Skip to main content
Motorongeluk-oorlewende Mia Wessels behaal graad ondanks swaarkry

Motorongeluk-oorlewende Mia Wessels behaal graad ondanks swaarkry

Asiphe Nombewu/Corporate Communication
22 Maart 2018

​Motorongeluk-oorlewende Mia Wessels behaal graad ondanks swaarkry

Mia Wessels (31), wat nou 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US) is, was op die ouderdom van 19 in 'n motorongeluk betrokke wat byna haar lewe geëis het. “Ek onthou die dokters het vir my ouers gesê ek sal nooit weer in staat wees om 'n 'normale' lewe te lei nie."

Mia sê die dokters het ook vir haar ouers gesê indien sy lewend uit die hospitaal kom, sal hulle haar in 'n fasiliteit moet laat opneem waar sy 24-uur-versorging kan kry.

Wanneer sy die ongeluk beskryf wat 'n maand ná haar 19de verjaarsdag gebeur het, sê Mia: “My pa het vir my die kar vir my verjaarsdag gekry toe ons nog in Johannesburg gewoon het. Daar was drie van ons in die kar en ek het bestuur. Gelukkig is nie een van die passasiers in die hospitaal opgeneem nie, maar almal het gedink ek gaan sterf."

Die voormalige 2003 Mej Tiener-finalis sê die voltooiing van haar graad is haar grootste prestasie. “Ek het dit gedoen – en die eerste ding wat ek gedoen het ná ek die nuus van my graad gekry het, was om my neuroloog, my fisioterapeut, my spraakterapeut en my neurochirurg te bel en hulle te vertel dat ek my graad voltooi het."

Mia sê dit het haar ses jaar geneem om haar kursus te voltooi en dat sy haar sukses te danke het aan die US se Eenheid vir Gestremdhede wat vir haar geveg het en haar vir die volle duur van haar studie aan die Universiteit ondersteun het.

“Ek is waar ek vandag is vanweë die toewyding en ondersteuning wat ek van die span by die Eenheid vir Gestremdhede ontvang het. Ek sal baie graag daar wil werk en 'n brug wees tussen studente met spesiale behoeftes en hulle dosente."

Mia blaai deur wat sy haar “spogboek" noem, 'n album met voor- en na-foto's van haar grusame ongeluk, en vertel hoe haar broer vir haar gesê het sy moet wakker word want haar tone begin opswel, en hulle lyk al soos 'n Telly Tubby s'n.

Volgens Mia was sy vir ses-en-'n-half weke bewusteloos en in die eerste drie weke in die hospitaal is nie eers haar ouers toegelaat om haar te sien nie. “My lewer het gebars, ek het nierversaking gehad en al my organe het begin ingee."

Sy sê dat sy ná die ongeluk weer moes leer hoe mens studeer en hoe jy moet aanpas by die feit dat jy nie meer kan skryf nie. Die 31-jarige Mia sê sy doen nou alles met behulp van 'n rekenaar.

“Ek het geleer dat die menslike verstand enigiets kan vermag, maar ek sou nie hierdie graad kon voltooi het sonder die hulp van departemente soos Geskiedenis, Antieke Kulture en Sielkunde – en, natuurlik, die Eenheid vir Gestremdhede – nie. Hulle was almal uiters tegemoetkomend teenoor my.

“Ek dink daar het vele goeie dinge uit die ongeluk gekom. As dit nie gebeur het nie, sou ek nie ek gewees het nie. Ek sou nie die empatiese persoon gewees het wat ek nou is nie, en dit het my gehelp om in te sien dat as dinge nie uitwerk nie, dit nie die einde van die wêreld is nie."

Hierdie voormalige BA(Geesteswetenskappe)-student sal haar graadsertifikaat saam met 4 216 ander gegradueerdes by die eerste US-gradeplegtigheid van die Universiteit se Eeufeesjaar op Donderdag, 22 Maart, ontvang. “Ek wil 'n bottel sjampanje vat en dit skud net voor ek dit op die voorste ry uitspuit."

Mia sê sy kon in 'n hoekie bly sit het en jammer gevoel het vir haarself, maar sy het vir haarself doelwitte gestel en dit oortref.