
US dien rekord aantal kreatiewe uitsette in vir subsidie
Die Universiteit Stellenbosch (US) is een van die mees suksesvolle instellings nasionaal in terme van kreatiewe uitsette wat ingedien en subsidie ontvang het. Volgens die uitslag van die 2019 indiening aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), het die US eerste plek behaal met `n totaal van 87 indienings en 53.6 uitsette ontvang, terwyl vir die 2022 indienings ons weereens die meeste aantal indienings gedoen het (`n totaal van 39) en 34.45 eenhede ontvang.
Die proses word gelei deur die DHOO se beleid op die evaluering van erkenning van kreatiewe uitsette en innovasies. Die doel van die beleid, wat in 2018 deur die DHOO in plek gestel is, is om erkenning te gee aan kwaliteit kreatiewe uitsette en innovasies wat deur SA publieke hoër onderwys instellings geproduseer word.
Die US se indienings sluit `n wye verskeidenheid uitsette in – van musikale komposisies tot beeldhouwerk, juweliersontwerp en bekroonde digbundels.
Volgens Prof Mario Nell, die voorsitter van die US interne evalueringspaneel, is ons sukseskoers te wyte aan die harde werk van ons navorsers om hulle uitsette in te dien en te verduidelik as kreatiewe navorsingsuitsette.
“Hierdie statistieke is nog `n bevestiging van die US akademici se toewyding tot navorsing, en spesifiek navorsing wat fokus op gevorderde wetenskaplike en kreatiewe betrokkenheid in die skeppende en uitvoerende kunste, ontwerp en intellektuele innovasie".
Die Afdeling Navorsingsontwikkeling (ANO) is verantwoordelik vir die indiening van kreatiewe uitsette en personeellede van ANO was betrokke by die institusionele asook nasionale besprekings in hierdie verband en het waardevolle insette gelewer tot die DHOO beleidsdokument. Die volgende rondte van indienings is tans in proses. Vir meer inligting oor die proses, kontak Esmari Huysamen ([email protected])
Beeldwerk: Elizabeth Gunter