
US-doktorale student ontvang Bongani Mayosi-beurs
Siyabulela Mkabile, 'n doktorale student in die Departement Sielkunde, het onlangs 'n Bongani Mayosi-beurs ontvang, wat hom in staat sal stel om sy PhD-studies te voltooi.
Hierdie beurs, vernoem na die wêreldklas-klinikus en A-beoordeelde wetenskaplike prof Bongani Mayosi, skep geleenthede vir verdienstelike Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns om hul studies en navorsing voort te sit.
Mkabile, 'n senior sielkundige in intellektuelegestremdheidsdienste by Alexandra Hospitaal, sê hy voel geëerd om hierdie eerbetoon van die Nasionale Gesondheidsnavorsingskomitee en die Mediese Navorsingsraad te ontvang.
“Ontwikkeling op my werksgebied is baie belangrik. Hierdie beurs sal verseker dat ek op my PhD fokus en die nodige vaardighede en vermoëns sal behou om my werk as 'n openbare staatsamptenaar te verbeter."
Mkabile se PhD-navorsing fokus op intellektuele gestremdheid en spesifiek hoe die gesinne en versorgers van diegene met intellektuele gestremdheid dit hanteer, met ander woorde deur hul ervarings en die soort hulp wat hulle vir hul geliefdes probeer vind.“Daar bestaan steeds heelwat stigma oor intellektuele gestremdheid, want dit is iets waaroor daar nie vrylik in gemeenskappe gepraat word nie. Ek probeer hierdie stigma uit die weg ruim deur begrip van ouers se ervarings te verkry," sê hy.
Maar hoekom spesifiek die belangstelling in intellektuele gestremdheid?
“As 'n swart Suid-Afrikaner wat in die landelike dele van die Oos-Kaap grootgeword het, vind ek aanklank by mense met intellektuele gestremdheid, want hulle weet ook hoe dit voel om verwaarloos te word en hulle sukkel ook om toegang tot geskikte dienste te verkry. Ek voel dat hierdie die groep in die samelewing is wat werklik ʼn behoefte het aan professionele mense soos ek en die dienste wat ons kan bied," sê Mkabile.
Mkabile, wat in die armoedegeteisterde Oos-Kaapse dorp Cala gebore is, waar baie min van diegene wat saam met hom grootgeword het uiteindelik hul omstandighede kon oorkom, besef die waarde van ʼn opvoeding om verandering teweeg te bring al te goed. Hy vertel dat sy ouma by hom ʼn toewyding tot ʼn opvoeding bygebring het.
“My ouma het in ʼn opvoeding geglo. Sy was nog altyd my motivering en het my altyd aangemoedig, selfs al was sy self nie opgevoed nie. Selfs nou, terwyl ek my PhD doen, dink ek aan haar. Maar ek is ook dank aan my ma, Nomalungelo, verskuldig. As ʼn enkelma en ʼn huiswerker het sy onbaatsugtig vir my en die res van die familie voorsien."
Op die vraag oor wat hom motiveer om homself deurlopend te verbeter, antwoord hy: “Ek wil net seker maak ek is suksesvol, want ek verteenwoordig elke landelike kind wat sukkel om iewers in die lewe te kom en nie glo dat hulle universiteit kan haal nie."
Hy sê die werk aan sy PhD sou nie moontlik gewees het nie sonder sy kinders en sy vrou, dr Wanga Zembe-Mkabile, wat die gesin bymekaar hou en terselfdertyd haar eie wetenskaplike werk doen.
Hy is ook vol lof vir sy PhD-studieleier by Stellenbosch, prof Leslie Swartz van die Departement Sielkunde.
“Hy is soos die pa wat ek nooit gehad het nie – deernisvol en begrypend. Ek sou dit nie sonder sy leiding en ondersteuning kon doen nie. Hy maak die hele PhD-reis hanteerbaar. Ek voel geëerd dat hy ingestem het om my studieleier te wees," sê Mkabile.
Swartz is net so vol lof: “Siyabulela bring nie net sy akademiese vaardighede na sy PhD nie, maar ook sy professionele ervaring as ʼn kliniese sielkundige en sy eie ervaring as ʼn swart Xhosa-spreker in Kaapstad," sê hy. “Al sy onderhoude met navorsingsdeelnemers is gevoer in ʼn taal wat albei verstaan en met ʼn gedeelde begrip van kulturele norme, sosiale uitsluiting en vooroordeel, en die daaglikse realiteite van ʼn lewe in ʼn stad wat nie vir die behoeftes van individue en hul families ontwerp is nie.
“Daar is ʼn bevestigde sterk verband tussen koerse van gestremdheid en armoede; dus is die las van gestremdheid swaarder onder armer mense. In Kaapstad is daar egter baie min professionele mense wat hierdie mense se taal praat en ervaring van hul konteks het wanneer hulle sorg benodig. Dit het vanselfsprekend implikasies vir die gehalte van sorg. Die werk wat Siyabulela doen, lewer ʼn belangrike bydrae tot die regstelling van ʼn reeks historiese wanbalanse."