Skip to main content
Joernalistiek-alumni bekroon met Akademiepryse.jpg
Persverklaring

Joernalistiek-alumni bekroon met Akademiepryse

Departement Joernalistiek
29 April 2026
  • Michélle van Breda het die Markus Viljoen-medalje ontvang vir haar volgehoue, hoëgehalte-impak op Afrikaanse joernalistiek en vrouemedia.
  • Bun Booyens het die LW Hiemstra-prys vir Nie-fiksie gewen vir Troep, 'n boek wat persoonlike, sensoriese verslae van militêre diens dokumenteer.
  • Prof. Herman Wasserman is op die kortlys vir die Hertzogprys vir poësie geplaas; toekennings sal amptelik op 2 Oktober oorhandig word.

Joernalistiek-alumni bekroon met Akademiepryse

Twee alumni van die Departement Joernalistiek is wenners van die gesogte Akademiepryse vir 2026. 

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 22 April aangekondig dat die Markus Viljoenmedalje vir Joernalistiek toegeken word Michélle van Breda, redakteur van SARIE. Hierdie prys word driejaarliks toegeken vir “langdurige, hoogstaande werk in Afrikaanse joernalistiek, hetsy in koerante, tydskrifte, televisie of radio”. Volgens ʼn persverklaring van die Akademie is Van Breda se bydrae “tot die Afrikaanse media- en kultuurlandskap” van “onskatbare waarde en het ’n blywende impak op generasies lesers”.

Bun Booyens, alumnus en voormalige Rykie van Reenen-genoot in die Departement, ontvang die LW Hiemstraprys vir Niefiksie vir sy boek Troep: die dinge wat hulle saamdra. Hierdie prys word sedert 2001 driejaarliks oorweeg vir ’n “oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie”, lui die Akademie-persverklaring.

Van Breda het per e-pos aan die Departement gesê:

“Ek aanvaar die Markus Viljoenmedalje met trots! Dit is nie net wonderlike erkenning vir die pad - met al sy ops en afs - wat ek die afgelope jare in die joernalistiek gestap het nie, maar ook vir SARIE. Vir die rol wat juis vrouetydskrifte, die redakteurs en die redaksionele spanne in die samelewing speel. Erkenning wat in die mediawêreld vir dié titels soms maar skaars is, ondanks vrouetydskrifte se veerkragtigheid, kreatiwiteit, trefkrag oor platforms heen, die vermoë om waardevolle gemeenskappe te bou en gesprek oor vele terreine aan die gang te hou. En daarvoor sê ek vir die Akademie opreg dankie!

Booyens het sy boek in ʼn neutedop beskryf as ʼn “doodgewone joernalistieke boek” oor “mense se vertellinge van dinge wat hulle beleef het toe hulle 17 of 18 jaar oud was en vir militêre diensplig moes aanmeld. Wat bly hulle by 40 of 50 jaar later?”

In ʼn e-pos aan die Departement het hy verder geantwoord:

Na watter soort vertellings het jy gesoek? Doodgewone mense s’n. Ek het maar rondgevra en dan kom jy, sê maar, op iemand af wat gehakkel het en op ’n manier oor die weg moes kom in ’n redelik onsimpatieke omgewing. Ek wou byvoorbeeld by ’n sjef weet hoe bak jy tweeduisend eiers vir ontbyt. Ek wou hoor hoe voel dit om die eerste keer met ’n valskerm by ’n vliegtuig uit te spring – en wat gaan dan deur jou gedagtes as daardie valskerm nie behoorlik oopmaak nie. Ek het mense uitgevra oor ryloop: waar het jy die langste vir ’n lift gewag. Alles sulke sterk menslike vertellings. 

Het hulle maklik gepraat? Verbasend maklik, waarskynlik omdat my vrae nie gelaai was nie. Ek wou by die sintuiglike dinge uitkom: Wat was die eerste dinge wat jy gesien het toe jy op die Grens uit die vliegtuig klim? Watter item in jou rantsoenpakkie was die lekkerste? Hoe voel dit as ’n landmyn onder jou voertuig ontplof? Hoe voel dit om terug huis toe te kom? 

Die reaksie op die boek? Oorweldigend positief, selfs van mense wat destyds eenvoudig daardie dienspligdeur agter hulle toegetrek het. Die een ding wat ek wel onderskat het, is die reaksie van die mense by die huis, veral die ma’s en susters. Ek het vir die eerste keer werklik besef met watter onsekerheid en chroniese stres hulle destyds moes saamleef.

Kom daar ’n Troep II? Nee, hy het nou uitgeklaar. 

Prof. Herman Wasserman, voormalige departementshoof, se debuutbundel Waterman was op die kortlys vir die Hertzogprys vir poësie. Die pryse word op 2 Oktober in Pretoria oorhandig.

 

[Journalism] Michélle van Breda.jpg

Michélle van Breda

[Journalism] Bun Booyens.jpg

Bun Booyens

[Journalism] Book cover (Bun).jpg

Troep

Merkers

Joernalistiek

Verwante stories