Skip to main content
Swart Bewussyn kry tweede asem by universiteite

Swart Bewussyn kry tweede asem by universiteite

Alec Basson
14 September 2016

Universiteite is die ruimtes vir die oplewing van die Swart Bewussyn-filosofie omdat studente moeg is vir wat tans in die land gebeur.

Só het prof Barney Pityana, Emeritus Professor in die Regte aan Unisa en ook ʼn genoot van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), op Dinsdag (13 September 2016) gesê. Hy was die spreker by die vierde openbare STIAS-lesing van 2016.

Pityana het gepraat oor die Swart Bewussyn-beweging soos dit ná Steve Biko se dood ontwikkel het, en gesê "die oplewing van Swart Bewussyn gebeur by universiteite omdat studente die gebrek aan vooruitgang aanspreek."

"Op intellektuele vlak het studente genoeg gehad van wat in ons politiek aangaan. Wat tans in die land plaasvind herinner mense aan gebeure in die 1960s en 1970s."

Pityana het gesê gegewe die ernstige gebrek aan leierskap is die herbesinning oor Swart Bewussyn te verstane en self dringend nodig.

"Die ANC het nie die intellektuele raamwerk om Suid-Afrika vorentoe te neem nie."

"Swart Bewussyn is ʼn instrument vir gesprekke om die Suid-Afrika van vandag en dit waaroor ons Grondwet regtig handel te verstaan. Dit is ook ʼn instrument om te erken dat ʼn ongelyke samelewing geen toekoms het nie."

Pityana het gesê Swart Bewussyn kan ʼn impak hê op leierskap en die waardes wat ons nodig het.

"Dit kan ook ʼn denkende samelewing bevorder."

Volgens Pityana was Swart Bewussyn ʼn belangrike instrument vir denke in swart gemeenskappe gedurende die 1960s en 1970s.

"Dit het die vermoë van die swart self om dit van onderdrukking te bevry beklemtoon."

 "Met behulp van Swart Bewussyn kon ʼn teorie van bevryding ontwikkel word."

Pityana het daarop gewys dat die Swart Bewussyn-beweging nie gestig was met die idee om eendag die land te regeer nie.

"Dit was nooit as ʼn alternatiewe politieke party of ʼn program om te regeer bedoel nie."

  • Foto: Prof Barney Pitaya lewer die STIAS-lesing.
  • Fotograaf: Justin Alberts