doen."
Kritzinger werk tans as koordirigent en stemafrigter by Hoërskool Stellenbosch en dit gee vir hom oneindige vreugde.
“Dit is 'n lang proses en wanneer jy begin om 'n verhouding met kinders te bou, gaan dit nie noodwendig daaroor om die beste musikant of wat ook al te wees nie. Jy wil ook hê hulle moet gesonde, sielkundig-stabiele individue wees. Ek wil toesien dat kinders gesonde volwassenes word."
Kritzinger beplan om sy navorsing oor stemopleiding vir seuns gedurende puberteit voort te sit wanneer hy aanstaande jaar met sy doktorale studies in Musiek aan die US begin.
Foto deur Stefan Els.