Skip to main content
PhD-student wen prys met publikasie in ʼn eweknie-beoordeelde vaktydskrif

PhD-student wen prys met publikasie in ʼn eweknie-beoordeelde vaktydskrif

Mandi Barnard
24 Februarie 2016

​Dr Frederic Nduhirabandi, ʼn PhD-student van die Afdeling Geneeskundige Fisiologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch het die prys vir die beste publikasie deur ‘n nagraadse student van die Fisiologie Vereniging van Suider-Afrika (Physiological Society of Southern Africa [PSSA]) ontvang.

Die PSSA ken jaarliks ʼn prys toe aan die beste publikasie deur ʼn nagraadse student in ʼn internasionale eweknie-beoordeelde joernaal met ʼn hoë impakfaktor om nagraadse studente te motiveer om hul data te publiseer.

Nduhirabandi se artikel, getiteld “Short-term melatonin consumption protects the heart of obese rats independent of body weight change and visceral adiposity”, is in die gesaghebbende Journal of Pineal Research gepubliseer. Dit is gebaseer op navorsing wat hy vir sy PhD-graad onder leiding van prof Amanda Lochner gedoen het. Lochner het saam met proff Barbara Huisamen en Hans Strijdom as mede-outeurs van die artikel opgetree.

Nduhirabandi is oorspronklik van Rwanda en het sy voorgraadse studies in die Demokratiese Republiek van die Kongo voltooi, waarna hy na Suid-Afrika verhuis het om sy nagraadse studies te doen. Hy het BSc Honneurs aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en daarna by die US aangesluit om sy Meesters- en Doktorsgrade te behaal.

Foto: Dr Frederic Nduhirabandi en prof Amanda Lochner by die US-gradeplegtigheid waar hy sy Meestersgraad ontvang het

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.