Skip to main content
Landboustudent Kobus van Dyk maak merk in WP-rugbyspan

Landboustudent Kobus van Dyk maak merk in WP-rugbyspan

Engela Duvenage
28 September 2016

Wanneer die WP-rugbyspan Vrydagaand op DHL Nuweland uitdraf, sal dit die agste keer hierdie seisoen wees wat landboustudent Kobus van Dyk die bekende Streeptrui oor die kop kan trek.

Dié losvoorspeler het sy senior debuut vroeër vanjaar teen die Haaie gemaak, en het ook een wedstryd vir die Stormers teen die Kings gespeel. Vrydag se wedstryd teen die Boland is die WP se laaste kragmeting in die groepsfase van die nasionale Curriebekertoernooi, en hulle sal hoop op 'n goeie uitslag wat die weg kan baan op pad eindstryd toe.

Van Dyk is tans die enigste voltydse student aan die Universiteit Stellenbosch in 'n WP-span wat talle oud-Maties in sy geledere het. Hy is 'n finalejaarstudent en volg die program BScAgric met Landbou-ekonomie en Agronomie as hoofvakke.

Van Dyk het nie op hoërskool provinsiale rugby gespeel nie, maar sy sportloopbaan het op universiteit behoorlik momentum gekry. Dié agsteman staan 1.96 meter in sy sokkies, en was die afgelope twee seisoene een van die Maties se voorste driedrukkers in die Varsity-bekerreeks. Hy het ook die WP se o/21-span verteenwoordig.

Studies

Hy het gekies om 'n landboukursus te volg omdat dit nog altyd vir hom 'n uitgemaakte saak was dat hy na afloop van sy rugbyloopbaan wil gaan boer.

"Ek het al van kleintyd af saam met my pa op die plaas rondgery en gehelp waar ek kan," vertel die oudste van drie seuns wat op die graanplaas Anyskop naby Caledon grootgeword het.

Hy erken dit verg die afgelope paar maande baie fyn beplanning om sy studies én sportbedrywighede te kombineer, maar weet dat sy harde werk saam help vorm aan sy toekomsdrome.  

"Op die oomblik het ek nie baie aftyd nie, want as ek van oefening af kom moet ek begin leer of take doen," vertel Van Dyk, wat dankbaar is vir die wyse waarop sy dosente hom tegemoet kom.

"Ek probeer om nie my studies af te skeep nie, want hoe vinniger ek dit kan klaarkry hoe meer tyd gaan ek hê om op my rugby te spandeer," is sy heel realistiese ingesteldheid tot sy studies.

Rugbydrome

Benewens graad vang aan die einde van die jaar is sy visier daarop ingestel om 'n kontrak by die 2017 Stormers-groep te kry, en soveel moontlik speelkans in Kaapse spanne te kry.

"Nadat ek hierdie jaar al die gevoel van Super Rugby in een wedstryd gekry het, kan ek nie wag om nog te speel nie," vertel hierdie oudleerder van Hoërskool Overberg in Caledon en Rȗens Kollege by Klipdale. "Ek gaan dus baie hard werk om daardie doel te bereik."

Foto: Carl Fourie/Gallo Images