
#USVROUE: Bevordering van toegang tot geregtigheid vir vroue, LGBTQ- en geslagsdiverse persone
Vroue, LGBTQ- en geslagsdiverse mense moet baie hindernisse oorkom in hul soeke na geregtigheid vir misdade soos verkragting, aanranding of polisiebrutaliteit. Hulle het al die ondersteuning nodig wat hulle kan kry om toegang tot die howe en tot 'n regverdige verhoor te verkry, sê prof Annika Rudman van die departement Publiekreg.
As deel van Suid-Afrika se vrouemaandvierings vertel sy ons meer oor hoe haar navorsing 'n waardevolle bydrae in hierdie verband lewer.
Vertel ons meer oor jou navorsing
My oorkoepelende navorsingsgebied is die Afrika-menseregtestelsel, waar ek spesifiek op vroueregte en die beskerming van Seksuele Oriëntasie, Genderidentiteit- en -uitdrukking (SOGIE)-regte fokus. Die afgelope tyd doen ek ook al hoe meer navorsing oor verskillende aspekte van toegang tot geregtigheid, asook vroue en LGBTQ-persone se stryd om toegang tot geregtigheid op plaaslike en streeksvlak te kry. Ek dink dit is belangrik om vir die Afrika- en streeks-menseregtestelsel te veg, aangesien talle Afrikane sukkel om geregtigheid binne hul eie plaaslike stelsels te laat geskied waar patriargie, homofobie en transfobie hulle dikwels verhoed om toegang tot die howe of tot 'n regverdige verhoor te verkry. In lande waar verkragting binne die huwelik byvoorbeeld nie 'n misdaad is nie, of waar “misdade teen die orde van die natuur" steeds van toepassing is, is dit feitlik onmoontlik om geregtigheid te laat geskied vir gewelddadige misdade soos verkragting of polisiebrutaliteit.
Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?
Ek was nog altyd geïnteresseerd in die teorie agter die reg en het feministiese, kritieke ras- en queer-teorieë as deel van my nagraadse studie bestudeer. Dit was 'n veilige ruimte waar ek kreatief oor die reg en moontlikhede van die reg kon dink, maar daar was uiteindelik 'n gebrek aan 'n ware konneksie met mense se ervarings en geleefde werklikhede. Ten einde uit te beweeg na die werklikheid, het ek my doktorsgraad as 'n kombinasie van praktiese navorsing en doktrinêre navorsing gedoen. Ek het ook beide internasionale reg en ontwikkelingstudie as hoofvakke gedoen ten einde sommige van die outentieke voorwaardes van die reg beter te kan verstaan. Hieruit het ek 'n belangstelling in snyende kwesbaarhede en ons ewigveranderende identiteite ontwikkel. Ek het die geleentheid en voorreg gehad om in alle dele van Afrika, veral Noord-Afrika, te woon en te werk, en ek dink my interaksie met verskeie vroueregte-organisasies op voetsoolvlak regoor die vasteland het my aangemoedig om spesifiek op die stelsel van die Afrika-unie te fokus en hoe om hierdie stelsel die beste te bevorder en te ontwikkel ten einde die geleefde ervarings van Afrika-vroue, nie-heteroseksuele en geslagsdiverse individue te verbeter.
Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?
Omdat ek hoofsaaklik in 'n pan-Afrika-omgewing werk, dink ek hierdie navorsingsgebied is vir almal in Afrika – vroue, mans en geslagsdiverse persone – ewe belangrik. Om die uitdagings te oorkom wat ons as mensdom in die gesig staar, soos byvoorbeeld klimaatsverandering, siektes en armoede, moet ons almal ons deel doen. Ons kan nie bekostig om die groter deel van die mensdom agter te laat ten opsigte van die reg tot 'n waardige bestaan nie.
Die pandemie het ons manier van doen en lewe verander. Hoe bly jy gemotiveerd in hierdie tye?
My navorsing word aangespoor deur die feit dat vroue, LGBTQ- en geslagsdiverse persone nog meer gemarginaliseerd geword het en aan brutaliteit blootgestel is gedurende die pandemie.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sal verwag
Ek skryf nogal bloederige speurverhale in my beperkte vrye tyd. Daarom is ek voortdurend op soek na karakters wat ek denkbeeldig kan doodmaak en aan die lewe hou.
Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?
Om met passie navorsing te doen, om elke prestasie te vier en om jouself toe te laat om 'n balans tussen jou werk- en jou private lewe te handhaaf wat bevorderlik is vir jou welstand. Dit is 'n bekende feit dat daar dikwels meer – en meer uiteenlopende – eise aan vrouenavorsers as aan hul manlike eweknieë gestel word. Jy moet hierop let en goed na jouself omsien.