
Pandemie bring ontwrigting en onsekerheid, maar ook geleenthede
Hoewel die Covid-19-pandemie baie ontwrigting en onsekerheid veroorsaak het, het dit ook vele geleenthede gebring wat ons moet aangryp en ten volle moet benut. Dit is die mening van prof Portia Jordan van die Departement Verpleeg- en Verloskunde in ʼn artikel vir Mail & Guardian (8 Maart).
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Portia Jordan*
Dit is 'n jaar sedert die eerste geval van Covid-19 op 5 Maart 2020 in Suid-Afrika aangekondig is ̶ nie lank nadat SARS-COV-2 in Wuhan, China, geïdentifiseer is en op sy wêreldwye vernietigingstog begin het nie. Tot op hede ((3 Maart 2021)) is 1 513 393 positiewe Covid-19-gevalle in die land geïdentifiseer, met 1 430 259 persone wat herstel het (93,7% herstelkoers) en 49 993 sterftes. Ten spyte van hierdie herstelkoers, toon voorgesette navorsing dat COVID-19 op die lange duur aftakelende effekte het, soos chroniese moegheid, post-traumatiese stres-sindroom, angs, kardiese veranderinge, hoofpyn en geheueverlies.
Die afgelope jaar is verskeie bestuurstrukture ingestel om die implikasies van die pandemie te hanteer. Die land het verskillende vlakke van inperking ondervind wat daarop gemik was om die kurwe af te plat en infeksies te verminder. Sosiale byeenkomste, begrafnisse en godsdienstige aktiwiteite is beperk tot 100 of minder mense, afhangende van die vlak van inperking. Baie besighede en ander entiteite het gesluit en sommige is besig om te herstel.
Ekonomie
Die pandemie het 'n uiteenlopende impak gehad op die ekonomie, voedselsekerheid, gesondheid, die gesondheidsorgstelsel en het op baie maniere die ongelykhede in ons samelewing beklemtoon. Volgens die Lancet Covid-19-kommissieverslag (2020) “is 90% van alle lande wêreldwyd in 2020 in 'n resessie, wat moontlik die ekonomiese afswaai tydens die Groot Depressie in die dertigerjare oorskry." Die Wêreldbank (2020) stem saam wanneer dit verklaar dat “die pandemie die noodsaaklikheid van dringende optrede beklemtoon het om die ekonomiese gevolge te demp, die kwesbare groepe te beskerm en die platvorm vir 'n blywende herstel te skep."
Weens die verhoogde werkloosheid, verlies aan inkomste, onderbrekings in plaaslike voedselvoorsieningskettings, ekonomiese onrus en sosiale ongelykhede, het armoede tydens die pandemie vererger. Die Wêreldbank skat dat ten minste 132 miljoen mense in 2020 en daarna ekstreme honger en armoede kan ervaar. Armoede laat permanente letsels ̶ ondervoeding, vatbaarheid vir siektes en sielkundige effekte, om maar net enkeles te noem.
Onderwys
Die pandemie se impak op die onderwys kan nie onderskat word nie. Gedurende die eerste en tweede golwe is skole en tersiêre instellings gesluit, en studente se leer is onderbreek omdat onderwysers en dosente op afstands- en aanlynonderrig moes terugval. Baie kinders het egter nie toegang gehad tot toestelle of oor die vaardighede en kennis beskik om hierdie nuwe manier van leer en onderrig te kan navigeer nie. Tuisonderrig was aan die orde van die dag en in baie gevalle het ouers, broers en susters of voogde die onderwyser vervang. Die uitwerking van die oordrag van menslike kapitaal van ouers na kinders kan 'n blywende uitwerking op kinders se leer hê. Die impak van tuisonderrig op ouers se produktiwiteit, en kinders se sosiale lewe, psigososiale welstand en groei is betwisbaar en bied 'n geleentheid vir verdere verkenning.
Gesondheidsorg
Die pandemie het ook die broosheid van gesondheidsorgstelsels blootgelê, en ons het die gebrek aan noodsaaklike toerusting, die onvermoë om suurstoftoevoer, menslike hulpbronne en geen of beperkte beskikbaarheid van beddens in hospitale gesien. Dit het die oprigting van veldhospitale genoodsaak. Ons het ook gesondheidswerkers weens SARS-COV-2 verloor. Hoewel die impak van die pandemie oorkombaar is, glo ek dat ons steeds die langdurige gevolge in die toekoms gaan sien.
Hoewel daar vordering is met betrekking tot die ontwikkeling en inwerkingstelling van entstowwe, is daar nog steeds baie onbekendhede. Sal die verskillende entstowwe voldoende kudde-immuniteit bied? Sal dit effektief wees teen die nuwe variant? Hoe gaan ons entstof-aarseling, opname en nadelige gevolge hanteer? Hoe sal monitering plaasvind en hoe lank moet ons nog maskers dra, ontsmet en sosiale afstand handhaaf? En wanneer sal die pandemie eindig? Aangesien hierdie onbekendhede angs en ongemak kan veroorsaak, is korrekte boodskappe van uiterste belang.
Tegnologiese innovering
Die pandemie mag dalk ons lewens ontwrig het, maar dit het ook 'n behoefte aan verandering en 'n paradigmaskuif in ons denke teweeg gebring. Geleenthede vir innovasie, aangevuur deur tegnologie, insluitend kunsmatige intelligensie, kwantumrekenaarkunde, om maar net enkeles te noem, het ontstaan as gevolg van 'n toename in kreatiewe en nuwe denke. Tydens die inperking het e-handel aansienlik toegeneem en werk van die huis af het bygedra tot 'n digitale ontploffing met aanlynvergaderings wat deel geword het van die proses van herorganisasie.
Modelleringskonsortiums, wetenskaplikes, viroloë, epidemioloë en navorsers is genoeg geleenthede gebied vir innovasie, kreatiwiteit en nuwe ontdekkings. Kliniese proewe om farmakologiese middels te toets wat voordelig is vir die voorkoming of bestuur van Covid-19, bied 'n nuwe platvorm vir navorsing. In Suid-Afrika is baanbrekende navorsing in terme van die volgorde van genome van SARS-COV-2 binne weke gedoen en met die wêreld gedeel. Die identifisering van die nuwe variant in ons eie land het die kundigheid en vaardighede wat beskikbaar is en wat geslyp moet word, beklemtoon. Die buitengewone entstofontwikkelingsproses het die behendigheid van die wetenskap getoon. Die groei in die kennisekonomie die afgelope jaar ondersteun deur navorsing, bewysgebaseerde praktyke en samewerkende praktykgemeenskappe wat regoor Afrika en elders gevorm is, lewer bewys van die hoë gehalte van kennis-smouse op die vasteland.
Die wêreldwye krisisse wat die pandemie meegebring het, het ons ook die geleentheid gebied om ons sakemodelle en maniere van sake doen op strategiese wyse te heroorweeg en ons strategiese planne oor die volgende klompie jare te vernuwe. Die manier waarop gesondheidsorg, openbare gesondheid en onderwysinstellings werk, moet hersien word en 'n metodologie van sisteemdenke met 'n belynde bestuurbenadering kan die moeite werd wees om te ondersoek.
Dit sal die moeite werd wees om in operasionele vermoëns te belê, in terme van kostebestuur, ondernemingsvaardigheid en veerkragtigheid om die manier waarop ons sake doen in verskillende instellings te herstel en te herbedink. Menslikehulpbronbestuur in alle sektore, insluitend onderwys, gesondheidsorg en klein en mediumgrootte ondernemings, het die geleentheid om te belê in talentwerwing en die ontwikkeling van hul werknemers se vaardighede. Ons sal veldtogte moet prioritiseer wat welsyn en geestesgesondheid bevorder om die uitwerking van die pandemie op werknemers, gesinne en ander teen te werk. Benaderings tot die digitale wêreld wat in die vierde industriële rewolusie gesetel is, bied onbeperkte geleenthede om die onmoontlike te skep, te innoveer, te bou en te herbesin.
Hoewel die pandemie die wêreld op soveel maniere beïnvloed het, het dit ons ook 'n enorme geleentheid gebied om 'n nuwe sosiale kontrak vir in die 21ste eeu te besin, te heroorweeg, te herbou en te onderhandel. Die pandemie het ons daaraan herinner dat ons almal met mekaar verbind is en dat ons kragte moet saamsnoer om dit te oorkom. Te midde van hierdie krisis is daar 'n wêreld van geleenthede wat ons moet aangryp en na die beste van ons vermoë moet benut.
*Prof Portia Jordan is die uitvoerende hoof van die Departement Verpleeg- en Verloskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.