Skip to main content
Dr Nadia Fisher-Smith skryf akademiese sukses toe aan transfor-merende SciMathUS-ingryping

Dr Nadia Fisher-Smith skryf akademiese sukses toe aan transfor-merende SciMathUS-ingryping

Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
14 Desember 2023

​Toe Nadia Fisher-Smith se twee seuns, Daniel en Matthew, hoor sy gaan die titel “doktor" by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid ontvang, was hulle opgewonde dat hulle ma mense gaan gesond maak. “Ek moes aan hulle verduidelik dat ek nie daardie soort dokter sal wees nie," lag Fisher-Smith. “So nou verwys hulle na my as 'n wetenskaplike. My man, Charlton, reken ons deel die titel, so wanneer hy homself voorstel, sê hy: 'Ek is half doktor Smith'."

Daar is 'n goeie rede vir Fisher-Smith se geliefdes se groot opgewondenheid oor haar PhD in genetika wat sy Dinsdag ontvang het. Sy is die eerste een in haar familie om hierdie akademiese mylpaal te bereik.

Hoewel sy oorspronklik beplan het om 'n loopbaan in tandheelkunde te volg nadat sy haar matriek aan die Belhar Sekondêre Skool voltooi het, het haar planne verander toe die US se tandheelkundeprogram in 2004 na die Universiteit van Wes-Kaapland verskuif het. Dit het Fisher-Smith genoop om 'n Baccalaureus Scientiae (BSc)-graad aan die US te volg.

Sy skryf haar akademiese sukses die afgelope dekade toe aan 'n transformerende ingryping by die US wat die verloop van haar akademiese loopbaan van die begin af verander het.

Vroeë ingryping 

“Toe ek by die US aansoek gedoen het, het ek ongelukkig nie aan die vereistes vir die BSc-program voldoen nie. 'n Mentor het ingespring om leiding en ondersteuning te bied. Sy het voorgestel ek herhaal matriekwiskunde, en wat veral belangrik is, is dat sy vir my van SciMathUs vertel het. Dit is 'n program wat deur die Universiteit aangebied word om studente te help om hulle akademiese prestasie te verbeter," verduidelik Fisher-Smith. 

Dit was vir haar 'n belangrike keerpunt om by SciMathUS aan te sluit “Toe ek met die program begin, het dit gou duidelik geword dat ek nie ten volle voorbereid was op die strafheid van studie op universiteitsvlak nie. Die SciMathUs-program het nie net my wiskundige vaardighede verbeter nie, maar ek het ook waardevolle ondersteuning en hulpbronne ontvang om akademies uit te blink. Terugskouend het SciMathUS my 'n waardevolle geleentheid gegee om my grense te verskuif en my verwagtinge te oortref.

“Gedurende my tyd by SciMathUS het ek tot 'n diepgaande besef gekom wat my perspektief en benadering tot die lewe vir altyd verander het. Die program beklemtoon die waarde van harde werk, onwrikbare vasberadenheid en die belangrikheid daarvan om alternatiewe maniere te ondersoek om 'n mens se doelwitte te bereik. Dit was 'n diep ervaring wat 'n onuitwisbare indruk op my persoonlike en akademiese ontwikkeling gelaat het.

“Een van die belangrikste goed wat ek by SciMathUS geleer het, is dat terugslae en onverwagte ompaaie op 'n mens se opvoedkundige pad in geleenthede vir groei omskep kan word. SciMathUS het 'n deurslaggewende rol in die kweek van hierdie ingesteldheid gespeel. Dit het my geleer dat teëspoed 'n trappie na sukses eerder as 'n struikelblok kan wees as dit met die regte gesindheid en 'n bereidwilligheid om te volhard, benader word. Hierdie les is sedertdien 'n rigtinggewende beginsel op my opvoedkundige reis wat my in staat stel om uitdagings te oorkom en aan te hou strewe na my doelwitte.

“Danksy my verbeterde akademiese prestasie het ek toelating gekry om 'n baccalaureusprogram in natuurwetenskap aan die US te volg. Hierdie prestasie het direk uit die voorbereiding en ondersteuning wat ek by SciMathUS ontvang het, voortgevloei. Dit is 'n bewys van hoe die program my effektief vir die uitdagings van universiteitstudie gereed gemaak het."

Waardevolle mentorskap 

Nadat sy haar BSc-graad verwerf het, het Fisher-Smith se passie vir genetika eers tot 'n honneursgraad in die vak en toe tot 'n meestersgraad op dieselfde vakgebied gelei en het sy aan gevorderde navorsingsprojekte deelgeneem.

Sy het “ongelooflik geëerd" gevoel toe haar genetikadosent, prof Anna-Maria Botha-Oberholster, haar gekies het om deel van haar navorsingspan te wees. “Sy was my mentor én huidige studieleier en het belangrike finansiële ondersteuning en morele aanmoediging op my akademiese reis verskaf. Haar geloof in my potensiaal het 'n diep persoonlike vasberadenheid aangevuur om haar keuse te bekragtig," sê Fisher-Smith.

Die titel van haar PhD-verhandeling is “An investigation into the wheat (Triticum aestivum L.) host response to Russian wheat aphid (Diuraphis noxia Kurd.) feeding". Plantluise is insekte wat koringplante vreet en kan aansienlike skade aan gewasse kan aanrig, wat boere se opbrengste van hulle lande verlaag, verduidelik Fisher-Smith. “My studie het ten doel gehad om te ondersoek of geneties gemodifiseerde koring meer verdraagsaam teenoor plantluisaanvalle kan wees. Ek sien nou daarna uit om my werk as genetikus voort te sit, betekenisvolle bydraes tot die wetenskaplike gemeenskap te lewer en die balans tussen my rolle as toegewyde navorser, 'n liefdevolle vrou en 'n trotse ma te handhaaf."

Fisher-Smith sê sy voel oorweldig deur al die boodskappe van ondersteuning en gelukwense wat sy van vriende en familie ontvang het. Haar reis was merkwaardig en vervullend, merk Fisher-Smith op en sy is ontsettend dankbaar vir die voorreg om 'n toegewyde pad in die wetenskap deur die akademie te volg. Die talentvolle genetikus sien daarna uit om in 2024 met nadoktorale navorsing te begin.

Fisher-Smith bied aan studente wat onsekerheid en uitdagings ondervind, die volgende wyse woorde: “Moenie huiwer om hulp en ondersteuning by mentors, onderwysers of programme soos SciMathUS te gaan vra nie. Mentors het 'n deurslaggewende rol gedurende my reis gespeel, en om iemand te hê wat in jou potensiaal glo, kan 'n baie groot verskil maak.

“Onthou, jou reis is uniek en jou potensiaal is eindeloos. Dit is miskien nie 'n eenvoudige pad nie, maar met vasberadenheid en uithouvermoë kan jy jou pad deur die draaie vind en uiteindelik jou bestemming bereik. Die belangrikste is om aan te hou om vorentoe te beweeg, selfs wanneer die pad onseker lyk, want dit is die reis self wat bepaal wie jy word."

FOTO: Stefan Els