Skip to main content
Opstel oor die etiek van ondersteunde selfdood wen prys

Opstel oor die etiek van ondersteunde selfdood wen prys

Mandi Barnard
29 November 2016

​Studente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe word jaarliks uitgenooi om deel te neem aan die Medical Protection Society (MPS) se Etiek-opstelkompetisie, wat deur die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg gefasiliteer word. Die onderwerp vir vanjaar se opstelkompetisie was: "Moet medies-ondersteunde selfdood in Suid-Afrika gewettig word?"

Ryan Jacobs, ʼn vyfdejaar- MB,ChB student het die kompetisie gewen. Die MPS het ʼn prys van R5 000 tydens hulle jaarlikse etiekgeleentheid "Etiek vir almal", wat op 6 Oktober in Kaapstad gehou is, aan hom oorhandig. Die wenopstel is gekies deur dr Graham Howarth, hoof van Mediese Dienste, Afrika, by Medical Protection) by die MPS-kantoor in Londen in die Verenigde Koninkryk.

Jacobs het ʼn interessante opstel ingedien oor hierdie kontroversiële kwessie – ʼn taboe onderwerp in baie dele van die wêreld. In sy opstel, getiteld "Legalizing physician-assisted suicide in South Africa: Should it even be considered?" het hy internasionale en Suid-Afrikaanse standpunte ondersoek en argumente vir en teen medies-ondersteunde selfdood voorgehou.

Die kompetisie is vanjaar vir die sesde maal aangebied en, met die ondersteuning van prof Kaymanthri Moodley, hoof van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, is vorige wenners se werk alreeds internasionaal gepubliseer. "Ons moedig die studente aan om krities en onafhanklik te dink en verder as die eng fokus van geneeskunde te kyk," het Moodley gesê.

Foto: Ryan Jacobs, ʼn vyfdejaar- MB,ChB student, het die 2016 Etiek-opstelkompetisie gewen.