
Prof Tulio de Oliveira fokus van artikel in gesaghebbende Nature
Vroeg in April 2022 het die roetine-monitering wat deur die Netwerk vir Genomiese Waarneming in Suid-Afrika (NGS-SA) gedoen word, tot die ontdekking van twee nuwe Omikron-subvariante, BA.4 en BA.5 gelei.
Aan die spits van hierdie ontdekkings was prof Tulio de Oliviera, wie se Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (SERI) aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan die hoof van die NGS-SA staan.
Volgens De Oliveira, 'n professor in Bioinformatika: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit, het die ontdekking rede tot groter bewustheid gegee, maar was daar geen rede tot kommer nie. Navorsers verwag dat die virus voortdurend sal ontwikkel. Daarom, benadruk hy, is dit so belangrik om die evolusie van die virus so vroeg as moontlik te identifiseer, ten einde op 'n nuwe variant of subvariant te kan voorberei.
Volgens De Oliveira is die virus moontlik nie aan die “verswak" nie, maar daar word geskat dat die oorgrote meerderheid (waarskynlik meer as 90%) van die Suid-Afrikaanse bevolking 'n sekere mate van immuniteit ontwikkel het danksy inenting en/of vorige infeksies en daarom lei dit nie tot ernstige infeksies nie. Die evolusionêre ontleding dui daarop dat Omikron nie “voortgaan" om te ontluik nie, maar dat “alle ontluiking reeds plaasgevind het. Namate die immuniteitslandskap dus verskuif, kry sub-afstammings die kans om te groei en kan daar moontlik ander sub-afstammings wees wat nog waargeneem moet word en ander variante wat nog na vore moet kom".
- Lees 'n profiel-artikel van prof Tulio de Oliveira hier.