Skip to main content
Matteus-evangelie hou lesse in oor vergifnis, versoening — Prof Marius Nel

Matteus-evangelie hou lesse in oor vergifnis, versoening — Prof Marius Nel

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
25 Augustus 2023

Prof Marius Nel van die Departement Ou en Nuwe Testament in die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch het Donderdag 24 Augustus 2023 sy intreerede gelewer. Dit was getiteld “Matteus, Jesus en die uitvinding van interpersoonlike vergifnis".

Nel het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor sommige lesse wat Suid-Afrikaners uit die Evangelie van Matteus oor vergifnis en versoening kan leer.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

Ek het nog altyd in die bestudering van die Bybel belanggestel. Ek het my eerste akademiese kommentaar oor 'n Bybelboek gekoop terwyl ek nog op hoërskool was. Ek het gedurende my voorgraadse studie al hoe meer in die Evangelies van die Nuwe Testament begin belangstel en het uiteindelik my doktorale tesis oor die Evangelie van Matteus gedoen. Ek het dit aanvanklik oorweeg om in die sielkunde te spesialiseer, maar nadat ek 'n kursus oor hermeneutiek (Skrifuitlegging) onder leiding van prof Bernard Lategan en nog een oor die Sinoptiese Evangelies by prof Bernard Combrink voltooi het, het ek besluit om eerder in die bestudering van die Nuwe Testament te spesialiseer. 

Hoe sou jy die relevansie van jou werk vir die kerk en samelewing in Suid-Afrika beskryf?

Daar is 'n taamlike oorvleueling tussen die kerk en die samelewing in Suid-Afrika aangesien 'n groot persentasie Suid-Afrikaners as Christene identifiseer. Die Bybel is vir Christene van uiterste belang om God se aard te verstaan en om aan hulle rigting te verskaf in hulle alledaagse lewe. Die Bybel is egter 'n antieke boek wat in 'n wêreld geskryf is wat heeltemal anders was as ons s'n. Om die Bybel verantwoordelik te lees, verg dus 'n deeglike begrip van die konteks waarin dit geskryf is, tesame met 'n grondige kennis van die tale waarin dit geskep is. Daarom is die akademiese bestudering van die Bybel uiters belangrik vir die interpretasie en aanwending daarvan in die Suid-Afrikaanse konteks.

Op grond van jou navorsing, watter lesse hou die Evangelie van Matteus in vir Suid-Afrikaners wat betref vergifnis en versoening?

Matteus herinner ons aan die belangrikheid van interpersoonlike vergifnis waarby die oortreder en die slagoffer betrokke is. Anders as persoonlike vergifnis wat slegs van die slagoffer se bereidwilligheid afhang om te vergewe, of derdeparty-vergifnis wat behels dat iemand 'n persoon vergewe vir hulle oortredings wat teen iemand anders gepleeg is, behels interpersoonlike vergifnis dat ons diegene wat ons seergemaak het, vergewe. Dit is dus 'n bepaalde en moeilike vorm van vergifnis. Dit is egter die enigste soort vergifnis wat die versoening tussen die twee betrokke partye tot gevolg het. In 'n land waar sommiges vergifnis van ander wil hê, maar nie met hulle wil versoen nie, en ander versoening soek sonder om ander te vergewe, het Matteus 'n duidelike klem.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

Goeie kollegas, asook studente wat toegewyd is en alles wat hulle kan, uit hulle studiegeleentheid wil put, maak 'n baie groot verskil in moeilike tye. Ek het ook nog kontak met baie van ons studente wat afgestudeer het. Om te sien hoe hulle hul gemeenskappe dien en om te besin oor hoe ongelooflik hulle sedert hulle eerstejaar gegroei het, motiveer my om aan te hou klas gee en navorsing te doen.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek is kattekruid vir katte.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek het nie vrye tyd nie … maar as ek het, kyk ek graag Duitse speurreekse (Tatort) via die internet.