Skip to main content
Kunsgraduata se illustrasies pak ongeregtighede van die verlede

Kunsgraduata se illustrasies pak ongeregtighede van die verlede

Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
06 April 2022

Karla Koopstad het ʼn onderwerp wat vir haar gesin (en vir talle ander) ʼn baie teer saak is, as die inspirasie vir haar MA in Kunsopvoeding-projek gebruik – ʼn stel woordelose boekies wat gedwonge verskuiwings in Ceres onder die apartheidsbedeling uitbeeld.

Koopstad se pa, ds Willie Koopstad, het in die buurt “Whitecity" in Ceres gewoon voordat sy gesin in 1983 gedwing is om na Gebied-K (vandag Bella Vista) te trek. Tientalle gesinne is in die laat 1960's en later in die vroeë 1980's gedwing om hul huise te verlaat.

“Toe ons kinders was, en tot vandag nog wanneer ons vir familie in Ceres gaan kuier, ry my pa altyd deur sy ou buurt om vir ons te wys waar hy gebly het voor hulle moes trek. Hy het altyd vertel hoe hulle nie 'n keuse gegee is nie.

“Tóg het my pa – in die einste huis waaruit hulle gesit is – die moedige besluit geneem om nie ʼn produk van sy omstandighede te word nie, maar bo dit uit te styg en ʼn beter lewe vir die volgende generasie te help skep."

Hierdie storie, wat so deel van Koopstad se lewe geword het, tesame met die kennis wat sy in die loop van haar studies bekom het, het vorm aan haar projek gegee. “In die twee jaar van my meestersgraad het ons baie geleer oor sosiale geregtigheid, insluiting en uitsluiting, asook talle ander kontroversiële onderwerpe. Ons het ook geleer hoe dit binne die kunswêreld en deur kuns en opvoeding aangespreek kan word."

Koopstad, wat tans as ʼn administratiewe beampte by die Universiteit Stellenbosch (US) werk, sê sy was bevoorreg om met ʼn beurs van die Nasionale Navorsingstigting te studeer en ook betrokke te wees by een van hul voortgesette projekte. “Die projek fokus daarop om woordelose storieboeke te skep wat waarde tot die opvoeding van kinders en volwassenes kan toevoeg ondanks taalhindernisse of mense se vlak van geletterdheid."

Toe Koopstad met navorsing vir haar projek begin het en met ander mense wat ook deur die uitsettings geraak is, begin praat het, was dit gou vir haar duidelik dat dit “iets is wat ʼn diepe hartseer meebring". Sy het die museum op Ceres vir inligting genader, maar dit het geblyk dat van die stories (soos dié van haar pa) nie deel is van die opgetekende geskiedenis van die dorp nie.

Vir Koopstad is dit belangrik dat die belewenisse van haar pa en soveel ander mense vertel moet word. “Hierdie verskuiwings dui op die groot onreg wat gemeenskappe op kleiner dorpies gedurende die apartheidsjare aangedoen is, maar waarvan ʼn mens nie veel hoor nie. Ook juis omdat dit steeds sterk gevoelens by mense ontlok, is dit belangrik dat hierdie stories met die jonger geslagte gedeel moet word."

Een van die boekies vertel byvoorbeeld die storie van ʼn gesin wat uit die Rooikamp-gebied gedwing is. “ʼn Hofbevel is bekom om die gesin uit te sit. Die persoon met wie ek gepraat het, was in daardie stadium in graad 2. Toe die skool een middag uitkom, het hy nie meer ʼn huis gehad om na terug te gaan nie. Sy gesin moes vir tyd en wyl by hul tante gaan woon."

Koopstad verduidelik dat deur slegs visuele elemente te gebruik om die stories uit te beeld, lesers die geleentheid gebied word om self die storie te interpreteer en hul eie te maak. “Dit sal interessant wees om te sien hoe die stories deur verskillende generasies 'gelees word' en watter lesse wat daaruit geleer word.

“Vir die illustrasies en kleur van die boekies het ek besluit om sepia te gebruik. Sepiakleure gee die gevoel van die ouer dae in die 1900's se foto's. Die boekies dien ook soortvan as ʼn foto-album wat ʼn blik gee op die lewe van die mense wat uitgesit is en die gebeure van die tyd."

Die boekies is gratis aanlyn beskikbaar by www.collaboratecommunityprojects.org.

Meer oor Karla Koopstad

Koopstad is in die Paarl gebore, maar het op Stellenbosch grootgeword en skoolgegaan. Hoewel sy nie kuns op skool geneem het nie, het sy in haar vrye tyd geteken en ontwerpe gedoen.

“Toe ek hoor van die kunskursusse wat die US aanbied, het ek nie gehuiwer om my portefeulje saam te stel en aansoek te doen nie. Ek het geweet my gebrek aan kennis van kuns kon my dalk in die voet skiet, maar my ouers het my altyd geleer om net my bes te probeer. ʼn Mens weet nooit wat kon gewees het as jy nie probeer nie. Duidelik het die Departement Visuele Kuns iets in my werk gesien," lag sy.

Intussen het sy ʼn belangstelling in digitale kuns ontwikkel en wil graag haar kennis daaroor verbreed. Sy hoop om in die toekoms haar kuns te gebruik om ander op te voed, of dit nou in ʼn onderwysposisie, aanlyn of administratief is. “Ek is oop en opgewonde oor al die geleenthede en moontlikhede wat beskikbaar is!"

Foto: Stefan Els