Breadcrumb
US Taalbeleid
Die doel van die Taalbeleid is om taalgebruik in alle domeine van die Universiteit te reël, te bestuur en oorsigbestuur daaroor uit te oefen.
US Taalbeleid (2021)
Die US Raad het die US Taalbeleid (2021) goedgekeur met inwerkingtreding vanaf Januarie 2022. Die Beleid ondergaan in 2026 ’n hersieningsproses.
Die drie grondbeginsels van die US Taalbeleid (2021) is dat (1) meertaligheid ’n hulpbron is, (2) taal toegang moet verbreed en sukses moet bevorder, en (3) die Beleid en die implementering daarvan pedagogies verantwoordbare leer en onderrig moet fasiliteer.
Die US omarm meertaligheid as intensionele strategie met spesifieke institusionele doelstellings en praktyke, ooreenkomstig die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se nasionale mandaat aan alle Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings.
Meertaligheid
Meertaligheid behels meer as ’n individu se bereidheid om meer as een taal aan te leer en te gebruik. Dit strek verder as om ruimtes en strukture te skep waar verskeie tale in akademiese, akademiese en sosiale kontekste gebruik kan word. Die Taalbeleid is óók daarop ingestel om inklusiwiteit en waardering vir die waarde van diversiteit te bevorder. Daarom is meertaligheid ook ’n ingesteldheid wat ’n transformerende studente-ervaring fasiliteer en uiteindelik meer afgeronde gegradueerdes oplewer.
Meertaligheid rus studente en personeel toe vir die volgende:
Individuele meertaligheid
Ook bekend as ‘pluritaligheid’; dit is die vermoë om al die tale wat jy ken (jou linguistiese repertoire) in verskillende omstandighede te gebruik.
Institusionele meertaligheid
Dit is ’n soort samelewingsmeertaligheid (waar sprekers uit verskillende taalgemeenskappe saambestaan), soos dit in die werksaamhede en beleide van ’n organisasie of instelling na vore kom.
Meertalige ingesteldheid
Dit is die ingesteldheid van iemand wat hulle vereenselwig met die gedagte dat meertaligheid belangrik en voordelig is om inklusiwiteit en diversiteit te bevorder, en om doelbewus ruimtes vir individuele en institusionele meertaligheid te skep.
Medeverantwoordelikheid
Die US Taalsentrum, fakulteite, taaldepartemente, professionele administratiewe steundienste, oorsigbestuurs- en bestuursliggame sowel as studente is medeverantwoordelik vir die bevordering van individuele en institusionele meertaligheid by die Universiteit.
Hoe om ’n klagte oor die implementering van die US Taalbeleid te lê
Klagtes oor implementering deur ’n fakulteit moet ooreenkomstig die betrokke fakulteit se appèl‑/klagteprosedure gelê word. Waar sodanige prosedure ontbreek, word klagtes by een van die volgende persone gelê word (in voorkeurvolgorde): die betrokke personeellid, die departementele voorsitter of hoof van die skool, of die dekaan. As ’n klagte rakende akademiese aangeleenthede nie bevredigend op fakulteitsvlak opgelos word nie, kan dit via die Akademiesebelangeraad vir Studente (SABR) na die Akademiesebeplanningskomitee (ABK) verwys word. As die ABK ’n klagte nie kan oplos nie, verwys hulle dit na die Senaat, vergesel van ’n aanbeveling.
Klagtes oor implementering deur ’n steundiensomgewing word by die lynbestuurshiërargie in daardie omgewing gelê. Klagtes wat die breër Universiteit betref word by die Rektoraat gelê, via die Studenteraad (SR) se dagbestuur.
Wat implementering in studenteleefomgewings betref, word klagtes by die huiskomitee of inwonende hoof gelê. Klagtes wat nie op daardie vlak bevredigend opgelos word nie, kan na die Senior Direkteur: Studentesake verwys word.
Sou die klagteprosedures hier bo onvanpas blyk te wees, kan klagtes voorgelê word aan die US Ombud, wat die saak in oorleg met die betrokke US-omgewings sal oplos.