
US ondersoek buite-die-boks-leer met digitale ontsnappingskamer-assesserings
'n Dosent in die opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) met 'n ingebore nuuskierigheid en belangstelling in innoverende leer het haar studente-onderwysers uitgedaag om die wêreld van spelifiëring te verken om lewe in die opvoedkundige materiaal in hul klaskamers te bring.
Die meeste leerders sal vir jou sê daar is niks lekker aan assesserings nie. Maar wat van assesserings wat in 'n aanlyn ontsnappingskamer plaasvind met die vrae wat leidrade dien en slegs korrekte antwoorde die deur sal oopmaak? Delecia Davids, 'n dosent in die US se Fakulteit Opvoedkunde met 'n belangstelling in ontwerpgebaseerde leer het, is besig om die grense van konvensionele assessering te verskuif deur spelifiëring as onderriginstrument te bevorder.
Die idee het kort voor die pandemie in 2020 ontstaan nadat Davids deur 'n projek, “The deeper learning puzzle bus", geïnspireer is wat deur die Hasso Plattner Institute of Design aan die Stanford Universiteit ontwikkel is in reaksie op bevindings dat gestandaardiseerde toetse selde belangrike vaardighede soos kritiese denke, samewerking en kommunikasie meet. Die bus is in werklikheid 'n afleweringsvragmotor wat as 'n mobiele ontsnappingskamer herkonfigureer is. Dit ry rond na verskillende skole waar kinders aktief met leermateriaal kan omgaan en leidrade kan oplos om uit die ontsnappingskamer te kom.
Die idee het Davids se belangstelling geprikkel en sy 'n soortgelyke toepassing in plaaslike klaskamers begin oorweeg toe die pandemie toegeslaan het, en skole en universiteite noodgedwonge moes sluit. Davids moes noodgedwonge haar idees aanpas en oorweeg hoe 'n ontsnappingskamer in 'n aanlyn ruimte kan werk en of sy 'n manier sou kon bedink om haar studente aan te moedig om saam te werk al was fisiese interaksie nie moontlik nie. “Die bedoeling destyds was om maniere te vind om studente te help om iets soortgelyks vir hulle vakspesialisasie te ontwerp." Sy het Google Slides en 'n Google-vorm as grondslag vir die ontsnappingskamer gebruik, en het 'n tydhoutoestel, raaisels en leidrade met hiperskakels ingebed. Sy erken sy het haar ontsnappingskamer indringend getoets voordat sy dit met haar studente gedeel het. “Ek is deur my eie kwesbaarheid oor tegnologie gekonfronteer. Voordat ek my studente die kamer wat ek ontwerp het, laat ervaar het, het ek al my skakels getoets. Ek het saam met my studente geleer."
Nadat sy die konsep aan haar studente gedemonstreer het, het sy hulle gevra om hulle eie ontsnappingskamers te ontwerp. Hulle is ook aangemoedig om hulle ontwerpe in die opvoedkundige ruimte te toets deur dit by die kurrikulum in te sluit. Davids erken haar studente was minder as entoesiasties oor haar aanbieding van die ontsnappingskameruitdaging. Hulle was veral bekommerd oor of hulle die tegnologie onder die knie sou kry om die aanlyn assessering te skep, en oor waar hulle die tyd sou vind om hierdie assesserings by hulle lesse in te sluit. Nadat hulle egter met die ontsnapkamer geëksperimenteer het en hul eie speletjies in groepe ontwerp het, kon hulle sien hoe effektief dit as 'n assesseringsinstrument kon wees.
Annie Thomson, 'n vierdejaar-onderwysstudent, het groot sukses in haar graad 4-klaskamer met haar aanlyn ontsnappingskamer gehad. Sy het 'n Microsoft PowerPoint-platform gebruik sodat haar leerders selfs ondanks verbindingsprobleme toegang tot die speletjie sou kon kry. Haar leerders moes aan die einde van hulle lessegment 'n assesseringsaktiwiteit voltooi en volgens Thomson het sy die ontsnappingskamer gebruik “om die les interessanter te maak en 'n aspek van leer – en nie net hersiening nie – te betrek." Aangesien die assessering toevallig op Harry Potter-dag geval het, het Thomson haar speletjie op 'n Hogwarts-tema gegrond en speel dit in professor Sprout se kruiekundeklas af. Eers nadat leerders die vrae suksesvol beantwoord en die leidrade ontsluit het, kon hulle ontsnap en sodoende die assessering voltooi.
Finalejaarstudent Tiffany Reynolds merk op dat spelifiëring besonder goed werk vir kinders in die intermediêre fase van graad 4 tot 7 wat geneig is om weerstand teen leer te bied. “Dit wys vir hulle dat kennis pret en begeerlik is." Sy sê onderwysers moet aanhou leer saam met hulle leerders. “Ons moes die gestoei omarm en self leer (hoe om die tegnologie toe te pas)." Nog 'n finalejaarstudent, James de la Cruz, sê hoewel dit 'n uitdaging sal wees om die tyd te vind om speletjies by die kurrikulum in te sluit, sien hy wel die voordele daarvan in om dit by sy lesplanne in te sluit.
Die doel was om studente te laat wegbeweeg van agnostiese onderrigmetodes – waar hulle net onderrig wat hulle weet, verduidelik Davids. “Ons moet kreatiewe vertroue by onderwysers vestig." Daarom was dit vir haar belangrik om self die gebruik van die toepassing te modelleer, terwyl sy haar studente-onderwysers getoon het dat om foute te maak, 'n noodsaaklike deel van die proses is. “Die opwindendste aspek van die hele reis was om saam met die studente te leer en te sien hoe hulle verder gaan as wat verwag is." Michaela Chetty, nog een van Davids se finalejaarstudente, sê: “Nou kan ons dít wat ons gekry het (die gereedskap om speletjies in te sluit), gebruik om 'n omwenteling teweeg te bring." Die spelifiëring van leer moedig groter betrokkenheid aan en is 'n deurlopende leerproses vir die onderwysers en hulle klasse.
Hoewel dit nog in 'n baie vroeë fase is, het die US se aanlyn assesseringsbenadering opvoedkundige uitgewers se aandag getrek. “Die ontsnappingskamerassessering kan as 'n produk gekommersialiseer word of as 'n oop bron aan skole verskaf word," sê Davids. Haar belangstelling op hierdie gebied duur voort, en sy het onlangs saam met dr Anthea Jacobs, 'n akademiese adviseur by die US se Sentrum vir Onderrig en Leer, 'n aanbieding getiteld “Using escape rooms to develop the digital competencies of Natural Science pre-service teachers" by die 30ste Internasionale Konferensie oor Leer in Brasilië aangebied.
Davids het ook saam met Elzette le Roux, 'n akademiese adviseur in aanlyn leer by die US se Sentrum vir Leertegnologieë, 'n boekhoofstuk oor die konseptualisering van die digitale ontsnappingskamer as assesseringstrategie geskryf. Die boek verskyn binnekort.
Onderskrif:
Finalejaarstudente by die US se Fakulteit Opvoedkunde, Annie Thomson, Michaela Chetty, Tiffany Reynolds en James de la Cruz saam met hulle dosent, Delecia Davids, voor Davids se virtuele ontsnappingskamer.