Skip to main content

Kry waardevolle inligting by Maties se Opedag

Division for Student Access / Afdeling Studentetoegang
20 Februarie 2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Opedag is die ideale geleentheid vir leerders in graad 11 en 12 om waardevolle inligting oor studiegeleenthede by hoëronderwysinstellings te bekom.

Vanjaar se US Opedag vind op Saterdag 23 Februarie van 08:30 tot 16:00 op die Stellenbosch- en Tygerbergkampus plaas.

“Die groot voordeel van ʼn Opedag is dat voornemende studente direk met personeellede van die Universiteit kan gesels. So kan hulle die inligting kry wat húlle oor die onderskeie studierigtings en steundienste van die Universiteit wil hê," sê Magdel Pretorius, projekbestuurder in die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies.

Besoekers kan onder meer inligting kry oor loopbaankeuses, finansiële steun, huisvesting en studentegemeenskappe, sowel as oor die studentelewe.

'n Nuwe toevoeging tot vanjaar se Opedag is die gespreksprogram wat die afdelings Studentetoegang en Studentesake op die Rooiplein sal aanbied. Interessante onderwerpe sal hier bespreek word, onder meer die gaping tussen skool en universiteit, wenke van huidige studente aan matrikulante, en hoe om deel te word van die Matiefamilie.  

Boonop sal atlete en sportbestuurders van Maties Sport ook op die Rooiplein wees om te gesels met leerders wat in hoëprestasiesport belang stel.

US Biblioteek-amfiteater die beginpunt

Besoekers word aangeraai om die dag af te skop by die verwelkomingsarea in die US Biblioteek-amfiteater (oftewel die “Bibgat") op die Rooiplein, waar volledige besonderhede oor die program sowel as sekere algemene inligtingsessies beskikbaar sal wees. Hierdie inligtingsessies handel onder meer oor:

  • finansiële steun;
  • die proses om ʼn studierigting te kies; en
  • studenteondersteuning (met die oog op studente met spesiale leerbehoeftes). 
Inligtingsbeamptes sal ook kampuswyd aan diens wees om besoekers met aanwysings en algemene navrae by te staan.Registrasie en ander belangrike inligting 
  • Vir die volledige Opedagprogram met tye en lokale, besoek www.maties.com, skakel 021 808 9111 of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • As deel van die volgehoue waterbesparingspogings in die Wes-Kaap, moedig die Universiteit besoekers aan om hulle eie bottelwater saam te bring.  
Loopbaanvoorligting Die Universiteit bied voornemende studente toegang tot ʼn gratis vraelys vir loopbaanvoorligting by www.gostudy.net/maties. Hierdie vraelys identifiseer toepaslike studierigtings en verbind dit dan met verskeie studie- en beroepsmoontlikhede.  Pretorius voeg by: “Nóg 'n innoverende program by www.gostudy.net/maties is Course Chooser, wat voornemende studente help soek na programme waarvoor hulle op grond van hulle graad 11- of graad 12-uitslae in aanmerking kom. Dít sal hulle natuurlik ook ʼn goeie aanduiding bied van met wie hulle by die Opedag moet gesels.“Die US bied ook 'n persoonlike loopbaanvoorligtingsdiens aan sowel graad 11's as graad 12's. Die diens sluit ʼn psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, individuele gesprekke sowel as ʼn skriftelike verslag met uitslae en aanbevelings in," sê Pretorius.
  • Om 'n afspraak met een van die US se voorligtingsielkundiges te maak, stuur ʼn e-pos na [email protected]  of skakel 021 808 4709.