Skip to main content
Stefan Els

Jou veiligheid

Saam vir 'n VEILIGER kampus

US stel Buzzer-App in werking

Buzzer QR code
Image by: Generated QR code

Kampussekuriteit en Buzzer, 'n gemeenskapsbestuursplatform en veiligheidsapplikasie, het kragte saamgesnoer om deurlopende veiligheidsinisiatiewe by die Universiteit Stellenbosch te ondersteun. 

Die Buzzer-app stel studente en personeel in staat om Kampussekuriteit direk vanaf hulle selfone in kennis te stel wanneer hulle hulp nodig het. 

Die app se geo-grens is vir die US se Stellenbosch-kampus gestel, wat beteken die SOS-funksie, kennisgewing en aanmelding werk net terwyl jy op hierdie kampus is. Die US-spesifieke platform is tans slegs vir US-studente en personeel op die Stellenbosch-kampus toeganklik.

 Laai die app via die QR kode af of gaan na die Gereelde vrae hieronder vir meer inligting.

Die app is gratis vir US-studente en personeel. 

Die veiligheid van studente en personeel is vir die Universiteit Stellenbosch van die uiterste belang. 'n Toegewyde, hoogs opgeleide sekuriteitspan patrolleer die Universiteitskampus en geriewe. Hulle word deur 'n 24/7-beheersentrum ondersteun wat alle noodoproepe hanteer en die aktivering van alarms en kringtelevisiestelsels monitor.
 

Omdat die Universiteit Stellenbosch 'n oop kampus het, wat nou geïntegreer is met Stellenbosch se sentrale sakekern en omliggende gebiede, het die Universiteit 'n stewige vennootskap met plaaslike wetstoepassings- en veiligheidsagentskappe gesmee om omvattende dekking en veiligheid regoor die groter Stellenbosch-omgewing te verseker. 

Die Universiteit het die afgelope paar jaar 'n aansienlike hoeveelheid tyd, energie en hulpbronne aan die opskerping van veiligheids- en sekerheidsmaatreëls gewy. Hierdie maatreëls word deurlopend hersien en sluit die identifisering van groot of nuwe tendense en die dienooreenkomstige aanpassing van sekerheids- en veiligheidstrategieë in om die veiligheid van ons studente en personeel op kampus te verseker.

Jy sal op hierdie bladsy besonderhede oor hulpbronne, inisiatiewe en veiligheidsmaatreëls vind wat by die US in werking gestel is. Indien jy enige bykomende navrae het, moet jy asseblief nie huiwer om ons te kontak by [email protected] nie.

WhatsApp-saamstapdiens

As jy tussen 18:00 en 06:00 tussen geboue of parkeerterreine op kampus moet stap, kan jy 'n sekerheidswag versoek om jou te vergesel. Stuur 'n WhatsApp-saamstapdiensversoek na Kampussekuriteit en 'n sekerheidswag sal aangewys word om jou te vergesel.

Hierdie gratis diens is regdeur die jaar op kampus beskikbaar.

Stellenbosch-kampus: 082 808 2333 

Tygerberg-kampus: 083 938 1841 


Gratis Stellenbosch-kampuspendeldiens snags  

Benut gerus die gratis nagpendeldiens wat daagliks gedurende die kwartaal van 18:00 tot 06:00 op kampus beskikbaar is. Die pendeldiens vertrek elke uur op die uur vanaf die Neelsie-parkeerterrein en dek 'n radius van 6 km vanaf die kampusgebied om studente veilig by hulle woonplek of studenteverblyf te besorg. Bespreek via die SUN-studenteportaal. 

Kampuskaart 

Besoek die interaktiewe kampuskaart

Stellenbosch-kampus

24-uur-noodnommer
021 808 2333

Tolvrye nommer:
0800 02 58 27

WhatsApp-nommer vir saamstapdiens:
082 808 2333

 

Tygerberg-kampus

24-uur-noodnommer:
021 931 5111

Tolvrye nommer:
0800 00 67 67

WhatsApp-nommer vir saamstapdiens:
083 938 1841

 

Safety Posters on Stellenbosch Campus
Image by: Stefan Els

Volg hierdie veiligheidswenke op kampus:

  • Moet nooit alleen stap nie, veral nie in die aand of nag nie. Beplan om in groepe saam te stap, die pendeldiens te gebruik, of versoek Kampussekuriteit om saam met jou te stap (saamstapdiens).
  • Hou by die voorkeurroetes wanneer jy op kampus stap. Dit sluit Victoriastraat en Bosmanstraat in waar daar snags veiligheidswagte in mobiele veiligheidskiosks aan diens is.
  • Kies die veiligste roete, selfs al is dit nie die kortste pad nie.
  • Vermy afgesonderde gebiede, veral wanneer jy vroegoggend of laatmiddag oefen.
  • Wees bewus van jou onmiddellike omgewing.
  • Handhaaf 'n veilige afstand indien 'n motoris by jou sou stilhou om aanwysings te vra.
  • As jy vermoed dat iemand jou moontlik agtervolg, verander van rigting, stap na mense toe en vra hulp.
  • Wees 'n Matie wat omgee – vergesel 'n vriend of vriendin.
  • Moenie waardevolle artikels binne sig in jou voertuig laat nie.
  • Sorg dat jou voertuig behoorlik gesluit is voordat jy daarvan af wegstap.
  • Belê in 'n U-slot om jou fiets te beveilig.
  • Gebruik die fietsskure op kampus.
  • Moenie waardevolle besittings ten toon stel nie.
  • Moenie op 'n selfoon loop en praat nie.
  • Sorg dat jy altyd 'n klein, herlaaibare flitslig by jou het.
  • Sorg dat jy altyd 'n fluitjie en pepersproei by jou het.
  • Sê altyd vir 'n vriend of twee waarheen jy gaan.

Gereelde vrae

Die US kan weens veiligheidsredes nie inligting oor alle veiligheidsmaatreëls verskaf nie. Meer as 60 interne veiligheidsbeamptes patrolleer egter saam met meer as 200 gespesialiseerde sekerheidskontrakpersoneel die Universiteitskampusse.

Saamstapdiens

Die US bevorder aktief die Universiteit se saamstapdiens wat elke aand vanaf 18:00 beskikbaar is. Studente kan versoek om in die aand deur ’n veiligheidsbeampte vergesel te word wanneer hulle tussen geboue of oor parkeerterreine op kampus stap. Hierdie gratis diens is regdeur die jaar op kampus beskikbaar. Studente kan die saamstapdiens versoek deur ’n WhatsApp-boodskap na 082 808 2333 te stuur.

'n Bykomende "saamstap-sneldiens" is ook gedurende assesseringstye daagliks vanaf 19:00 op die uur beskikbaar. Studente kan by die veiligheidskiosk buite die Jan Mouton-gebou bymekaarkom, vanwaar 'n veiligheidsbeampte groepe na verskeie bestemmings op kampus sal vergesel. (Hierdie diens vervang nie die normale saamstapdiens nie.)

 

Terwyl die Universiteit voortdurend bewustheid skep en veiligheidskwessies op kampus in samewerking met ander veiligheidsagentskappe op die dorp aanspreek, beskou dit studente, personeel en die publiek as vennote in hierdie proses en doen ons 'n beroep op hulle om waaksaam te bly en waaksame en aktiewe vennote in kampusveiligheid te wees. Dit sluit in om verantwoordelikheid vir hulle persoonlike veiligheid op kampus en in die dorp te neem – veral in die aand.

Die Universiteit is deur middel van Kampussekuriteit 'n lid van die Stellenbosse Sekuriteitsnetwerk waar die verskillende veiligheidsvennote veiligheidsinligting deel. Kampussekuriteit mag egter slegs die kampus patrolleer. Ingevolge die regulasies van die reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (PSIRA) is Kampussekuriteit tot veiligheidsbedrywighede binne die kampusgebied van die Universiteit beperk

Gereelde aksies en inisiatiewe wat deur die Universiteit onderneem word, sluit die volgende in: 

Misdaadvoorkoming en bewusmaking gedurende Verwelkomingsweek: Kampussekuriteit bied inligtingsessies vir studenteleiers en groepe nuwelinge aan om inligting oor selfverdedigingsopleiding te verskaf en om persoonlike veiligheidsapplikasies soos Buzzer en pepersproei te bevorder.Sien ons nuuste video hier
 

Benutting van sosiale media vir kampusveiligheidsbewustheid: Kampussekuriteit gebruik sosiale media om bewustheid te skep en waaksaamheid onder die kampusgemeenskap te bevorder. Platforms wat gebruik word om beste praktyke en misdaadvoorkomingswenke te kommunikeer, sluit die Universiteit se Facebook-bladsy, Instagram en TikTok in (sien voorbeelde van plasings en video's hieronder). TikTok stel Kampussekuriteit in staat om 'n wye gehoor te bereik, aangesien dit baie gewild is onder jong volwassenes. Die kort video's wat op hierdie platform geplaas is, is al byna 1 000 keer gekyk. Kyk die video hier.

 

Die Universiteit besef dat veiligheid 'n gedeelde verantwoordelikheid is, en werk daarom nou saam met sleutelbelanghebbers op die dorp deur onder meer gereelde besprekings by veiligheidsforums en die Burgemeester-/Rektorforum om 'n omvattende benadering tot veiligheid te verseker. Die US sal nie ophou om aktief met die res van die rolspelers op die dorp saam te werk en die nodige hulpbronne toe te wys om die veiligheid van sy studente te verseker nie. Die US waardeer ook die feit dat die SAPD en sy veiligheidsvennote onvermoeid werk om hierdie sake te ondersoek.

 

Die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid implementeer die US se beleide oor onbillike diskriminasie en teistering en bied verskeie dienste en ondersteuning aan studente en personeel. Klik hier om meer te lees

Studente het ook toegang tot die SU INSPIRE-fasiliteit (volg ook heirdie skakel) binne die Stellenbosch GBG-sentrum in Idasvallei, Stellenbosch.


Buzzer-App: Gereelde vrae

•    Stuur 'n SOS-noodboodskap aan Kampussekuriteit
•    Meld veiligheidskwessies op kampus aan
•    Ontvang intydse kampusveiligheidswaarskuwings 
•    Stuur stemnotas en foto's 
 

Volg die gids hieronder om aan te sluit en geverifieer te word. 

Stap 1: Laai af en teken in 

•    Laai die Buzzer-app af vanaf Apple App Store of Google Play Store. 
•    Skep jou rekening en stel jou basiese profiel op. 

Stap 2: Sluit aan by die US-gemeenskap 

Sodra jou rekening opgestel is, moet jy dit aan die Universiteit koppel:

•    Maak die app-kieslys oop en klik op ‘My Communities’.
•    Kies die opsie om by 'n nuwe gemeenskap aan te sluit. 
•    Tik die aansluitingskode <Maties> in of skandeer eenvoudig die Universiteit se QR-kode. 

Stap 3: Beveilig jou profiel

Om by die beskermde gemeenskap aanvaar te word, moet US Kampussekuriteit jou identiteit verifieer (verifikasie kan tot 48 uur neem). Jou versoek sal "hangende" bly totdat jy hierdie stappe voltooi het: 

•    Gaan na ‘My Profile’ en 'View Profile.'
•    Kies Sekuriteitsverskaffer (‘Security Provider’) en dan US Kampussekuriteit (‘SU Campus Security’)
•    Tik jou studente- of personeelnommer in

Maak asseblief seker jou student- of personeelnommer is korrek ingetik om enige vertragings in jou goedkeuringsproses te voorkom. 

Die app sluit 'n SOS-paniekknoppie in, wat direk aan Kampussekuriteit op die Stellenbosch-kampus gekoppel is. Wanneer dit geaktiveer word, word Kampussekuriteit se beheerkamer in kennis gestel sodat hulp gestuur kan word. 

Gebruikers (personeel of studente) kan ook deur middel van die aanmeldingsknoppie meer spesifieke soorte voorvalle aanmeld. 

Let asseblief op: Die app het 'n geo-grens, wat beteken die SOS-funksie werk net terwyl jy op die Stellenbosch-kampus is. Die US-spesifieke platform van die app is slegs vir US-studente en personeel toeganklik. 

 

Wanneer jy die SOS-knoppie aktiveer, word Kampussekuriteit op die Stellenbosch-kampus onmiddellik in kennis gestel. 

Ander Buzzer-gebruikers (studente en personeel) op die Stellenbosch-kampus wat ingestem het om noodboodskappe te ontvang, word ook in kennis gestel.

Gebruikers in die nabye omgewing kan help waar moontlik. 

Privaatheidskennisgewing:
Slegs Kampussekuriteit kan jou naam en telefoonnommer sien sodat hulle jou in 'n noodgeval kan kontak. Ander gebruikers kan net jou ligging – en nie jou identiteit of kontakbesonderhede nie – op die kaart sien. 

 

Toegang tot gebruikers se ligging is noodsaaklik vir die toepassing om behoorlik te funksioneer, aangesien dit Kampussekuriteit toelaat om op die korrekte ligging te reageer en te verseker dat jy toepaslike waarskuwings ontvang. 

Buzzer is met privaatheid in gedagte ontwerp: Liggingdata word gekodeer en veilig oorgedra en Kampussekuriteit kan slegs persoonlike besonderhede sien wanneer hulle 'n noodboodskap ontvang.

Buzzer voldoen ook ten volle aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI).

 

Die app herken jou ligging outomaties deur jou toestel se GPS of netwerkgebaseerde liggingdienste (“location”) te gebruik. Maak seker liggingdienste is op jou toestel geaktiveer. 

Klik hier om na 'n video van die app se opstelling en sleutelkenmerke te kyk. 

Om 'n noodboodskap te skep: Tik op die "Report"-knoppie, kies die tipe noodboodskap, en voeg 'n beskrywing, foto of stemnota by indien nodig.

Hoe om waarskuwings te sien: Tik op die "Alerts"- of "Broadcasts"-oortjie om onlangse waarskuwings oor voorvalle op kampus te sien.
 

Deur met die Stellenbosch Universiteit-gemeenskap te skakel, is jy aan ander US-studente en personeel op Buzzer gekoppel en sal jy waarskuwings en verslae regoor die Stellenbosch-kampus sien. 

Noodboodskappe kan nie verwyder word nadat dit gestuur is nie. Indien 'n boodskap per ongeluk gestuur word, moet jy die app se kletsfunksie gebruik om te bevestig dat dit 'n toets of 'n fout was en Kampussekuriteit sal die dan die noodboodskap sluit.

Die datagebruik vir die app is minimaal. 

In hierdie stadium is die geo-grens vir die inwerkingstelling tot die hoofkampus beperk, gegrond op die huidige implementeringsparameters.