Bydrae van informele boerdery tot voedselsekuriteit moenie onderskat word, sê BFAP-kenner
Suid-Afrika se informele landbousektor dra meer by tot die ekonomie en dus ook voedselsekuriteit as wat amptelik erken word. Meer moet gedoen word om die sektor te ontwikkel, en daarby ook om hierdie landboubedrywighede te intensifiseer. Op 'n kommersiële vlak kort beleidskwessies en infrastruktuurprobleme soos elektrisiteitsvoorsiening, stygende insetkoste en probleme by die land se hawens dringend aandag. Dit kan groei in die Suid-Afrikaanse landbousektor inperk, en inflasie in terme van kommoditeitspryse opstoot.
Dit was van die menings van prof. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), die gasspreker by die onlangse Food Dialogue-gespreksessie. Dit is deur die Southern Africa Food Lab, 'n inisiatief van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), gereël.
Prof. Meyer is 'n kenner op die gebied van landboumarkte, handels- en beleidsanalises, die landbouwaardeketting, strategiese vooruitskattings en scenariobeplanning. Hy is onlangs as 'n buitengewone professor in die US Departement Landbou-Ekonomie aangestel.
Prof. Meyer het die gesprek begin deur daarop te wys dat die Wêreldbank reken dat die Covid-19 pandemie die wêreldekonomie 'n knou van minstens vyf jaar gegee het. Dit het dus in alle waarskynlikheid ook 'n ernstige impak op enige vooruitgang wat oor die afgelope paar jaar gemaak is om armoede in Suid-Afrika te verlig. In 2002 het 29% van die bevolking uiterse honger beleef, en teen 2019 het hierdie syfer op 11% gestaan.
“Landbou is voorwaar 'n 'helder ster' in hierdie tye. BFAP voorspel 'n 13% plaaslike styging in die sektor se ekonomiese aktiwiteite."
Dit is die enigste sektor, naas die staatsdiens, uit 10 ekonomiese sektore wat enige bedryfsgroei sedert 2019 getoon het.
Die voortgesette styging in die volumes vars vrugte (veral sitrus) wat geproduseer word is 'n pluimpie vir die plaaslike landboubedryf. Hy waarsku egter dat die industrie die multi-miljoenrand beleggings in nuwe boorde wat die afgelope jare gemaak is kan verloor as die hawekwessie en ander infrastruktuurprobleme nie dringend aandag kry nie.
Dis ook 'n probleem vir die agriprosesseringsektor.
“Hoe meer verwerking 'n produk nodig het, hoe meer sal ondoeltreffenheid en ontwrigting van dienste soos infrastruktuur en elektrisiteitsvoorsiening begin inspeel op die inflasiekoers.
“Daar is reeds sowat 50% van Suid-Afrikaanse huishoudings wat nie 'n basiese, gesonde dieet kan bekostig nie."
Hy sê die sektor kan bydrae tot beskikbaarheid en bekostigbaarheid deur genoeg kos te produseer. Daarvoor is die nodige infrastruktuur en kragvoorsiening nodig.
“Die landbousektor kan nie hierdie probleme alleen oplos nie.
“Werk is op die spel. As ek 'n vakbond was, sou dit eerlikwaar my grootste bekommernis gewees het."
Prof. Meyer sê dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners in stede woon. Dis belangrik in terme van die bestuur van voorraadkettings.
Tussen 26% en 55% van Suid-Afrikaners in die lae-inkomstegroep woon in stedelike gebiede, en tot 95% van die middelklas.
Debat en dialoog moet die realiteite van Suid-Afrika binne die groter voedselstelsel in Afrika in ag neem. Die plaaslike landboubedryf, en die gepaardgaande agroverwerkingsektor, maak eintlik net 'n baie klein deel van die ekonomie as geheel uit.
“So, as jy dus oor werkskepping praat, moet ons baie spesifiek wees. Ons het oplossings vir die landboubedryf. Dit het beslis 'n groot vermeningvuldigingseffek of 'multiplier effect'. Suid-Afrika se uitdaging lê daarin dat dit te veel laaggeskoolde werkers het.
“Landbou het nie dieselfde groot impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie as in baie ander Afrikalande nie. Dis inderwaarheid goeie nuus, want jy wil eintlik mense weg van plase na hoër betaalde, meer gespesialiseerde werke trek."
Suid-Afrika, anders as baie ander lande in Sub-Sahara, is 'n netto-uitvoerder van kos en landbouprodukte, en verdien rondom R10,5 miljard daaruit. Omtrent R2 miljard se goedere word ingevoer. Dit behels grootliks palmolie, hoender, rys en koring.
“Nieteenstaande bly ons Meesterplan praat daarvan dat sake gelokaliseer word."
Mielieproduksie het oor die afgelope 20 jaar van 20 miljoen ton (wat op 11 000 hektaar geproduseer is) gestyg tot 40 miljoen ton per jaar (op 17 miljoen hektaar). Dis grootliks te danke aan uitbreidings eerder as meer intensiewe boerderypraktyke.
BFAP verwag dat Suid-Afrika vanjaar die beste mielie-oes ooit in Oos- en Suider-Afrika sal geniet. Dié sukses het egter ook sy nadele.
“Volgende jaar gaan ons 'n afname in produksie sien, want produksie teen 110 dollar 'n ton is nie volhoubaar nie," voorspel prof. Meyer.
Hy wys daarop dat daar nie 'n wesenlike mark vir surplusse is wat nie vir huishoudelike gebruik gaan nie. Die sektor moet daarom agroverwerking en die waardeketting probeer uitbrei.
“Boere moet ook tussenryverbouing en alternatiewe gewasse oorweeg."
Hy sê dat ten spyte van 'n netto waardetoename, die landbousektor se aandeel tot die groter prentjie van die Suid-Afrikaanse ekonomie sedert 1951 voortdurend gekrimp het. Dit is tans 2%, met 'n R330 miljard uitset, teenoor die 5% en R370 miljard uitset van die agroverwerkingsektor.
Onlangse data wys dat daar 40 000 BTW-geregistreerde plaaseenhede (met 'n gemiddelde omset van R8 miljoen elk) is, teenoor slegs 3600 agrowerkingseenhede (met 'n gemiddelde omset van R100 miljoen elk).
“Die landbousektor verskaf aan 757 000 mense werk, teenoor die 189 000 van agriverwerking. Landbou se effek op verdere werksopsies is 2, en agroverwerking s'n 0,5."
“Hierdie 'multiplier effect' is goed, maar dit behels lae geskoolde geleenthede met lae salarisse behels."
Twee dekades na demokrasie is daar volgens prof. Meyer “steeds 'n ekonomiese dualisme in die sektor", met net 10% swart boere wat volgens die amptelike syfers by landbou betrokke is.
Volgens die General Household Survey 2019 is daar 300 000 kleinskaalse bedrywe en nog 2,3 huishoudings wat daarby betrek moet word. Prof. Meyer sê statistieke neem nie die bykans 214 000 huishoudings in ag wat deur onlangse opnames aangedui het dat hulle minstens 'n sekondêre inkomste verkry uit landboubedrywighede soos die aanhou van varke en hoenders nie.
“As ons nie weet waar hierdie produsente is nie, kan ons nie hierdie kleinskaalse bedrywe ondersteun met byvoorbeeld krediet en infrastruktuur nie."
“Die media doen net verslag oor die bydrae van kommersiële landbou. Niemand doen verslag oor die informele sektor se werklike bydrae tot voedselsekuriteit nie."
“Dit is nie waar dat daar slegs grootskaalse plase in wit besit in Suid-Afrika is wat grootliks bydrae tot indiensneming en uitvoere nie. Om die waarheid te sê is 93% van alle BTW-geregistreerde plase klein- of mikrobedrywe. Dié dra maar 23% van die sektor se inkomste en 37% van werksgeleenthede by."
Volgens berekeninge deur BFAP dra die informele varkbedryf nog minstens 23 000 werksgeleenthede by tot die ekonomie, as minimumlone as maatstaf gebruik word.
“Volgens my dra dit by tot voedselsekuriteit. Dit skep waarde en werksgeleenthede, of dit nou in die informele of formele sektor is of nie." Prof. Meyer sê daar is risiko's vir die groter bedryf ten opsigte van biosekuriteit op die spel wanneer mens informele bedrywe in byvoorbeeld die vark- en pluimvee-industrië ignoreer. Dis kommerwekkend, gegewe nasionale departemente se gesukkel om verwante kwessies te hanteer.
Dis moeilik om kleinskaalse sektore te ontwikkel. Dis vir kommersiële maatskappye en waardekettings baie makliker “om met drie of vyf groot plase te werk as met 'n duisend kleinboere".
“Hulle sal gaan vir die makliker besigheidsopsie waarin heelwat meer sekerheid lê."
Daarom glo prof. Meyer dat die staat en ontwikkelingsfondse hierin 'n rol te speel het. Die private en openbare sektore moet sinergie vind om vaardighede te ontwikkel en verskaffingskettings te ontwikkel en uit te bou wat ook die informele sektor insluit.
“Die staat sukkel egter te veel om effektiewe ondersteuningsdienste te verskaf wat met die privaatsektor belyn is," het hy egter genoem. “Staatsbefondsing wat die landbousektor in verskillende provinsies ontwikkel moet meer impak hê, veral in gebiede wat werklik met armoede sukkel."