
Professor vereer vir ʼn loopbaan gewy aan kardiologie
Prof Anton Doubell se beduidende bydraes tot geneeskunde en veral kardiologie is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Hartvereniging beloon met erelidmaatskap en ʼn prestasietoekenning vir ʼn leeftyd gewy aan die vakgebied.
Dit is slegs die vierde keer dat die toekenning gemaak word en dit is die eerste maal dat dié eer ʼn personeellid van die Universiteit Stellenbosch (US) te beurt val. Doubell was in 2000 ʼn stigterslid en die eerste president van die Suid-Afrikaanse Hartvereniging, ʼn posisie wat hy vir twee agtereenvolgende termyne beklee het. Hy is steeds ʼn lid van die uitvoerende komitee. Gedurende sy ampstermyn as president het twee inisiatiewe die lig gesien, wat steeds ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse kardiologiearena speel.
Die eerste hiervan is die publikasie van die South African Heart Journal, waar Doubell reeds vanaf die ontstaan van die harttydskrif in 2004 as redakteur dien. Die tydskrif word deur die Departement van Onderwys en die Academy of Science of South Africa (ASSAf) as ʼn goedgekeurde vaktydskrif gelys, en word ook deur die Europese Vereniging van Kardiologie as ʼn nasionale kardiovaskulêre vaktydskrif erken.
Nog ʼn belangrike inisiatief is die stigting van die Suid-Afrikaanse Hartregister wat kardioloë in Suid-Afrika gebruik om pasiënt-verwante inligting op ʼn gedeelde platform te plaas waar dit ontleed kan word om pasiëntsorg te verbeter.
Doubell staan die afgelope 20 jaar aan die hoof van die Afdeling Kardiologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). "Ek is besonder trots daarop dat ek deel kan wees van ʼn span wat duidelik opgewonde is om elke dag werk toe te kom," het hy gesê. "Met die personeel se entoesiastiese samewerking het ons daarin geslaag om die nodige infrastruktuur en kundigheid te skep waarmee ons van die beste pasiëntsorg, navorsing en opleiding in die land kan aanbied."
"Dit dra beslis daartoe by dat ons vandag die Afdeling se visie van toegang tot gevorderde kardiologiesorg en -onderrig vir al ons pasiënte en studente kan uitleef," het Doubell genoem. ʼn Belangrike instrument waardeur hierdie visie nagestreef word is SUNHEART, ʼn nie-winsgewende entiteit binne die Afdeling Kardiologie wat streef na "Gevorderde kardiologiesorg vir almal".
Hierdie Matie-alumnus blink al sedert sy skooljare op akademiese gebied uit en spog met ʼn lang lys nasionale en internasionale toekennings en pryse vir sy akademiese en navorsingsprestasies. Hy het 90 publikasies op sy kerfstok en het al meer as 140 navorsingsreferate gelewer.
Hy het ʼn breë belangstelling in die natuur en plante en is bekend as ʼn ywerige clivia-kweker. In 2013 het hy meer as 1 000 clivia-plante geskenk om die Tygerberg-kampus mee te verfraai en hierdie jaar volg hy dit op met ʼn skenking van meer as 50 inheemse bome wat hy van saad gekweek het en op die kampus aangeplant sal word.
Foto: Prof Anton Doubell (middel) saam met dr Liesl Zühlke, die huidige president van die Suid-Afrikaanse Hartvereniging en sy kollega, dr Hellmuth Weich, tydens die toekenningsgeleentheid.