
Harde werk en deursettingsvermoë laat Nthabiseng presteer
Terwyl sy in die stofstrate van die klein dorpie Gankwana in Limpopo grootgeword het, het sy haarself nooit kon voorstel dat sy eendag 'n meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) sou behaal nie, vertel die 25-jarige Nthabiseng Seleme opgewonde.
“Ek is baie opgewonde om graad te kry; dit wys harde werk en deursettingsvermoë is inderdaad die sleutels tot sukses," voeg sy by. Nthabiseng het in 2017 by die US aangekom nadat sy haar B-graad in Chemiese Ingenieurswese in 2016 aan die Universiteit van Pretoria behaal het.
“Ek was bevoorreg om 'n beurs van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) te kry; hulle het my klasgelde betaal en Thermaspray (Edms) Bpk het tot die beurs bygedra om my te help.
“Hoewel ek soms baie huis toe verlang het, was die skuif na die Universiteit Stellenbosch tog ook baie opwindend. Ek wou nog altyd verder as Gauteng en Limpopo reis." Sy is die eerste een in haar familie wat n meestersgraad behaal en Nthabiseng sê haar familie was 'n lojale ondersteuningstruktuur. Hulle is baie opgewonde en trots op haar oor haar prestasies.
Nthabiseng sê sy sou dit nie kon bereik het sonder die ondersteuning en hulp van haar familie en haar toesighouers vir haar MIng-navorsing, drr Tobi Louw en Neil Goosen, nie. Haar navorsing was getiteld Modelling of enzymatic protein hydrolysis.
“Ek beplan om soveel as moontlik blootstelling aan nywerhede te kry en om die bedryf beter te leer ken en verder te verken, aangesien ek tans by Samacor Chrome in Middelburg, Mpumalanga, werk."
Sy beskryf haar kinderdae as “normaal" – sy het by haar ouma en tannie gewoon voordat sy Pretoria toe verhuis het om by haar ouers te gaan woon. Daar het sy haar hoërskoolopleiding en voorgraadse studies voltooi. “Ek dink ek was 'n baie soet kind omdat ek al my take gedoen het. My ma en my ouma het my baie vertroetel en dit het alles baie goed uitgedraai."
As n toppresteerder in Wiskunde en Wetenskap op hoërskool, het Nthabiseng aanvanklik daarvan gedroom om 'n mediese dokter te woord. “In daardie stadium het ek gedink dat selfs my handskrif 'n bewys was dat ek dit moes doen," vertel sy laggende. Aktuariële Wetenskap het haar ook geïnteresseer as gevolg van haar voorliefde vir Wiskunde, maar sy het later besef dat Aktuariële Wetenskap baie meer as net Wiskunde behels. Dit het haar toe op Chemiese Ingenieurswese laat besluit.