US Taalbeleid (2021): hersieningsproses
Die US Taalbeleid (2021), wat in Januarie 2022 in werking getree het, word nou hersien. Paragraaf 10 van die Beleid bepaal dat dit in die vyfde jaar na inwerkingtreding hersien moet word.
Die Beleidshersiening sluit ’n formele fase van openbare oorlegpleging in waartydens die breër US-gemeenskap insette kan lewer. Ons sal alle terugvoer wat tydens hierdie prosesse ingesamel word, noukeurig oorweeg. Die konsepweergawe van die hersiene dokument beweeg dan verder deur die formele oorsigbestuurstrukture aan die US, naamlik die Rektoraat, fakulteitsrade, Senaat, Institusionele Forum en Raad.
Proses vir openbare deelname
Ons nooi die US-gemeenskap uit om tydens die proses van openbare oorlegpleging (18 Mei tot 8 Junie 2026) aanlyn op ’n digitale platform kommentaar te lewer.
Vir doeleindes daarvan om u kommentaar te verwerk, het ons die inhoud van die voorgestelde konsepdokument in drie kategorieë (A, B en C) verdeel.
- A: paragraaf 1 tot 6 (inleiding, meertalige konteks, beginsels, ens.)
- B: paragraaf 7 (Beleidsbepalings)
- C: paragraaf 8 tot 12 (terugvoer, monitering en geskilbeslegting; Beleidsoorsigbestuur, hersiening en aanpassing; openbaarmaking; woordomskrywings)
Let wel:
U terugvoer is by verstek anoniem, tensy u namens ’n groep kommentaar lewer of verkies om u naam bekend te maak.
Ons sal alle kommentaar wat ons ontvang, oorweeg.
As ons soortgelyke of identiese kommentaar ontvang, voeg ons hulle in ’n enkele antwoord saam om te verseker dat die hersieningsproses duidelik en deursigtig verloop.
Klik hier vir toegang tot die digitale platform.
Mylpale in die 2026-hersieningsproses
Die hersieningsproses vorm deel van die vyfjaarhersieningsiklus wat die Taalbeleid (2021) self voorskryf. Die Beleid (2021) het aanvanklik aan die begin van 2022 in werking getree.
Ons beoog om ’n finale konsepweergawe van die Taalbeleid (2026) teen Desember 2026 aan die Raad vir goedkeuring voor te lê nadat die Institusionele Forum en die Senaat dit by hulle onderskeie vergaderings goedgekeur en aanbeveel het.