
Maties Krieket-kaptein verwerf MCom in Aktuariële Wetenskap
Broers Dewald en Niel Botha is nie krieketspelers wat gedink het hulle sal studeer om ’n Plan B te hê vir wanneer hul dae van krieketspeel verby is nie.
Vir hierdie twee studente in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap was hul studies nog altyd hul eerste prioriteit.
Dit het hulle egter nie verhoed om ook op die krieketveld uit te blink nie.

Dewald (24), wat vandeesweek sy meestersgraad in Aktuariële Wetenskap verwerf het, was die afgelope twee jaar kaptein van Steinhoff Maties Krieket se eerstespan. Hy het ook verlede jaar die Boland T20-span in die Afrika T20-kriekettoernooi gelei. Hierdie span het huidige en voormalige nasionale en provinsiale spelers soos Robin Peterson en Stiaan van Zyl ingesluit.
"Ek het baie by hierdie spelers geleer," sê Dewald.
Hy vertrek oor 'n paar maande na Engeland om daar klubkrieket te speel.
Sy jonger broer Niel (20), in sy derde jaar van 'n graad in Aktuariële Wetenskap, speel ook vir Maties en was ook ’n lid van die Boland T20-span.
Hulle stem saam dat tydsbestuur noodsaaklik is. "As jy weet jy moet oor die naweek wedstryde speel, moet jy jou werk voor die tyd afhandel."
Dewald en Niel, oudleerders van die Laerskool Eikestad en Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, het albei op 'n jong ouderdom begin krieket speel en Boland op verskeie ouderdomsvlakke verteenwoordig.
"Krieket was nog altyd deel van ons lewe," sê Niel.
Om grade te verwerf, was egter altyd hul eerste doelwit. Terwyl Dewald sy meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch voltooi het, hoop Niel om eendag sy nagraadse studies oorsee voort te sit.
Die broers geniet dit om krieket te speel omdat dit hulle op sowel 'n fisieke as 'n geestelike vlak uitdaag. Hulle hou daarvan om deel te wees van 'n span en het 'n paar belangrike lewenslesse geleer, soos om teleurstelling te verwerk en onder druk te presteer.
"Balans is belangrik as jy suksesvol wil wees in jou studies én jou sport. Daar is tyd vir alles as jy gedissiplineerd is en bereid is om hard te werk," glo hulle.
Hooffoto deur Stefan Els