Tawanda se PhD sorg vir nog 'n eerste vir Volhoubare Landbou-program
Tawanda Marandure was onder die eerste groep studente wat in 2014 die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe MSc-kursus in Volhoubare Landbou aangepak het – en hy is ook die eerste student wat met die kwalifikasie gradueer het. Nou is hy ook die eerste student aan die US wat 'n doktorsgraad as deel van dié program verwerf het. Doktor Marandure pas nou insigte uit sy studies prakties toe as deel van 'n internasionale navorsingsgroep wat ondersoek hoe daar 'n balans geskep kan word tussen die volhoubare bestuur van grasvelde, veeproduksie en winsgewende boerdery in die Oos-Kaap.
Dr Marandure het aan die begin van die jaar in Matatiele ingeval as navorsingsassistent vir 'n navorsings- en ontwikkelingsprogram wat deur Coventry Universiteit, wat in die Verenigde Koninkryk gesetel is, aangebied word. Die projek ondersoek hoe 'n balans gevind kan word tussen die behoeftes van mense en die omgewing. Lae-tegnologie intensifikasie van veebestuur in kommunale weidingsgebiede in en rondom Matatiele word toegepas. Die gebruik van weidingskampe, intensiewe aangeplanteweidings en die verwydering van indringerplante om diereproduksie in kleinskaalse sisteme te optimaliseer, word onder meer ondersoek.
“Ek ondersoek tans of verbeterde weidingsbestuurspraktyke kan lei tot ʼn verhoogde beskikbaarheid van water en plantegroei, om sodoende veeproduksie en mense se lewensomstandighede te verbeter," verduidelik hy. "Ek ondervind dat alles wat ek hier doen, makliker gemaak word danksy die multidimensionele perspektiewe oor die lewe wat ek gedurende my nagraadse studies in volhoubare landbou geleer het," voeg dr Marandure by. “Die belangrikste ding wat ek gedurende my studies geleer het is, om elke omstandigheid binne 'n holistiese konteks te bestudeer. Kontekstualiteit en holistiese denke, eerder as om dinge net op gesigswaarde te neem, is belangrik indien ʼn mens ingeligte besluite wil neem." Een van sy navorsingspassies is om maniere te vind om veeproduksiestelsels volhoubaar te verbeter, wat uiteindelik kleinboere sal kan help om meer veerkragtig en aanpasbaar te wees in terme van die uitdagings waaraan hulle blootgestel word..
Dr Marandure (40)het in 2007 'n MSc in Landbou-meteorologie van die Universiteit van Zimbabwe ontvang. Hy was 'n hoërskool onderwyser en 'n universiteitsdosent in Dierewetenskap, voordat hy na Suid-Afrika verhuis het vir sy MSc-studies aan die US. In 2015 was hy die eerste student om 'n MSc-graad in Volhoubare Landbou aan dié instelling te ontvang.
Sy besluit om volhoubare landbou as vakgebied te bestudeer is aanvanklik gemotiveer deur sy wens om 'n loopbaanskuif te maak en die hoop dat hy eendag vir nie-regeringsorganisasies sou kon werk. Hy wou ook meer te wete kom oor interdissiplinêre studies wat aspekte vanuit verskillende vakgebiede bekyk.
Dr Marandure is nie een oomblik spyt oor sy keuse nie en het die MSc-kursus vanaf dag een uiters stimulerend gevind.
“Die eerste module was oor 'Systems Thinking' of sistemiese denke. Dit het my anders laat kyk na die lewe oor die algemeen en in besonder natuurlike stelsels vanuit 'n holistiese perspektief. Dit het tot gevolg gehad dat ek baie eensydige opinies wat ek oor die lewe gehuldig het, verander het," verduidelik hy.
Sistemiese denke bied 'n holistiese benadering tot analise. Dit fokus op die manier waarop verskillende dele van 'n stelsel met mekaar verband hou en hoe stelsels oor tyd en binne die konteks van groter sisteme, eerder as afsonderlike elemente, werk.
Sistemiese denke het 'n lewenswyse vir dr Marandure geword. Hy moedig gereeld ander mense aan om op een of ander manier 'n kursus daaroor te volg en hul kennis daaroor uit te brei. "Sistemiese denke verbreed 'n mens se waardering vir natuurlike stelsels en verbeter jou begrip van hoe komplekse stelsels ontleed kan word," verduidelik hy.
Vir sy MSc-graad het hy 'n opname gedoen oor die volhoubaarheid van die produksiestelsels van kleinveeboere in Suid-Afrika. Hy het ook gekyk hoe hul werksaamhede vertikaal geïntegreer kan word in die land se formele beesvleis-waardeketting. Dié studie is gedoen onder leiding van dr Cletos Mapiye, 'n senior lektor in die US Departement Veekundige Wetenskappe.
Sy Meestersprojek het gevolglik die basis vir sy PhD-navorsingswerk gevorm, weer onder toesig van dr Mapiye. Dr Marandure het met sy doktorale navorsingwerk, 'n raamwerk geskep om die volhoubaarheid van lae-inset veeboerdery met herkouers en op plaaslike vlak te assesseer. Hierdie navorsingstudie het die studie van werksaamhede van sewe gemeenskappe in die Oos-Kaap daarmee ingesluit.
Tawanda se studie het bevind dat kleinskaalse bedrywighede in terme van herkouerboerdery in die Oos-Kaap tot 'n mate ekonomies en sosiaal volhoubaar is. Die omgewingsimpak daarvan weens faktore soos lae grondvrugbaarheid en die beskikbaarheid van min plantegroei, maak dat dit egter nie volhoubaar is nie. Die ekonomiese en sosiale impak van hierdie faset van herkouerboedery verbeter kan word deur te fokus op beter lewendehawe-produktiwiteit, dieregesondheid en die gebruik van meer arbeid. Die opleiding van boere en die betrokkenheid van vroue by die aktiwiteite van herkouerboerdery moet ook ernstig oorweeg word.
"Die raamwerk wat ek ontwikkel en gebruik het in my studie, kan moontlik toegepas word op ander lae-inset herkouer sisteme in die streek en ook elders in Afrika, om universaliteit daarvan te bepaal" sê dr Marandure.
Meer inligting oor die Nagraadse Program in Volhoubare Landbou aan die Universiteit Stellenbosch:
• Die multidissiplinêre program is in 2014 van stapel gestuur as 'n gesamentlike inisiatief tussen die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, Wageningen Universiteit in Nederland en Conservation South Africa.
• Die MSc-program bestaan uit modules wat oor 'n wye reeks dissiplines strek. Dit sluit landbouwetenskappe, geesteswetenskappe en ekonomie in. Onderwerpe wat betrekking het op die kompleksiteite rondom volhoubare landbou word behandel. Studente pak vrae oor voedselproduksie aan binne die konteks van die lewering van ekosisteemdienste en sosiale billikheid en geregtigheid. Die potensiaal van organiese boerdery, die invloed van die politieke landskap op die landbougemeenskap en hindernisse wat in kleinboere se pad staan word ondersoek. Die eerstejaarmodules sluit in: 'n Inleiding tot sistemiese denke en -kompleksiteit, volhoubare grondbestuur, volhoubare plantproduksie en -beskerming, volhoubare diereproduksie, biometrie, biodiversiteit en ekosisteemdienste in landbougedrewe landskappe, die sosiologie en ekonomie van volhoubare landbou, stelselontleding en die simulasie en ontleding van grondgebruikstelsels. In hul tweede jaar voer studente individuele navorsingsprojekte uit.
• Vir meer inligting, kontak mev. Julia Harper by [email protected].