
US maak drome ’n werklikheid
Die Nigeries-gebore Chioma Amaechi sê sy het vir die eerste keer van die Universiteit Stellenbosch (US) gehoor terwyl sy na die beste universiteite in Afrika gesoek het nadat sy haar hoërskoolopleiding in 2010 voltooi het.
Chioma is 'n voltydse honneursstudent in publieke en ontwikkelingsbestuur aan die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; sy werk ook as 'n studente-navorsingsassistent vir die Afrika-VK Trilaterale Navorsingsleerstoel, Mainstreaming Gender for Energy Security in Poor Urban Environments (GENS), aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Ek is in wese 'n gemeenskapsbouer en ek is so opgewonde om my drome by hierdie vooraanstaande universiteit te verwesenlik deur in my vakgebied te studeer," sê die 25-jarige.
Chioma se harde werk het tot gevolg gehad dat sy as een van die 2020 Mandela Rhodes-stigting se beurshouers saam met 54 ander studente van regoor Afrika aangewys is. Chioma sê sy koester hierdie prestasie en beskou dit as 'n leer-, inspirasie- en 'n stukrag-platform om 'n fenomenale Afrika-leier te wees.
Die Mandela Rhodes-stigting is 'n amptelike Nelson Mandela-nalatenskaporganisasie wat ten doel het om uitsonderlike leierskapkapasiteit in Afrika te ontwikkel. Die organisasie verskaf 'n kombinasie van nagraadse befondsing en 'n leierskapsontwikkelingsprogram aan jong Afrikane wat oor akademiese vaardighede en leierskappotensiaal beskik.
“Ek glo onderwys is 'n baie belangrike instrument en 'n noodsaaklike hulpmiddel wat nodig is om die begeerde toekoms te skep en om die armoede waaronder Afrika gebuk gaan, te bekamp. Ontwikkelingstudies sal my help om my drome te realiseer om 'n volhoubare Afrika vir die kwetsbaarste mense te skep.
Gedrewe deur haar passie vir jongmense, is Chioma ook die sameroeper van die Youth Activate the Movement-beweging (YATM) en Hadassah's Mere, 'n platform wat sy gebruik om die jeug en jong meisies in minderbevoorregte gemeenskappe in Lagos, Nigerië op te voed en te bemagtig.
Sy sê die platform strewe na aksie en die integrasie van volhoubare agendas om die lewens van mense in Afrika te verbeter. “Ek is passievol oor die ontwikkeling van die samelewing, volhoubare groei, geslagsgedrewe entrepreneurskap en openbare beleid. Ek sien dit as noodsaaklike instrumente vir die bou van 'n volhoubare samelewing."
Sy gebruik verskeie mediums om haar stem teen die seksuele teistering van meisies in Afrika te verhef en haar doelwit is om oplossings vir die fundamentele probleme wat met vroue en kinders in ontluikende ekonomieë verband hou, te soek – veral in verband met armoede, ongelykheid en hongersnood.
“Ek droom van 'n samelewing van florerende vroue wat grense oorsteek en stereotipes vernietig en die US se program is besonder geskik hiervoor," voeg sy by.
“Om by die US en in Suid-Afrika te wees, was sover 'n wonderlike en aangename ondervinding. Ek is opgewonde om hier te wees en om elke dag meer in my vakgebied te leer. Die grootste lewensles wat ek sover geleer het, is om daarna te reik. Dit som drome, passies en uitwerkings op. Wat jy ook al wil bereik, is moontlik wanneer jy daarna reik," sê Chioma.
Sy sê die meerderheid uitdagings in haar lewe is uit haar gedagtes afkomstig, maar sy het haarself gedwing om bo dit uit te styg en dit het gewerk. “Ek moet myself soms daaraan herinner en speel dit oor en oor in my gedagtes as 'n mantra dat ek beter kan wees. Ander kere gaan ek tot aksies oor wat my beter maak. Hoe ook al, die geheim is om jou gedagtes te kondisioneer dat jy beter is as die ergste dae; en so hou jy aan beweeg," voeg sy by.
Sy sê haar werk en lewensdoelwitte is ineengestrengel en sy wil gelukkig wees terwyl sy doen waarvoor sy lief is – publieke diens. Afgesien daarvan om mense te dien, geniet Chioma dit om met vriende en familie te gesels, om video's van snaakse danse te maak en om 'n gerieflike ruimte vir haarself te skep.
Om meer oor haar werk uit te vind, klik hier.