Skip to main content
Prof Eugene Cloete fokus op vooruitgang by sy laaste personeelbyeenkoms as viserektor

Prof Eugene Cloete fokus op vooruitgang by sy laaste personeelbyeenkoms as viserektor

Naudé van der Merwe
11 Maart 2022

​Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het by die onlangse personeelbyeenkoms op 9 Maart 'n oorsig gebied van vordering in sy portefeulje gedurende sy tien jaar in dié amp. Prof Cloete se tweede termyn van vyf jaar eindig in Julie. Hy het alle kollegas vir hulle onvermoeide pogings en samewerking gedurende sy ampstermyn bedank.

Ons universiteit se navorsingsuitset het onder prof Cloete se leiding van 2 200 eenhede in 2012 tot 4 000 in 2021 verhoog. In dieselfde tydperk het nadoktorale genote van 154 tot 321, navorsingsleerstoele van 16 tot 62 en Nasionale Navorsingstigting-gegradeerde navorsers van 309 tot 492 aangegroei.

Ons het ook die afgelope tien jaar ses sentrums van uitnemendheid op die been gebring – die meeste by enige Suid-Afrikaanse universiteit. Daarbenewens het ons die skole vir Datawetenskap en Rekenaardenke sowel as Klimaatstudie van stapel gestuur, die AUDA–NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie sowel as die ARUA Sentrum van Uitnemendheid in Water en Energie én die Fraunhofer-navorsingslaboratorium bekend gestel, en ons ultramoderne Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) geopen.

Die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het ook in sy aanbieding na die BMNI verwys, en uitgewys dat dié hipertegnologiese fasiliteit reeds 'n paar besoeke van hoëvlakafvaardigings ontvang het. Dít sluit in die afvaardigings onder leiding van onderskeidelik president Cyril Ramaphosa en die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur-generaal, dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, in Februarie.

Die Rektor het daarna 'n oorsig gebied van ons instelling se vele prestasies in 2021, gradeplegtigheidstatistieke, die Verwelkomingstydperk, ons nuwe handelsmerk, die konsepbeleid oor kommunikasie, en die voorgestelde inentingsreël. Hy het ook 'n aansienlike toename in studenteaansoeke aangemeld. Vergeleke met 2021 het die Universiteit vanjaar 143% meer aansoeke ontvang, wat prof De Villiers deels toegeskryf het aan die nuwe aansoekproses wat daarin slaag om studentetoegang uit te brei.

Oor die kwessie van studieskuld het die Rektor gesê personeellede en studente berei weereens voor om aan die komende Kaapstadfietstoer deel te neem om geld vir hierdie verdienstelike saak in te samel. “Fondswerwing om studente te help – hetsy met skuld of voedselonsekerheid – is 'n trotse Matietradisie, en personeellede is gretig om betrokke te raak," het hy gesê.

In hulle onderskeie tydgleuwe het prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, aanvanklike terugvoer gebied oor die opname oor personeelwelstand en werkskultuur en -klimaat, terwyl Bedryfshoof prof Stan du Plessis personeellede verseker het dat die Universiteit 'n “samewerkende proses op grond van markrealiteite" volg om ons instelling se begrotings op te stel.

Die US het ook vir die eerste keer 'n tolkdiens by sy personeelbyeenkoms bekend gestel. Die hoofverrigtinge het in Engels plaasgevind, met 'n intydse aanlyn tolkingsaanbod in Afrikaans en Xhosa.

  • Vir 'n PDF v​an die aanbiedings by die personeelbyeenkoms, klik hier.
  • Vir VIDEO-opnames van die vergadering (die Engelse, Afrikaanse en isiXhosa-kanale), klik hier.