Skip to main content
Sluiting van ontvangskantore laat vlugtelinge en asielsoekers gestrand

Sluiting van ontvangskantore laat vlugtelinge en asielsoekers gestrand

Callixte Kavuro
11 Februarie 2021

Die voortgesette sluiting van vlugtelingontvangskantore gedurende die nasionale inperking laat vlugtelinge en asielsoekers gestrand oor hul status in Suid-Afrika, skryf dr Callixte Kavuro van die Departement Publiekreg in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (10 Februarie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Callixte Kavuro*

Sedert die afkondiging van die nasionale ramptoestand en die daaropvolgende landwye inperking is alle staats- en privaat kantore en instellings gesluit, buiten dié wat noodsaaklike dienste lewer.

Die kantore van die Departement van Binnelandse Sake was onder dié wat hulle deure gesluit het. Hulle dienste is beperk tot die repatriasie van Suid-Afrikaanse burgers en persone met permanente verblyfreg wat in die buiteland gestrand was, en om buitelanders die Republiek te help verlaat. Weens die sluiting van hierdie kantore kon geen permitte of visums uitgereik of hernu word nie. Sedertdien is sekere noodsaaklike burgerlike en immigrasiedienste stelselmatig ingevolge die verskillende inperkingsvlakke hervat. 

In Maart 2020 het die minister van binnelandse sake 'n direktief uitgereik dat alle visums en permitte wat op, voor of ná 25 Maart 2020 verval het of sou verval, as geldig beskou sou word. Hierdie algemene verlenging, wat tot 31 Julie 2020 gegeld het, het geïmpliseer dat alle immigrasievisums en vlugteling- (of asielsoeker-)permitte wat in dié tyd verval het geldig sou bly.

Die datum van die verlenging is van tyd tot tyd verder uitgestel – eers tot 30 September 2020, daarna tot 31 Januarie 2021, en toe weer tot 31 Maart 2021. Weens die tweede vlaag COVID-19-infeksies sal die datum na verwagting wéér uitgestel word. Hierdie algemene verlenging impliseer dat buitelanders se visums en permitte as geldig beskou word indien dit net voor, ná of gedurende die inperking verval het.

Daarom behoort staats- en privaat kantore of instellings vlugtelinge en asielsoekers se permitte as geldig te beskou, en nie hierdie individue weg te wys wanneer hulle toegang tot belangrike dienste probeer kry nie. Alle regte, voordele en verpligtinge van vlugtelinge en asielsoekers behoort onveranderd te bly, en hulle behoort nie gestraf te word indien hulle permitte duidelik gedurende die inperking verval het nie.

Dit is geen geheim dat die vlugtelingontvangskantore sedert die aanvang van die inperking gesluit is en gesluit sal bly totdat die minister anders besluit nie. Daarom is dit verrassend dat staatsinstellings onwillig is om vlugtelinge en asielsoekers se permitte te aanvaar omdat dit verval het. SASSA wys byvoorbeeld vlugtelinge weg wat om die hernuwing van maatskaplike toelaes of om noodbystand wil aansoek doen, en die verkeersdepartement weier om professionele rybewyse te hernu.

Vlugtelinge en asielsoekers sukkel om hulle ondernemings by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom te registreer, aansoeke om handelslisensies by munisipale kantore in te dien en toelating tot basiese of hoër onderwys te kry. Sommige werkgewers is huiwerig om vlugtelinge of asielsoekers aan te stel wie se dokumente verval het, of om hulle dienskontrakte te hernu. Hierdie individue vind dit ook moeilik om nuwe bankrekeninge te open.

Dié frustrasies vererger die bestaande probleme waarmee vlugtelinge en asielsoekers te kampe het wanneer hulle toegang tot openbare dienste probeer bekom. In my doktorale studie van 2018 het ek byvoorbeeld bevind dat asielsoekers tradisioneel van maatskaplike toelaes uitgesluit word om die hoë ontoelaatbare koste te vermy wat die staat dalk sal moet aangaan indien hulle by verskeie sosio-ekonomiese programme ingesluit sou word. Hierdie uitsluiting is gegrond op die siening dat 90% van asielsoekers ekonomiese migrante of werksoekers is, wat nie aan die vereistes vir vlugtelingbeskerming voldoen óf dit verdien nie. Dit verbaas dus allermins dat COVID-19-bystandsmaatreëls nié aan vlugtelinge en asielsoekers beskikbaar gestel is nie, al is hulle 'n besonder kwesbare groep.

Die vraag wat ons onsself moet afvra, is: In watter mate is vlugtelinge en asielsoekers geregtig op sosio-ekonomiese regte en voordele, openbare dienste of COVID-19-bystandsmaatreëls? Dit is weliswaar 'n omstrede vraag, wat gekompliseer word deur die nasionale siening dat vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika is om die voordele van dié land se demokrasie te geniet.

Hierdie siening laat egter buite rekening dat Suid-Afrika tot internasionale vlugtelingverdrae toegetree het, en hierdie verdrae deur die Wet op Vlugtelinge 130 van 1998 (soos gewysig) by die land se regstelsel ingesluit het. Daardie wet bepaal dat vlugtelinge geregtig is op alle regte in die Handves van Regte, buiten die regte wat uitdruklik vir burgers bedoel is. Kragtens artikel 26, 27, 28(1)(c) en 29 van die Grondwet het “elkeen" die reg op toegang tot geskikte behuising (of skuiling), gesondheidsorgdienste, voldoende voedsel (of basiese voeding), voldoende water, maatskaplike bystand en maatskaplike sekerheid sowel as onderwys. Dít blyk te kenne te gee dat ook vlugtelinge en asielsoekers op hierdie sosio-ekonomiese regte of dienste geregtig is.

Wanneer die Wet op Vlugtelinge deur die lens van hierdie grondwetlike bepalings gelees word, verwoord dit Suid-Afrika se voorneme om vlugtelinge en asielsoekers doeltreffende beskerming te bied, en te reageer op hulle nood as gevolg van vorige vervolging in hulle geboortelande of rampe in Suid-Afrika. Suid-Afrika is verplig om hierdie individue se selfstandigheid, deelname en selfbeskikking te herstel en hulle menswaardigheid te beskerm. Dít kan slegs gebeur indien hulle toegang tot openbare dienste ontvang. Die dokumentering van vlugtelinge en asielsoekers en die tydige hernuwing van dokumente is kernmeganismes om sodanige toegang te bewerkstellig.

In teenstelling met ander buitelanders, hoef vlugtelinge en asielsoekers – ongeag die tydelike aard van hulle verblyf – nié selfstandig en ekonomies onafhanklik te wees om in die land toegelaat te word nie. In plaas daarvan, word hulle om humanitêre redes toegelaat, en behoort hulle dus die nodige humanitêre beskerming te ontvang.

Gedurende die inperking maak instellings wat openbare dienste lewer egter staat op die verstryking van vlugtelinge en asielsoekers se permitte om hulle die dienste te ontsê waarop hulle geregtig is; dienste wat hulle nodig het om 'n waardige lewe te lei. Die weerhouding van hierdie dienste – op grond van die verstryking van 'n permit – is strydig met die direktiewe van die minister van binnelandse sake, wat op die nakoming van die inperkingsregulasies aandring.

Die vraag waarmee vlugtelinge en asielsoekers worstel, is of hulle welstand vir Binnelandse Sake net so belangrik is soos die welstand van burgers. Die vlugtelingontvangskantore is gesluit op grond daarvan dat lang toue by hierdie kantore die COVID-19-virus kan laat versprei as mense nie sosiaal distansieer, maskers dra en hulle hande ontsmet nie. Tog sien ons dieselfde toue (of skares) by die Binnelandse Sake-kantore wat burgers bedien. Hier is daar altyd groot getalle mense sonder veel sosiale distansiëring.

Vlugtelinge en asielsoekers ervaar dat die sluiting van vlugtelingontvangskantore hulle toegang tot dienste belemmer eerder as dat dit hulle beskerm. Hulle is ook bekommerd dat Binnelandse Sake sal sukkel om die enorme agterstand in te haal wat in dié tyd ontstaan. Hou in gedagte dat Binnelandse Sake reeds jare lank die agterstand in vlugtelingstatusappèlle, sertifikasieaansoeke en -appèlle probeer inhaal en gevolglik in 2019 die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge om hulp moes nader. By die aanvang van die inperking in Maart verlede jaar was die agterstandkwessie steeds nie opgelos nie.

In die lig hiervan behoort vlugtelingontvangskantore te heropen en vlugtelinge en asielsoekers te bedien om toekomstige onreëlmatighede as gevolg van opgehoopte agterstande te voorkom. Die heropening sal vlugtelinge en asielsoekers se hoop herstel op toegang tot dienste waarop hulle geregtig is.

*Dr Callixte Kavuro is 'n nadoktorale genoot in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch.