
Familielede vang saam graad
Altesaam 1167 studente in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (Groep A), Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Regsgleerdheid, Opvoedkunde en Krygskunde is Dinsdag (15 Maart 2016) vir hul harde werk beloon by die US se tweede gradeplegtigheidseremonie van Maart 2016.
In die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe alleen is 818 kwalifikasies toegeken.
Onder die graduandi was lede van drie families wat gedurende die week grade ontvang. Johannes Schoonwinkel, seun van US-Viserektor vir Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, het sy MBA-graad cum laude verwerf. Johannes se broer Daniël het op Maandag (14 Maart) sy Meestersgraad in Elektroniese Ingenieurswese by die eerste gradeplegtigheidseremonie ontvang.
Vir Herman Klopper, sy seun Emile en dogter Christina Sophia, is gradeplegtigheidsweek 'n ware familie-aangeleentheid. Herman het Dinsdag sy MBA-graad behaal, terwyl sy seun Emile Maandag 'n Meestersgraad in Ingenieurswese ontvang het. En op Woensdag sal Christina met 'n BCom-graad gradueer.
Herman sê dit is 'n goeie dag vir sy familie. "Dit het 'n rukkie geneem om hierdie punt te bereik, maar ons almal het dit gemaak." Hy voeg skertsend by dat hy maklik 'n jaar vroeër kon klaarmaak, maar besluit het om vir sy kinders te wag. "Ek wou dit saam met hulle doen."
Die 56-jarige pa sê hy onthou nog sy eerste dag in klas. "Terwyl ek my Crossley notaboek en my BIC pen uitgehaal het, het my jonger klasmaats hul skootrekenaars uitgehaal!"

By dieselfde plegtigheid is Honneursgrade in Publieke Administrasie aan die Sithole-egpaar van Daveyton, Sibusiso en Gwendoline, toegeken. Hulle werk wat tans in die Parlement, en sê hulle studeer reeds geruime tyd saam en het mekaar aangemoedig om hul Honneursgrade te behaal.
"Ons is baie trots daarop om grade van die Universiteit Stellenbosch te kon verwerf," het die Sithole- egpaar gesê.
ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat is aan die Paralimpiese atleet Dyan Buis toegeken. Buis, ʼn onderwyser by Wes-Eind Primêr in Franschhoek, is tans ingeskryf vir die honneursgraad in onderwysontwikkeling en demokrasie en besig om voor te berei vir moontlike deelname aan die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro later vanjaar. Hy het verlede jaar twee silwermedaljes by die IPC se Wêreldatletiekbyeenkoms in Doha gewen
Foto 1: Die Schoonwinkels, Kloppers en Sitholes na afloop van die gradeplegtigheidseremonie.
Foto 2: Die Paralimpiese atleet Dyan Buis met sy Nagraadse Onderwyssertifikaat.
Fotograaf: Stefan Els