Skip to main content
'Vroue Krygers' op die voorste linie van Covid-19

'Vroue Krygers' op die voorste linie van Covid-19

FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Michelle Galloway
25 Augustus 2020

"In die moeilike tye was ek vervul met trots op die merkwaardige span wat hoofsaaklik uit vroue bestaan. Hulle is sterk vroue, wat hulle beste gee," het dr Usha Lalla gesê. Sy is ʼn intensiewe sorg-kenner wat heel voor op die Covid-19-linie werk in die intensiewe sorgeenheid by die Tygerberg-hospitaal. "Dit is vroue wat in die donkerste tye saam gehuil, gelag en selfs gedans het."

Lalla was een van vyf 'Vroue Krygers' wat hulle ervarings van die stryd teen Covid-19 gedeel het in ʼn opbeurende en insiggewende webinaar wat deur die FGGW se Vroue Forum aangebied is as deel van hulle Vroue Maand-aktiwiteite. Die voorsitters van die webinaar was prof Sharon Kling, van die FGGW se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, en prof Keymanthri Moodley, direkteur van die FGGW se Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg. Die sprekers het hulle vrese gedeel en vertel van die uitdagings wat hulle ervaar het in die stryd teen ʼn onbekende aanvaller terwyl hulle ook familie verantwoordelikhede moes nakom, asook die lesse wat hulle geleer het in hierdie onstuimige tydperk.

Dr Nadiya Ahmed van die hospitaal se Kritieke Sorgeenheid het beskryf watse fyn voetwerk dit geverg het om al haar verantwoordelike na te kom: "Dit is niks nuut nie – ons 'juggle' nog die hele tyd, maar die pandemie en net nog ʼn bal bygevoeg. Buiten dat ek ʼn dokter is, is ek ook ʼn eggenoot, ʼn moeder, ʼn dogter en ʼn skoondogter – tydens die pandemie het ander verantwoordelike Ramadaan, twee Eids, my 40ste verjaarsdag, my 12de huweliksherdenking en my kind se verjaarsdag ingesluit."

"Ek sou graag wou sê dat ek ʼn werk-lewe balans gehandhaaf het, maar ek het nie. En ek het baie skuldgevoelens oor my familie ervaar," het Lalla gesê. "Maar ek herinner myself gereeld dat kinders veerkragtig is en dat ek my beste doen."

"Dit was ʼn intense sewe maande," het dr Arifa Parker van die Afdeling Infeksiesiektes bygevoeg. "Een virus het die wêreld verander. Ek is ongemaklik met die webinaar-titel wat ons as 'Vroue Krygers' bestempel. Ons is net vroue, en ons behandel mense met vriendelikheid en barmhartigheid."

"Jy moet nederig wees," het sy gesê. “Nie een van ons is Covid-19-kenners nie. Jy moet leer, verleer en oorleer."

Sy het verduidelik hoe haar departement met hul beplanning in Januarie begin het toe hulle hul eerste vermoedelike pasiënte gehad het.

"Ons het glad nie geweet waarvoor ons onsself inkry nie," het sy gesê. "Ons moes dit wat ons gedink het ons weet, verleer."

Vinnige aanpassing was van kardinale belang en voorlopige stapels papierwerk is vinnig afgewerk tot ʼn een-bladsy protokol, terwyl die vloeiproses wat ontwikkel is om kruisinfeksie te voorkom oor die hele provinsie toegepas is.

"Aan die begin was dit moeilik," het Ahmed gesê. "Ons moes vernuftige manier vind om goed te doen. Kanker het nie opgehou nie en ander kritieke siektes het nie gestop nie. Ons het ʼn 'beddedans' gedoen."

Sy beskryf hoe sy in die hospitaal rondgestap het opsoek na toerusting wat heraangewend kon word.

Die fisiese uitdagings was yslik. Lalla het gesê dat die Covid-19 intensiewe sorgeenheid met sewe beddens en 60 personeellede begin het, maar nou 32 beddens en 190 personeellede het, wat 340 pasiënte sedert Maart geakkommodeer het.

"Dit was beheerde chaos. Elke dag het nuwe uitdagings gebring ten spyte van noukeurige beplanning," het sy gesê. "Hierdie siekte is kranksinnig, en wyk heeltemal af van die handboek. Dit het geen reëls gevolg nie en het hulpeloosheid, frustrasie en mismoedigheid meegebring. Dit was sieldodend dat ons nie almal kon help nie."

"Maar daar was ook hoogtepunte," het Lalla gesê. "Ons eerste pasiënt wat ontslaan is na intubasie en ventilasie was een. Dit het ons hoop gegee – lig aan die einde van die tonnel. Die ander een was die gebruik van hoë-vloei nasale suurstof – ʼn verligting aangesien dit pasiënte toegelaat het om te kommunikeer."

Spanwerk maak drome waar

Al die sprekers het die belangrikheid van spanwerk beklemtoon.

"Om die skip deur stormwater te kry moet jy mense vind op wie jy kan staatmaak om ʼn plan te maak," het Ahmed gesê.

"Ons moes ons beperkinge aanvaar," het dr Nonte Mhlana, wat in April by die Covid-19-eenheid aangesluit het, gesê. "Jy kon nie dit gebruik wat jy in jou opleiding geleer het nie. Ons het nie genoeg geweet nie. Jy moet vir hulp vra, buigbaar wees, en bereid wees om te leer en aan te pas."

"Die uitdagings sluit vrees en angs in, tesame met die fisiese en geestelike uitputting," het sy gesê. Sy het vertel hoe sy haar familie se fisiese ondersteuning gemis het, maar terselfdertyd dankbaar was dat hulle in ʼn ander provinsie was sodat sy nie bekommerd hoef te wees dat sy hulle moontlik kon aansteek nie.

Benewens 24-uur pasiëntesorg met tye, moes personeelveiligheid verseker word deur middel van die gebruik van persoonlike beskermende toerusting (PBT) en infeksie-beheer riglyne en opleiding, die akademiese program het voort gegaan, en ervarings is aangeteken om bewysbasis te bevorder.

Dr Suretha Kannenberg van die FGGW se Afdeling Dermatologie is sedert die begin van die pandemie aktief betrokke by verskeie vrywilliger- en ondersteuningsaktiwiteite by die hospitaal. Sy het vertel dat die studente vrywilligerprogram alles insluit van kinders oppas, inbelsentrum werk, kontak opsporing, sifting, administrasie en datavaslegging, tot die maak van maskers, spasieerders en skerms vir die gebruik vir PBT. Sy het erkenning gegee aan die voortdurende donasies van gemeenskapsgroepe en besighede.

Die aanbieders het beklemtoon dat Covid-19 weereens geskiedkundige ongelykhede ontmasker het, nietemin die behoefte vir vroue stemme.

"Waar is die vroue kenners?" het Parker gevra. "Ek is omsingel deur merkwaardige vroue. Ons moet ons stemme gebruik."

Onderskrif: Drs Nadiya Ahmed, Suretha Kannenberg, Usha Lalla, Nonte Mhlana en Arifa Parker.